Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.
Ons het ‘n hele aantal jare gelede bewus geraak van Anja en haar teetuin toe sy in die Bronnie geadverteer het. Intussen het ‘Anja’s Tea Garden’ ‘n paar keer van perseel verwissel en was dit oor die jare sporadies ons plan om tog op ‘n dag daar te loop draai.
En die dag breek onlangs op een snikhete Saterdag aan. Ek en Metgesel en Vriend en Vriend se persoonlike metgesel golf saam met die hitte by die mooi Zwavelpoortse plotplek in, wat deesdae vir Anja en haar kuierplek huisves.
‘n Baie billike biefburger
Sommer met die intrapslag is ons verstom-beïndruk: Dis netjies, dis oop en dis mooi. Ons neem plaas by ‘n tafel op die punt van die baie groot, winkelhaak kuierstoep. ‘n Strelende windjie spoel met reëlmaat oor die wye stoep heen – die hetige son te versmaai.
Oral op die groot groen grasperk is kuiergroepies onder sambrele, afdakke en koeltebome gesellig besig met hulle eie private funksies. Anja self en ‘n span kelners rooimier met skinkborde oor die grasperk tussen die grasperkmense en die kombuis heen en weer.
Anja het ons met die aankomslag verwelkom en ‘n paar woorde gewissel. Ek vermoed die kelnerspan het dit gesien en gedink ons het reeds iets by haar bestel. Ons wag. En ons wag. Ons is dors en ons word dorser. Ek probeer tussendeur die aandag van iemand trek en genadiglik daag ‘n kelnerin met die naam van Mercy eindelik op. Ek vertaal haar naam vry en vir die res van ons aangename kuiertyd aldaar, was Genade vriendelik, flink, doeltreffend en behulpsaam.
Anja’s se winkelhaakstoep
Die dorslesgoed op Anja se spyskaart is, soos die restant van die disse en lekkernye daarop, allermins alledaags. “Today’s lemonade” wat ek bestel, is tuisgebou en heerlik. Snysels suurlemoen is in die ysblokkies vasgevries. Verfrissend lekker. Vriend en sy metgesel se “ginger beer” het dergelike ysblokkies in en is volgens hulle ewe heerlik. Metgesel drink, die hitte ten spyt, “coffee” en as gesoute koffiekenner dra dit haar goedkeuring weg.
Die kuierstoep en tuinkuierplekke was dié dag gepak met gaste, maar soos Vriend tereg opmerk, voel ‘n mens jou nie ‘ingedruk’ en ‘vasgekeer’ nie. Die aansitplekke is ver genoeg van mekaar af om jou eenkant van, dog midde-in die geselligheid te bevind. Die enigste Engels wat ek terloops op dié dag by Anja se ‘tea garden’ gehoor het, is deur die kelners en spyskaart gepraat.
Die ‘menu’ wyk vlugtig van sy taalbeleid by een ontbytinskrywing af en bied jou ‘n ‘breakfast pannetjie’ aan. Jy kry Swartwoudham, roereier, sampioene, pecorino-kaas en tamatie saam met kaasbrood.
“Baie lekker,” sê die ‘menu’ so ewe. Teen R68 is dit die duurste beskikbare ontbyt.
‘n Snoepgeregbord met kouevleis vir ‘n warm dag
‘n Quiche met spek, sampioene en fetakaas kos R65. Jy kan ook croissant met kaas en konfyt teen R40, of gevul met ham en allerlei en dan gebak teen R68 bestel. Die ligte ontbyt met roereier, ham en songedroogde tamaties op kaasbrood teen R40 en die tuisgebakte kaasbrood met gerookte bief, roomkaas en slaai, is nog twee keuses. Sou jy verkies, kan jy die kaasbrood met ‘n ‘banting’ alternatief vervang.
Dit gebeur selde of ooit dat ek en Metgesel dieselfde keuse van die spyskaart af maak, maar vandag is só ‘n seldsame dag. Ons besluit op die ‘chicken pie’ en kry elk drie kleinerige pasteitjies wat Anja se spyskaart ‘three little cuties’ noem. Dit word bedien saam met ‘n baie billike porsie slaai en weeg in teen R68.
Die ‘oulike’ pasteie is deeglik met hoender gevul en erg vullend, al staan dit onder die hofie wat ‘light meals’ sê. Ek is bly oor die bakkie blatjang, want ek vind die ‘cuties’ effe droog, maar volgens Metgesel is hulle ‘net reg’.
Groepkuier op die grasperk
Metgesel van Vriend bestel die beesburger met gesmelte mozzarellakaas, dill-komkommer, songedroogde tamatie en avokadopeer. Volgens haar is die broodjie uit die boonste rakke en ek kan saamstem dat die tuisgemaakte burgerfrikkadel verby vorentoe smaak, want sy staan ‘n proelopie aan my af. Lekker los, suiwer en baie geurig is die frikkadel. Die burger kos ook R68 en ‘n weergawe vir ‘banters’ met geroosterde botterskorsie, is ook beskikbaar.
Vriend besluit op die ‘snack platter’ met, onder meer, kouevleise, brie-kaas, groenvy-preserv, en ciabatta-brood. Hy sê warm dae vereenselwig hy van kindsbeen af met kouevleis en slaai en Vriend vind die swartwoudham, gerookte bief en beesvleis-salami vertroostend lekker, hoewel hy sy ma se aartappelslaai mis. Die snoepgeregbord kos R95.
Ander ‘ligte etes’ sluit quiche- en soutkaaskoek-keuses, sop-van-die-dag en oop ‘banting-broodjies’ met slaai in.
‘Oulike’ hoenderpasteitjies en slaai
Soos ‘n mens van ‘n goeie teetuin sal verwag bied Anja ‘n verskeidenheid koeke, terte en botterbroodjies saam met ‘n wye keuse van koffie- tee- en ligte drankies aan. Die aarbei melkskommel wat Vriend se metgesel geniet, het egte aarbeie daarby ingeskommel, wat haar eindeloos beïndruk.
Ons neem elk die helfte van ‘n dekadente sjokoladekoek huis toe en persoonlik kan ek nie juis ‘n lekkerder een in die geheue oproep nie.
Ons het gesellig gekuier (jy is welkom om jou eie wyntjie saam te bring) en baie bevredigend geëet by Anja se mooi teetuinplek.
Jy kan haar bel by 072-153-6732. |