Die doodgelukkige paartjie PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Tuesday, 22 November 2016 15:25
Untitled Document

‘n Wyle gelede het een van ons lesers in ‘n brief gevra vir spookstories. “Nou hoop ek net die man kry sy Bronberger hierdie maand, want ek het ‘n spookstorie vir hom,” sê Roy Steyn.

Roy Steyn

Ek was op pad na Nelspruit en het gevoel asof die hele wêreld vir my glimlag. Ons maatskappy was besig om ‘n kontrak met ‘n firma in Nelspruit te sluit en ons het op ‘n golf van voorspoed gery.

En toe vang my oog die hittemeter se naald. Heel bo aan sy verhemelte vasgeslaan. Die kar was op kookpunt verby. Dadelik afgetrek en toe ek uitklim slaan die stoomwolke onder die enjinkap uit.

Ek het toe maar langs die pad gaan staan en ‘n geleentheid gebedel na die hotel waarby ek so ‘n ent terug verby gery het. Die hotel was klein, maar smaakvol. Alles netjies en op sy plek. Ek het gaan vra of daar oornagplek vir my was. Daar was.

Daardie aand was daar net ek en ‘n ander oubaas met so ‘n wilde bos baard aan tafel. Ek het gegroet, maar die kêrel het net so ‘n halwe kopknik gegee en aangegaan met sy ete. Glad nie lus gelyk om te gesels nie.

Ek het toe later agtergekom die man is ‘n rou Engelsman. Hulle praat mos nie eintlik met iemand as hulle nog nie formeel aan mekaar voorgestel is nie.

Ek was al omtrent halfpad deur my bord kos toe sien ek daar sit nog ’n paartjie aan tafel in die verste hoek van die eetsaal. Moes seker ingekom het terwyl ek anderpad gekyk het. Hulle was ooglopend verlief; ek het geraai hulle was op hulle wittebrood. Hulle het meer handjies vasgehou as wat hulle geëet het.

Ná ete het ek op die stoep gaan sit en merk dat die twee duifies wat ek in die eetsaal gesien het, met die paadjie afgestap kom. Reg voor my het hulle gaan staan. Hy het haar na hom toe gedraai en innig begin soen. Baie duidelik was hulle nie van my teenwoordigheid bewus nie. Ek het ongemaklik begin voel en so ‘n ligte kuggie gegee.

Die twee het mekaar vinnig gelos en na my kant toe gekyk en toe begin lag. Hulle het van my af weggedraai en hand aan hand met die paadjie begin wegstap. Ek kon hoor hoe hulle saggies lag. Ek het hulle nog so agterna gekyk en toe raak hulle weg. Natuurlik kon hulle nie regtig wegraak nie, maar dit het so gelyk soos wat hulle die donkerte ingestap het.

Die volgende oggend was ek eerste aan die ontbyttafel. Na ete het ek vir my rekening gevra en toe vra ek vir die dametjie agter die toonbank of die paartjie gisteraand in die hotel oornag het en sy het my vraend aangekyk.

“Paartjie, meneer? Hier was nie ‘n paartjie gewees nie. Daar was net u en mister Johnson gewees. Hy is nog hier, maar kom eet altyd heelwat later.”

Ek wou nie met haar stry nie en het maar my tassie gevat en uitgestap. By die voordeur het die bestuurder my kom groet en verneem of alles na my smaak was. Ek het hom verseker alles was reg en toe vra hy my: “So, jy het die tweetjies ook gesien? Hulle wys hulle self nie sommer aan almal nie.

Ek is nou al vyf jaar bestuurder hier en het hulle nog net vier maal gesien.”

Ek was so half uit die veld geslaan en moes net meer hoor van die tweetjies. Dit blyk toe dat hulle storie al sedert die Anglo-Boere-oorlog dateer, toe die hotel as hospitaal gedien het. Hy was ‘n Engelse offisier en sy was ‘n boeremeisie wat in die hospitaaltjie gewerk het. Die Engelsman het begin vlerksleep en die twee het dolverlief geraak.

Op ’n dag was daar ‘n skermutseling in die omgewing met net een ongeval – die Engelse offisier. Sy moes nog sy lyk regmaak vir die begrafnis en toe sy klaar is, is sy na die konsentrasiekamp gestuur waar sy ná twee maande ook dood is.

Die mense wat saam met haar was sê hulle dink dit was van ‘n gebreekte hart. Sy wou net nie meer leef nie.

Nee, ek sê niks nie. Ek probeer nie eens ‘n verklaring soek nie, maar wie weet, miskien is die twee nie baie tyd hier ondermaans gegun nie, maar toe ek hulle destyds gesien het was hulle al ruim 80 jaar saam. En ooglopend baie gelukkig saam.

Ek wou sê ‘doodgelukkig’, maar dit het net te grillerig geklink.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online