Befaamde stoeiers stig klub op Cullinan PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 22 November 2016 15:18
Untitled Document

Cullinan het ‘n splinternuwe stoeiklub. Die Cullinan Tuks amateur stoeiklub, wat by die sportsentrum sy tuiste vind, is in Oktober deur Japie Labuschagne gestig.

Die Labuschagnies woon sedert 1976 in Rayton. Japie se pa, Andries, en ma, Chrissie, het die eerste stoeiklub op Rayton in 1981 in die gemeenskapsaal begin. Japie en sy broer Bennie het saamgespan om dié klub weer as ’n satellietklub van Tuks Stoeiklub in Cullinan te open.


Die demonstrasie-stoei met Japie Labuschagne in blou en Bennie Labuschagne in rooi. Bennie is ondervoorsitter van Tuks se stoeiklub en Japie is die stigter en hoofafrigter van Cullinan se klub

Japie stoei al van 1978 toe hy vier jaar oud was. Hy het sy eerste Noord Transvaal-klere in 1983 gekry en het dit daarna elke jaar ontvang. In matriek het hy sy SA skole-klere gekry en Junior SA-klere die jaar daarna. Hy het ook ’n afrigter-medalje van SA kampioene in matriek gekry en het as ‘n vlak drie provinsiale afrigter gekwalifiseer.

Bennie is die ondervoorsitter van Tuks Stoeiklub en het 32 SA titels ingepalm. Hy was ’n Springbok van 1992-2004, het in 1992 aan die Barcelona Olimpiese Spele deelgeneem en was vier keer Afrika Kampioen. Hy het ’n reeks medaljes in wêreldwye kampioenskappe gewen, het aan die Statebondspele deelgeneem en was gekies as een van vyf Stoeiers van die Millennium.


Kinders wat by die stoeiklub oefen

Die Cullinan-klub het sewe hulp-afrigters en Tuks het onderneem om van tyd tot tyd gekwalifiseerde afrigters te stuur. Klublede tussen die ouderdomme van vier en 27 jaar stoei elke Dinsdag- en Donderdagaand.

Vir navrae bel Japie by 076-347-2380 of stuur ‘n e-pos aan Hanna Labuschagne: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2019 Die/The Bronberger