Oor varkhase en kotelette PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 22 November 2016 15:32
Untitled Document

Hy hoor anderdag op ‘n braaiprogram oor die beeldradio weer een van Afrikaans se pragtige, vergete woorde, sê Gert Mossie, en hy wonder so by homsigselwers hoekom sy mooi taal deesdae so verarm word.

Een van die deelnemers aan die braaiprogram sê so ewe dat die ‘kotelette’ vir haar baie lekker is. “Kotelette,” sê Gert. “Hoor net hoe lekker val dit op die oor. Dit laat die indringerwoordjie, ‘tjops’, skoon klink soos ‘n minderwaardige karmenaadjie wat uit die pan uit voeter en op die vloer beland.”

“Gmf, ja,” mompel Groot Piet in die hoek. “Julle taalbulle wat so voor die TV boer . . . Jy wil seker hê hulle moet daai rakbieprogram, Toks en Tjops, eerder Rugbystewels en Kotelette noem, nè? Dit word mos deur ou Kotelet van der Linde aangebied,” sê Piet. 

En terwyl hulle nou so oor vleis praat, sê Gert Mossie, wonder hy wanneer en hoekom ‘n lekker snit biefstuk verwater is sodat dit ‘n ou stukkie ‘steak’ geword het. Gee hom eerder ‘n lekker kruisskyf of ‘n lendeskyf of ‘n murgsagte beeshaas, voor jy ‘n ‘sirloin’ of ‘n ‘fillet’ of ‘n ‘rump’ voor hom neerplak, sê Gert.

In sy skooldae, sê Groot Piet, was ‘n ‘skyf ’ iets wat jy skelm met grootspeeltyd agter die pawiljoen getrek het en ‘n ‘stuk’ was iemand wat jy op ‘n ‘date’ ‘bioscope’ toe gevat het, of as dit ‘n baie mooi ‘stuk’ was het jy maar net oor haar gedroom.

Wat hy nou graag by Gert Mossie sal wil weet, sê Piet, is wat jy dan met daai ‘beeshaas’ maak as die ‘fillet’ nie aan ‘n bees sit nie? Moet ‘n mens praat van ‘n varkbeeshaas of ‘n skaapbeeshaas of dalk ‘n haasbeesskaap en beeshaasvark? Hy dink ‘n ou moet dit sommer ‘n skaaphaas en ‘n varkhaas noem, sê Piet, en moenie van ‘n volstruishaas en ‘n hoenderhaas vergeet nie.

Gert Mossie laat hom nie deur Piet se twakpraatjies van stryk af bring nie. Hy wonder verdermeer, sê Gert, hoe lank dit gaan vat vir woorde soos ‘awesome’ en ‘stunning’ om hulle vieslike verskyning in Afrikaanse woordeboeke te maak. Om by die uitspraak van vandag te pas, sou dit seker ‘stannieng’ en ‘ôsum’ wees.

Hy bevind hom anderdag op ‘n kinderpartytjie toe ‘n knapie, waarskynlik opgesaal met ‘n naam soos Kyle Koekemoer of Damienne van der Merwe, teen ‘n vet spoed met een van daardie skop-en-raas-fietsies in ‘n tuinpaadjie van sement afgesuiker kom, sê Gert.

Hy dog eers die stomme kind moet rasend van die honger wees, want so ver hy voort skop-en-raas, skop-en-raas in die paadjie af, gil die kannetjie ten hemele: “Paw-paw, paw-paw, paw-paaw!!!” Dit blyk toe, sê Gert, dat die seuntjie bloot sy afsydige pa se aandag probeer vestig op hoe oulik hy wat seuntjie is, in die tuinpaadjie kan afraas.

En jy, sê Groot Piet, wou seker hê hy moes ‘Papaja, Papaja!’ geroep het, nè?

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online