Stert-verloor is nie sonder gevolge nie Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 12 December 2016 15:23
Untitled Document

‘n Akkedis kan sy stert afstaan om sy lewe te red, maar moenie dink dat dié stert-verloordery sonder gevolge is nie.

Stertlose ontsnapping vanaf roofdiere is so doeltreffend dat sekere soorte akkedisse se sterte helderder as die res van die lyf gekleur is. Dit vestig glo aanvallers se aandag op dié minder kwesbare gedeelte.

Die afgegooide stert wriemel en wikkel heen en weer, wat roofdiere se aandag van die voortvlugtende akkedis aftrek. Dit vat ‘n paar weke vir die akkedis om ‘n nuwe stert te groei. ‘n Studie in 2014 het 326 gene geïdentifiseer wat by die regenerasie van ‘n akkedis se stert betrokke is. Die nuwe stert sal kraakbeen in plaas van been bevat en die vel kan duidelik van die res van die lyf se kleur verskil.

Tog verloor akkedisse baie van hulle liggaamsvet saam met die stert, waar die vet gestoor word. ‘n Akkedis kan van honger omkom as kos skaars is nadat hy sy stert verloor het. Die stert is ook nodig om balans te behou wanneer die akkedis klim en hardloop.


Die gladde akkedis lê nie eiers nie, maar gee geboorte aan lewendige werpsels
Foto: SANBI

Soorte
Moenie dink dat dit wat jy as ‘akkedis’ leer ken het die enigste soort is wat bestaan nie. Akkedisse is die grootste groep van alle reptiele met meer as 5 000 soorte. Van die bekende families akkedisse is: iguanas, likkewane, geitjies, verkleurmannetjies, koggelmanders, pootlose akkedisse, skinke (gladde akkedis), gordel-akkedisse en pantser-akkedisse.

Akkedisse behoort saam met slange aan die Squamata orde van skubreptiele. Dié reptiele het in die Trias-tydperk ontstaan en slange het daarna in die Kryt-tydperk uit ’n groep akkedisse ontstaan.

Slange behoort dus evolusionêr gesproke tot die akkedisse, maar word vanweë hulle lewenswyse en fisiologie nie as akkedisse beskou nie.


Die nuwe stert se kleur is anders as die res van die lyf
Foto: SANBI

Die meeste akkedisse het ‘n plat liggaam met ‘n duidelik onderskeibare kop, stert en vier goed ontwikkelde pote. Tog het ’n paar groepe ‘n silindriese liggaam met oorblyfsels van vroeëre pote.

Sommiges het slegs voorpote, en ander is totaal pootloos.

Die lewenswyse van dié verskillende soorte akkedisse is hoogs gespesialiseerd. Geitjies is gewoonlik in die nag aktief en leef in bome, terwyl gladde akkedisse bedags aktief is en op die grond lewe. Daar is uitsonderings, soos klimmende egte akkedisse en daglewende geitjies.


‘n Akkedis wat deur ’n fiskaallaksman aan ’n koorsboom gehang is.
Foto: Wikipedia

Skink
Dit wat meestal in ons gebied akkedisse genoem word is glo die Kaapse skink of gladde akkedis. Hy is 16 tot 20 cm lank met ‘n stomp kop. Sy lyf is taankleurig, swart en roomkleurig gespikkel en hy het ‘n gelerige pens. Daar is drie ligte strepe van die agterkop tot by die stert.

Dié akkedisse is meestal karnivore en vreet gewoonlik insekte, kewers en sprinkane, maar dié wat mak in huise bly kan rofweg 60% groente, blare en vrugte vreet en 40% vleis. Hulle kan mak genoeg word om uit ‘n mens se hand te vreet en sulke huis-akkedisse neig om oorgewig te word.

Hulle is belangrik vir die mens omdat hulle plaagdiere, soos kakkerlakke en huiskrieke, vreet.


Akkedisse is koudbloedig en sit graag in die son om warm te word
Foto: Ernest Porter

Tonge
Gladde akkedisse gebruik hulle tonge om in die lug te ‘snuif’ en hulle prooi op te spoor. Hulle kan baie vinnig beweeg en jaag die prooi gewoonlik tot dit in ‘n hoek vasgekeer word en sluk dit dan heel in. Hulle natuurlike vyande is slange, fiskaallaksmanne, valke en sperwers.

Dié akkedisse is koudbloedig en lê graag in die son om warm te word. Hulle grou gewoonlik ‘n smal tonneltjie aan die voet van ‘n rots of boom om in te skuil.

Die Kaapse skink of gladde akkedis lê nie eiers nie, maar gee geboorte aan lewendige werpsels van omtrent ‘n dosyn kleintjies.


Daar is drie ligte strepe van die agterkop tot by die stert
Foto: Wikipedia

 

© 2024 Die/The Bronberger