Kersvader is in 1860 gebore Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 12 December 2016 15:32
Untitled Document

Kersvader, soos ons hom vandag ken, het in 1860 met die Amerikaanse Burgeroorlog vir die eerste keer sy verskyning gemaak. Met dié oorlog het Abraham Lincoln vir ‘n politieke spotprenttekenaar, Thomas Nast, gevra om die Unie-troepe se gemoedere te lig met ietsie snaaks vir Kersfees.


Kersvader gee geskenke aan Unie-troepe in die Amerikaanse Burgeroorlog

Thomas se skepping het verstommend min verander oor die afgelope 156 jaar en het wêreldwyd bekend geraak. Hy het die Duitse verhale van St Nikolaas, die beskermer van kinders, ook bekend as ‘Sankt Nikolaus’ en ‘Weihnachtsmann’, geleen om ‘n Sinterklaas te skep.

In die Middeleeue is baie kerke ter ere van St Nikolaas gebou. Hy het altyd die rooi en wit gewaad van ‘n biskop gedra en het geskenke aan kinders uitgedeel. Tog was hy nie die karikatuur met boepens en baard wat Thomas in 1860 geskep het nie.


Thomas Nast se oorspronklike Burgeroorlog Kersvader-tekening. Die kleiner prentjies wys tipiese 1860 Kersfees-tradisies

Thomas is op 27 September 1840 in Duitsland gebore en het baie Duitse Kersfees-tradisies gebruik in die skep van Kersvader. Sy gesin het na New York geïmmigreer toe hy nog ‘n kind was. Toe hy 15 jaar oud was kon sy ouers nie meer bekostig om hom kunsskool toe te stuur nie en hy moes gaan werk soek. Sy eerste werk was by ‘Leslie’s Illustrated’ en hy het in 1859 vir ‘Harper’s Weekly’ begin teken.


Thomas Nast se tekening van Kersvader met speelgoed onder die arm

Thomas se Kersvader het ‘n kenmerkende blaartjie op die kop gehad

Sy bekendste skepping was dié van Sinterklaas en Thomas se eie kinders en huis in Morristown, New Jersey verskyn in baie van sy tekenings. Dit was Thomas wat Kersvader-legendes, soos die van ‘n speelgoedwerkswinkel in die Noordpool, geskep het. Die soort speelgoed wat hy geteken het is dié wat in die 1860s gewild was, soos speelgoedsoldaatjies, houtdiere, poppe en ‘n jack-in-the-box.

Toe Theodore Roosevelt in 1901 as Amerikaanse president verkies is, het hy Thomas as konsul-generaal in Ecuador aangestel. Thomas is op 7 Desember 1902 daar aan geelkoors oorlede.

 

© 2024 Die/The Bronberger