Met die aanbreek van die eerste Kersdag van die Anglo-Boereoorlog in 1899, was die stryd nog nie drie maande aan die gang nie. Met verskeie vroeë oorwinnings agter die rug, was die Boeremagte vol geesdrif dat die vyand gou reeds verslaan sal word. Op Kersdag was kos volop en die dag is met oorgawe gevier.
‘n Jaar later het sake heeltemal anders gelyk. Teen Kersdag 1900 was konvensionele oorlogvoering iets van die verlede. Veldmaarskalk Roberts se verskroeide aarde-beleid was in werking, Piet Cronjé met 4 000 burgers en ander generaals het die knie voor die Britte gebuig, en kos en lekkernye was baie skaars op kommando.
Generaal Christiaan de Wet
Die Britse troepe is, soos in 1899, oorlaai met skeepsvragte vol kos, Kerslekkernye en drank om die dag met oordadigheid te kan vier en sodoende die moreel hoog te hou. Maar nie almal van hulle kon aan die feestelikhede meedoen nie, want soos die gesegde lui, maak ‘n Boer mos ‘n plan . . .
Met die aanbreek van Kersfees is gelaaide treine ontspoor en hulle vragte gebuit en ossewa-konvooie is in lokvalle gelei. Die Boere het na die Britte se poging om hulle soldate van ‘n ‘happy Christmas’ te voorsien, as ‘Krismis-konvooie’ verwys en gesorg dat menige Tommie met gewone rantsoene en verlange op Kersdag tevrede moes wees.
In 1901 het generaal Christiaan de Wet en sy manskappe daarvoor gesorg dat ‘n groep van 580 Kakiesoldate, wat besig was met die bou van blokhuise in die Vrystaat, droëbek en verslane op Kersdag gesit het.
Die Britse soldate het op Groenkop op die plaas Tweefontein, buite Bethlehem gekampeer toe De Wet en sy burgers om 2 vm op Kersoggend toeslaan. Die generaal het vroeër die dag self die verkenningswerk in aanloop van die aanval gedoen.
Britse soldate besig om voorraad in ’n treintrok te laai
Groenkop is deur die Boere uitgeklim en ‘n baie suksesvolle aanval is geloods. Die geveg het omtrent 20 minute geduur.
Buiten die honderde krygsgevangenes het die buit onder meer bestaan uit twee kanonne, baie gewere en ammunisie, 500 perde en muile en meer as 20 waens met osse. Die waens was swaar gelaai met voorraad bestem vir die Kersdagvieringe wat later sou volg.
Die oorvloed van kos, klere en drank wat buitgemaak en deur De Wet en sy manskappe geniet is, het hulle genoop om die koppie na ‘Krismiskop’ te herdoop. |