Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 22 November 2016 17:20
Untitled Document

Wegkruipertjie, reënvoël, babavanger, bottel-voël . . . die gewone vleiloerie is ‘n voël van vele name in die volksmond.

Mense wat sy gewoontes ken, noem hom die babavanger omdat hy klein voëltjies uit nessies vang en opvreet. Daar is al gesien dat hy voëls so groot soos duiwe sal vang, maar hy hou gewoonlik by kleiner voëls, insekte, paddas, akkedisse, verkleurmannetjies, klein soogdiere en slakke.

Omdat daar geglo word dat hy net voor of net na reën roep, noem die Xhosas hom ‘uBikwe’, wat reënvoël beteken. Hy word die wegkruipertjie genoem omdat dit so moeilik is om hom te sien waar hy agter takke in bome skuil. In Engels word hy soms die duck-and-diver genoem omdat hy wegduik agter takke as hy sien mense kyk na hom.

Mense verwys ook na hom as die bottel-voël oor sy roep: ‘n reeks van 17 borrelende ‘doe-doe-doe’ note met dalende toonhoogte, wat weer styg aan die einde van die frase. Dit klink kompleet soos water wat uit ‘n bottel getap word. Dié is ‘n bekende geluid en selfs mense wat hom nog nooit gewaar het nie, sal sy roep dadelik herken.


Die gewone vleiloerie
Foto: Wikipedia

Groot
Die gewone vleiloerie, Centropus burchelli, is ‘n groot voël van 40-41 cm met ‘n swaar stert en kragtige snawel. Die snawel, bene en pote is swart of donkergrys. Aan sy poot strek die tone vorentoe en agtertoe en daar is ‘n baie lang, reguit klou aan die binnekantste toon.

Die bokant van sy kop en agterkant van sy nek is swart, terwyl sy rug en vlerke ‘n ryk rooibruin kleur is. Sy stert is lank, wyd en swart, en sy onderste dele is wit met fyn strepies aan sy flanke en stertgedeelte.

Vleiloeries beweeg in pare of alleen. Hulle broei van September tot Februarie en maak ‘n groot slordige nes van gras en takkies in ‘n boom, tussen ‘n halwe- en een meter van die grond af.

Daar is gewoonlik vier wit eiers en altwee ouers help om die eiers uit te broei, ‘n proses wat 14 tot 18 dae neem. Die kuikens word vir die volgende drie weke deur die ouers gevoer.

 

© 2024 Die/The Bronberger