Die ding in die kerkhof PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Monday, 12 December 2016 13:20
Untitled Document

Hierdie is nie sommer net ‘n storie nie, sê Roy Steyn. “Ek was self daar en het die spook self gesien. Om die waarheid sê, ek het hom self gevoel.”

Roy Steyn

My storie begin by ‘n film wat vier van ons standerd agt manne destyds saam gaan kyk het. Dit het oor ‘n verlate kasteel iewers in Skotland gegaan en was nogal ‘n heel grillerige storie.

Toe die fliek uitkom was dit al sterk skemer en die vier van ons is vinnig huis toe. So half holrug en omkyk-omkyk. Ons het almal naby aan mekaar gebly, so ons kon lekker spog dat ons nie een maal in die fliek enigsins bang was nie.

Naderhand het ons begin sê ons was so min bang dat ons maklik middernag deur die kerkhof sal loop. Die uiteinde was dat ons mekaar gedaag het om daar en dan ons stap deur die begraafplaas te gaan stap.

Ons moes by Troffel van Rooy se huis verbystap en daar staan hy in die tuin. Troffel besluit om saam te loop, want hy glo nie aan spoke nie. Hy wou net eers vir Sonnyboy, sy Labrador, die huis invat en sal ons op sy fiets inhaal.

Daar gekom is ons almal deur die hek en het so tussen die grafte begin aanstap. Nou was daar nie meer ‘n gepratery nie; elkeen was besig met sy eie spook en daar was nie ‘n lus om na iemand anders se stories te luister nie.

Troffel het ons toe wel ingehaal en hy het net agter my geloop. Sy fiets het hy gestoot. Jy kon net ons voetstappe hoor, verder was dit doodstil.

Skielik hoor ek vir Troffel na sy asem snak en toe klink dit amper of hy stik. Ek het omgedraai om te sien wat met hom aangaan, maar toe ek die uitdrukking op sy gesig sien weet ek daar is probleme. Hy het steeds sy fiets in die een hand vasgehou, maar met die ander hand het hy beduie.

Die bloed het in my hare gestol. Daar, tussen die grafte in die donker het ‘n wit gedaante reguit op ons afgestorm. Sulke hoë spronge gemaak, dan hierdie kant toe en dan weer daardie kant toe, maar deurentyd in ons rigting in.

Toe ek omdraai om vir Troffel te sê ek dink ons moet maak dat ons by die hek kom, moes ek uitvind dat die kêrel reeds halfpad draad toe is, ver van die hek af. Al stotende langs sy fiets. Ek is toe maar agterna en Eier Gouws en die res is weer agter my aan.

Troffel het sy fiets gegryp en die ding met geweld oor die draad gesmyt. Nooit geweet jy kan ‘n fiets so ver gooi nie. Troffel self het tussen die doringdrade deur gevlieg asof hulle nie bestaan nie. Ons ook. Met ‘n paar geskeurde broeke en hemde as resultaat.

Die fiksste of die bangste het die voortou geneem met die ander outjies so op ‘n streep agterna. Die klomp van ons is almal by Troffel-hulle se agterdeur in en het bleek en verbouereerd by die groot ou kombuistafel gestaan. Nie een kon ‘n woord uitkry nie.

Net toe ek voel my asem wil begin terugkom, hoor ons so ‘n ligte gekrap by die agterdeur. Kieste Combrink se oë het groot gerek: “O hel, nou wil hy die huis inkom!”

Toe kom daar nog ‘n geluid by. Amper iets soos ‘n klein hondjie wat na sy ma roep. Troffel bars uit van die lag: ‘Dis ou Sonnyboy; dis ons spook! Ek het die heeltyd nog gedink dit is miskien die ou skelm’.

Ons het begin koffie maak en het mekaar gespot en gelag. En toe vra Eier Gouws vir Troffel hoekom hy dan so vinnig padgegee het as hy seker was dit was ou Sonnyboy. Hoekom het hy sy fiets al die pad gestoot, want ‘n mens kan tog seker ‘n fiets vinniger ry as wat jy hom kan stoot.

Troffel het so met sy toon teen die vloer geskop-skop en gesê: Natuurlik is dit vinniger om die ding te ry, maar ek was haastig en daar was nie tyd om op te klim nie.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online