Drolpeer dra swaar aan sy naam PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 12 December 2016 13:24
Untitled Document

As daar nou een boom is wie se naam verwarring veroorsaak is dit die drolpeer, ook bekend as bruidjie van die bosveld. Dié boom dra nie pere of bruide nie. Hy kry waarskynlik die eerste deel van sy volksnaam van sy vrugte – wanneer hulle afval en op die grond lê lyk dit glo kompleet soos bokmis.

Hulle sê dié boom word ‘n peerboom en bruid genoem oor die massas wit bloeisels wat elke jaar in die vroeë lente, voor hy begin blare kry, verskyn. Die gewone drolpeer, Dombeya rotundifolia, lyk dan soos ‘n mak peerboom, Pyrus communis, in volle blom.

Die peerboom is egter in die roosfamilie (Roseaceae) net soos die perske- en appelkoosboom, terwyl die drolpeer in die Sterculiaceae of sterkastaiing-familie is.

Die naam Dombeya verwys na Joseph Dombey, ‘n Franse botanikus wat van 1742 tot 1793 gelewe het en in Peru en Chili gewerk het. Die naam rotundifolia verwys na die spesie se geronde blare.
Die gewone drolpeer is die volopste boom in die Dombeya groep in Suid-Afrika, maar daar is ook die rots-, pers-, Natal-, rivier-, fluweel- en bosdrolpeer asook die blombos wat in dié groep val.


Die gewone drolpeer
Foto: Wikipedia

Medisyne
Die gewone drolpeer het baie tradisionele gebruike. Een van die bekendste gebruike van sy blomme is as ‘n liefdesdrankie. Sy vrugte word ook saam met pampoenblare gekook om te eet.

Aftreksels van die boom se bas word vir verskeie kwale gebruik, soos ‘n swak hart, hartkloppings, sere aan die ingewande, naarheid in swanger vroue, onreëlmatige menstruasie, maagprobleme, koors en om geboorte aan te bring.

Die wortels word gebruik om koliek, diarree, rumatiek en geslagsiektes te behandel. Sy wortels en bas word as ‘n tonikum gebruik.

Bas
Die bas is donkerbruin, baie rof en kurkagtig in volwasse bome. Dit vorm ‘n beskermende, brand-bestande laag rondom die boomstam. Sterk toue word tradisioneel van die gewone drolpeer se binne-bas gemaak.

Die hout is termiet-bestand en ossewaens is vroeër daarvan gemaak. Omdat die hout swaar en baie sterk is, word dit gebruik as gereedskaphandvatsels, heiningpale en stutpale in myne. Daar kan ook meubels van die hout gemaak word.

Die gewone drolpeer blom van Julie tot September. Sy blomme is gewoonlik wit, maar kan ook pienkerig wees, en word deur kewers bestuif. Die boom lok bye en skoenlappers, en is ‘n belangrike voedingsbron vir baie ander spesies insekte. Vee en wild vreet graag sy blare.


Blomme van naderby
Foto: BT Wursten

Wit
Die blomme bly wit tot die vrug in die middel van elke blom begin vorm. Dan word die blomme bruin en droog. As die ryp vrug van die boom afval, help die uitgedroogde blomblare die vrug om deur die wind verder van die boom af gedra te word.

Die harige vruggie is 6 mm in omtrek. Dit is ‘n semi-ronde kapsule-vormige vrug wat deur die droë blomblaartjies omring word.

Die boom se dik blare is amper rond en is bedek met piepklein steragtige haartjies. Dié soort haartjies is kenmerkend van bome in die sterkastaiing-familie. Elke blaar het vyf tot sewe are wat vanaf die blaarbasis loop en die blaar word aan ‘n harige stingel gedra.

Die gewone drolpeer is ‘n bladwisselende boom wat baie vinnig groei – tussen een en een ‘n halwe meter ‘n jaar. Hy kan tot 10 meter hoog word, maar bereik gewoonlik drie tot ses meter. Die boom het ‘n enkelstam en ‘n effe geronde kroon. In droër gebiede kan hy as ‘n veelstammige boom of struik voorkom.


Vruggies
Foto: Peter R Warren

Groei
Die gewone drolpeer maak ‘n goeie tuinboom omdat hy nie ‘n aggressiewe wortelstelsel het nie. Hy is ook ryp- en droogtebestand.

Dié boom kan in die lente van saad af gegroei word. Gebruik diep saailingbakke en plant die saad in ‘n fyn saailingmengsel wat liggies met sand bedek word. Die saailinge moet in groter houers oorgeplant word as die blare begin vorm. Plant dit met ‘n 3:1 mengsel van sand en kompos en beskerm die plantjies aanvanklik teen hitte en die son.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online