Liewe oom en tannie Krismisvader PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 12 December 2016 13:27
Untitled Document

Liewe oom Krismisvader en Tannie,

Dis al weer ekke oom, Daantjie. Oom onthou mos, daai soet Daantjie van Donkerhoek, maar ons het getrek, oom. Oom moenie my pirsente plot toe vat nie oom en moenie vir my ‘n perd bring nie asseblief want ons bly nou oppie dorp oom in Kallienin by die groot gat. My pa sê ons bly nou aan die gatkant van die dorp. Lettitlik en firgierlik, sê hy.

Oom kan ook al weer nie vir my ‘n kwatbaaik bring nie oom, oor ek nou nie plek het om te ry sonner dat die spietkop my sal vang en vir my pa ‘n kaarkie skryf nie. My pa sê dis nie soos ‘n Krismiskaarkie nie dis meer soos die rooikaart van rakbie en dan sê my pa hy wens hy kan vir hierrie hele Springbokspan en vir oom Allaster Koetnotsee en vir die rakbieraat pirmanente rooikaarte gee vir Krismis. Ek het gesê ek sal vir oom vra om saam te bring as oom my pirsente bring.

Dis maklik om te kry waar ons nou bly oom Krismisvader. Ek teken vir oom ‘n patkaart om saam met my brief te pos. Die pos word hier oppie dorp by mense se voordeere afgelaai – regtig oom – maar ook net partykeer as die poskantoor nie al weer staak nie en hulle sal aanhou staak tot hulle die poskantoor en hulle jops onner hulle basse uitgestaak het. So sê my Pa. Hoekom mag ‘n kind gat sê as jy van die myn sinne praat maar nie as jy van mense sinne praat nie, oom?  Myne sal slae kry as ek dit sê. So sê my ma.

Bring hulle oom en tannie se pos ook daar anderkant by die Noordpool of moet die tannie dit by die posbusse gaan haal soos toe ons op die plot gebly het? En ons hoef nie die pomp hier oppie dorp te gaan staart as die water opraak nie, oom. Dit raak sommer vanself hier op en dan moet ons partykeer baie lank wag vir iemand van Megallieswater om die pomp te gaan staart. My pa word baie kwaat. Wat is ‘n vermeutel, oom? My pa sê die statsraat is ‘n vermeutel as hy sê ons moenie met water mors nie want dis baie skaars en dan loop ‘n hele vaaldam se water elke dag by die statsraat se stukkende pype uit.

Oom is seker bly dis nie norig om ‘n swaar perd of ‘n kwatbaaik vir my al die pad te bring oor ek so soet was nie? Oom hoef net vir my ‘n klein ietsie te bring hierrie jaar. My ma sê sy dink oom moet vir my ‘n boek bring maar ek het al een, oom. Ek het ook al ‘n kettie en ek sal weer op myne kry as ek dit hier oppie dorp skiet. So sê my pa. Oom het al vir my ‘n rakbiebal en tokse gebring maar nou sê my pa soos dit gaan met die drentelbokke (ek verstaan nie oom) moet ek liewer krieket speel. My ma sê ‘n mens noem ‘n bat eintlik ‘n kolf en dis al wat oom kan bring oor ek so soet was. My boetie Dolfie vra ‘n kriektbal (‘n rooie) en my baba sussie sal baie van beenskitte (dis wat ’n mens pads noem, sê my ma) hou.

Dankie oom van Daantjie

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online