Geniet ‘n moeitelose Kersete hier PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 12 December 2016 13:28
Untitled Document

Bronbergers wat op Kersdag die samesyn van ‘n Kersete wil geniet, maar dalk dié jaar vir ma en haar hulpkokke ook ‘n moeitelose saamkuier gun, kan dié gids straks nuttig vind. Vreethans het ‘n paar kuierplekke genader om te hoor wat op Kersdag by hulle aangebied word.


Bosveld Lounge, Boschkop
Spitgebraaide heel kruisskyf, skaapboud, ‘gammon’ en hoender met roomaartappels, spinasie, boerpampoen, babawortels en uie. Slaaikeuses is koolslaai, beetslaai en groenslaai en nagereg sal Jan Ellispoeding met roomys en/of koekstruif (‘trifle’) met vla wees. ‘n Broodtafel met ‘n verskeidenheid broodjies, kaas en konfyt kan ook geniet word.

Vreethans sê: “Dis ‘n lekker kuierplek in die oopte, dié Bosveld Lounge. Jy kan binne in die grasdakeetvertrek plaasneem of onder ‘n koelteboom of sambreel in die mooi tuine. Vir die kortvolk is daar baie baljaarplek en selfs ‘n swembadjie. Die selfhelp-kos wat ek en Metgesel op ‘n Sondag aldaar geniet het, was uit die boonste rakke.”

Die Kersete by Bosveld Lodge kos R235 pp.

Die plek is langs die Boschkop-teerpad, onder Kitty Hawk. Vol dranklisensie. Vir meer inligting en bespreking (voor 16 Desember) skakel 083-390-7130 of stuur ‘n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .


Premier Hotel, Cullinan
Hulle noem dit die ‘Groot Ster van Afrika se feestelike Kersete’.

Keuse van verwelkomingsdrankies. Koue gazpacho sopkelkie met ‘n bababroodjie. Vlokkige tertjies met pruimtamatie, basiliekruid en bloukaas. Gerookte salm mousse met salm ree. Baba-biltongsoufflé met gekaramelliseerde uie en rocket-lote. ‘n Verskeidenheid van slaaikeuses.

Skaapboud met mentsous op rys, gebakte hoender op bros aartappelskywe. Gekruide Jacobs-beeshaas met couscous, vars kruie en pepersous. Heuning-geglasuurde ‘gammon’ met appelsous en bruinrys. Groente in seisoen. Tradisionele nageregte.

Vreethans sê: “Die pragtige ou Edwardiaanse hotel is stylvol ingerig en bied altyd ‘n kuierervaring met ouwêreldse elegansie. Veilige en genoegsame parkering is beskikbaar langs Cullinan se Hotelstraat.”
Die Premier Hotel se Kersete kos R300 pp.

Jy kan bespreek by 012-734-1810.


Farm Inn, naby Silver Lakes
Voorgeregte bestaan uit ‘n viskeuse (‘fish mirror’), broodjies met pâté en peri-peri hoenderlewertjies. Vyf slaaisoorte word voorgesit.

Die selfhelphoofgeregte is: Geroosterde kalkoen met vulsel, geroosterde biefstuk met peperwortelsous, geglasuurde ‘gammon’, geroosterde lam met mentsous, kouevleisbord, tradisionele hoenderpastei, macaroni-en-kaas. Stysel is gebakte aartappel en rys met sous. Groentes in seisoen.

Nagereg is: Kerspoeding met brandewynsous en vla, tradisionele koekstruif (‘trifle’), vrugte en roomys, vanillakoek en maalvrugte-pasteitjies.

Die ete word afgerond met kaas-en-beskuitjies en tee of koffie.

Vreethans sê: “Die Farm Inn se Kersetes is die afgelope 30 jaar telkens vol bespreek en voortydige bespreking word aanbeveel. Dis altyd ‘n groot gedoente met baie mense, maar die plek is ruim en die diens goed. Ervaring het ons geleer dat ‘n buffet-ete hier een van knuppel-eet is. Wildkykritte, donkiekarritte en fotosessies saam met jagluiperds kan teen ekstra koste bespreek word. Jy kan ook ‘n Kersontbyt teen R190 pp en R90 vir kinders onder 12 bespreek.”

Farm Inn se Kersete kos R420 pp en R220 vir kinders onder 12.

Besprekings by: 012-809-0266.


Kitty Hawk Klubhuis Restaurant, Boschkop
Geroosterde lam, geroosterde vark en geroosterde hoender is die vleisgeregte. Groentes is blomkool en broccoli, geroosterde seisoengroente, soetwortels en groenbone.

Griekse slaai, noedelslaai, beetslaai en wortel/pynappelslaai. ‘n Nageregkeuse van roomys met sjokoladesous, malvapoeding en vla en brandewynpoeding en vrugteslaai.

Vreethans sê: “Ons kuier en eet oor die jare heen by dié vliegveldplek en dit was deurgaans aangenaam. Jy kan buite onder sambrele plaasneem met ‘n mooi uitsig oor die Boschkoprante agter die aanloopbaan, of in die ruim eetvertrek wat ook die kroeg huisves.

Kitty Hawk se Kersete kos R160 pp en kinders onder ses jaar eet gratis.

Bespreek voor 20 Desember by Wilma: 076-491-2109.


Monument Restaurant, Voortrekker Monument
Die Kersdag buffet-ete begin 11 vm en die laaste gaste verlaat die perseel gewoonlik teen 3.30 nm.
Drie voorsny-vleisgeregte word voorgesit met groentes en slaai om uit te kies. Daar is ook ‘n nagereg buffet met verskillende lekkernye en koffie en tee met kaas en beskuitjies vir agterna.

Vreethans sê: “Ek het dit goed gedink om die Monument Restaurant hier by te voeg vir mense wat van Kersdag ‘n uitstappie na die Voortrekkermonument wil maak, hoewel ons nie onlangs self daar geëet het nie.

Kersete kos R350 pp en R175 vir kinders jonger as 12. Vir voorskoolse kleingoed kos dit R85.

Bespreek by: 012-321-6270/71/73.


Die Boskombuis, Donkerhoek/Kleinfontein
Voorgeregte is Renee se tuna-verassing of geurige hoenderlewertjies. Hoofgeregte is geroosterde beesboud, varknekrol en hoender saam met gebakte aartappels, geurige rys, soetwortels met ertjies en groenboontjies, mengelslaai en beetslaai.

Nagereg is roomys met sjokoladesous of Jan Ellispoeding met vla.

Die buffetete kos R180 pp.

Vreethans sê: “Ons kuiers by die Boskombuis was in die verlede gemaklik en ontspanne. Die plek is letterlik deur bome omring en die lapa gee die gevoel dat jy ver weg van die gewoel af is. Daar is genoeg onderdakplek vir as dit sou reën. Die kos wat vir ons voorgesit is, was tradisioneel en smaaklik.”

Vol dranklisensie. Bespreking is noodsaaklik by: 083-485-2529.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online