Matriekmeisie se droom word waar PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 22 November 2016 15:14
Untitled Document

‘n Matriekmeisie van Cullinan Gekombineerde Skool se droom het waar geword. Mbali Ncube het haar ouers nege jaar gelede in ‘n motorongeluk verloor en sy sou nie vanjaar haar matriekafskeid kon bekostig nie.

Twee van haar jonger sussies is ná haar ouers se dood in ‘n kinderhuis geplaas, maar volgens die stelsel was sy te oud en kon nie saam met haar sussies bly nie. Sy was verplig om van huis tot huis rond te swerf.

Tog het Mbali se omstandighede haar nie gekeer om haar hoërskoolloopbaan te voltooi nie. Sy is besig met haar matriek-eindeksamen en hoop om volgende jaar in ‘n sielkunde-rigting te studeer.


Mbali Ncube in haar spoggerige uitrusting

Talita van Wyk daag die personeel van haar Cullinan Apteek elke jaar uit om ‘n gemeenskapsprojek te doen. Vanjaar het hulle besluit om ‘n matriekmeisie se afskeid te borg. Die skool het gehelp om ‘n kortlys van verdienstelike kandidate op te stel en na verskeie onderhoude is Mbali gekies. Sy kon die materiaal vir haar rok, skoene en bykomstighede self uitsoek en Annelie Smit het die rok gratis gemaak.

Mbali se naels en grimering is gratis deur Elize Geyer, ‘n grimeerkunstenaar en voormalige personeellid, gedoen. ‘n Afspraak vir die doen van haar hare is gereël by ‘n plaaslike salon.

Daar is selfs ‘n fotosessie by Destiny Lodge gereël vir die middag voor die matriekafskeid.  ‘n Luukse motor het gereed gestaan om Mbali afskeid toe te neem.

“Vir een dag kon sy sorgvry, net soos haar maats, die spoggeleentheid in elke matrikulant se lewe geniet,” sê Rachelle Kruger van die apteek. “So dikwels is daar kinders vir wie die lewe nie altyd eenvoudig en vanselfsprekend is nie.”

 

© 2019 Die/The Bronberger