Lekker bonus: Waar is dit heen? PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Monday, 12 December 2016 13:21
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton


Lianie O’Neill

Januarie 2016 is deurgeskuur, Februarie was ons amper voor, Maart het ons begin asem skep en, daarsy, April begin ons reeds beplan hoe ons Desember se Krismis-bonus gaan spandeer. 

Ons maak somme en planne en koop die heeljaar met die oë. Uiteindelik breek 15 Desember aan en met groot verwagting word die salarisstrokie oopgeskeur. Woeps! Weg! Een groot hap uit daardie bonus. Net so. Belasting vreet mos aan alles soos ‘n groot, vet muis.

Hoe werk die som dan? Is daar moontlik iets wat ’n mens kan doen om daardie hele bonus jaarliks te spandeer?

Som
Kom ons gestel jou maandelikse salaris is R6 250 en jy is jonger as 65. Dan betaal jy nog nie maandeliks belasting nie. Indien jy ‘n bonus van dieselfde bedrag in Desember ontvang, beteken dit dat jou jaarlikse inkomste vanaf R75 000 na R81 250 verhoog.

Die belasting-implikasie teen ‘n 18% koers is ‘n volle R1 125. Dus is daar net R5 125 oor om te spandeer. Dit is genoeg om enige ou se moed tot in sy skoene te laat sak.

Doen
Is daar enige iets wat jy hieraan kan doen? Indien jou werkgewer se salaris-afdeling daarvoor te vinde is, kan jy vra dat ‘n vrywilliglike oor-aftrekking (‘voluntary over deduction’) op die maandelikse belasting gedoen word. In so ’n geval sal die ekstra maandelikse belasting R93.75 (R1 125 gedeel deur 12) wees. 

Ander
Onthou asseblief dat dié geval ook voorkom indien jy inkomste uit meer as een bron ontvang en afsonderlik op elk belas word. Die aparte inkomste op elke IRP5 word teen ‘n sekere koers reg belas.

Op die jaarlikse belastingberekening word dit bymekaar getel en skielik moet jy ‘n inbetaling doen.

Dieselfde kan gebeur wanneer jy interim bonus-betalings asook oortyd ontvang.

Al ons hardverdiende geldjies . . . vieslike, groot, vet belasting muis

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online