Sommige van die Kersliedere wat ons vandag nog sing is baie eeue oud. Een van die eerstes was ‘Jesus refulsit omnium’, wat in die vierde eeu deur St Hilarius van Poitiers gekomponeer is.
In die 12de eeu het St Franciscus van Assisi Kersliedere amptelik in sy kerkdiens ingestel. As ondersteuner van die kunste het hy komponiste en digters geïnspireer om Kersmusiek te skryf.
Tog het die ligter Kersliedjies eers in die Renaissance Italië van die 1400s posgevat. Die eerste Engelse Kerslied is in 1410 deur Ritson geskryf.
St Hilarius van Poitiers
Kersliedere was tussen 1649 en 1660 in Engeland deur Oliver Cromwell verban. Cromwell het geglo het dat Kersfees ‘n besadigde dag moet wees.
Protestante, geïnspireer deur Martin Luther, het egter die Kersliedere saam met hulle geneem toe hulle onder druk van die Katolieke Kerk uit Europa moes vlug. So het hulle die liedere na die nuwe wêreld versprei.
St Franciscus van Assisi
Stille Nag
‘Stille Nag, Heilige Nag’ is seker die bekendste Kerslied van alle tye. Dit is deur ‘n Oostenrykse assistent-priester en digter, Joseph Mohr, geskryf. Hy het die dag voor Kersfees gehoor dat die kerkorrel stukkend was en nie betyds reggemaak kon word nie.
Joseph was so hartseer dat hy dadelik gaan sit het en ‘n lied geskryf het wat deur ‘n koor met kitaarbegeleiding gesing kon word. Franz Gruber het die melodie by die woorde gesit.
So is ‘Stille Nag, Heilige Nag’ die eerste keer in 1818 met die middernag misdiens in die St Nikolaas Kerk in Oberndorf, Oostenryk gehoor. Is dit blote toeval dat dié kerk se naam die St Nikolaas Kerk was?
Joseph Moor, die liriekskrywer van ‘Stille Nag’, links bo, en Franz Gruber, die komponis van die lied, regs, op ‘n herdenkingskaart wat vir die 100-jarige viering van ‘Stille Nag’ gedruk is
|