PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 22 November 2016 15:34
Untitled Document

‘n Toevallige herontmoeting het vir ‘n hartroerende toneel gesorg met die Tierpoort Seniors se November-byeenkoms.

Ná 36 jaar kon André en Doreen Fourie van Tierpoort uiteindelik dankie sê aan ’n suster van die destydse Moedersbond, wat besef het dat hulle vroeggebore baba wat reeds dood verklaar is, nog gelewe het.

Doreen en haar man André het destyds, na verskeie miskrame, uiteindelik uitgesien na ‘n babadogtertjie se koms. In Desember 1980 is die baba te vroeg gebore – op 27 weke. Doreen onthou hoe die verpleegpersoneel die vroeggebore baba in ‘n nierbakkie geplaas het om weg te neem. Die suster aan diens het die nierbakkie geneem, maar met ‘n skok ontdek dat die baba nog lewend is, en het onmiddellik opgetree.


Annetjie Pienaar, Doreen en André Fourie

Vandag is daardie einste baba ‘n suksesvolle jong vrou. Madelein van Zyl is as regsekretaresse gekwalifiseer, getroud en het twee pragtige kinders. André en Doreen is ook daarna geseën met ‘n seun wat ‘n voltermyn baba was.

Terwyl Doreen die ongelooflike verhaal by die Seniors se byeenkoms vertel het, was daar ‘n omstander wat dit toevallig gehoor het. Sy het die storie herken en onthou.

Dit was niemand anders nie as Annatjie Pienaar, wat destyds as kraamsuster by die Ou Moedersbond gewerk het. Sy het onmiddellik met die baba in die nierbakkie uitgehardloop vir verdere mediese sorg.

Marietjie Alers, ’n vrywilliger by dié byeenkomste, sê dit was hartroerend om dié drie se emosies te beleef en ‘n voorreg dat al die seniors dit met hulle kon deel.

“Glo my, daar was nie een droë oog nie.”

 

© 2019 Die/The Bronberger