Raaisel omhul Dooiemans-loop PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 22 November 2016 15:32
Untitled Document

Dooiemans-loop is die naam van ‘n klein spruitjie in Faerie Glen. Dié spruitjie loop uit in ‘n kuil, genaamd Dooiemans-poel. Mense wonder al jare waar dié vreemde naam vandaan kom.

Die antwoord op dié raaisel staan op ‘n grafsteen in die ou begraafplaas in Kerkstraat-wes. Tog, as ‘n mens nie presies weet hoe die spruitjie loop nie, sou jy nie die grafsteen met die plek in Faerie Glen kon verbind nie.

Dooiemans-loop is ‘n syvertakking van die Tweefonteinspruit, wat op die plaas Tweefontein in die omgewing van Olympus en Shere ontstaan. Tweefonteinspruit sluit in die Lynnwoodrif-omgewing by die Moreletaspruit aan.


Die grafsteen van James William MacIntosh

Moreletaspruit se vorige naam in dié gebied was glo Strydomspruit. Is die spruit na
Johannes Gerhardus (Hans) Strijdom vernoem, soos die pad met dieselfde naam? Hans was immers vir ‘n ruk in Pretoria waar hy ‘n pos in die staatsdiens beklee het.

Die kanse is skraal, omdat Hans eers op 14 Julie 1893 gebore is. Die man waarna Dooiemans-loop vernoem is, is reeds in 1886 dood.

Die grafsteen in die Kerkstraatse begraafplaas lees: James William MacIntosh, verdrink toe hy in die Strydomspruit naby Pretoria, Transvaal geswem het, 18 Januarie 1886, in die ouderdom van 30 jaar.

Ons kon nie op rekords vir ‘n James William MacIntosh wat verdrink het, afkom nie. MacIntosh is egter een van die name van ‘n regsfirma wat in 1882 in Pretoria gestig is. Die firma MacIntosh en Kennerley het tot 1913 bestaan toe Kennerley uitgetree het.


Die ligging van Dooiemans-loop

James MacIntosh het sy seun, William Ross MacIntosh, en GN Cross op 1 Januarie 1917 as vennote ingeneem. Hy is in 1927 oorlede en Reginald Arthur Farquharson het sy plek in 1929 ingeneem. Dié firma bestaan vandag nog as Macintosh Cross en Farquharson.

Kon die James wat verdrink het die prokureur James se ander seun gewees het?

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online