Kleinfontein se gedenktuin groei PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 22 November 2016 15:12
Untitled Document

’n Borsbeeld van president Paul Kruger is op 28 Oktober by die Kleinfontein Kultuurgemeenskap onthul. Met die geleentheid is die Gelofte-monument, wat die drie volks-geloftes vervat, ook in die gedenktuin onthul.

Beeldhouer Coert Steynberg is jare gelede gevra om ‘n Paul Kruger-beeld vir die Johannesburgse stasie te maak. Die vollengte beeld sou te duur wees en daar is besluit op ‘n borsbeeld, wat die kunstenaar gemaak het.

Die gipsvorm het ’n bietjie skade gekry, maar is deur Coert Steynberg se dogter Isa Wiechers, wat ook ‘n beeldhouer is, herstel. Die beeld is dus ‘n Coert Steynberg skepping,  wat van ‘n mengsel van brons en hars gemaak is, wat heelwat ligter en effens goedkoper is. 


Die borsbeeld van Paul Kruger

Isa het, soos haar pa, by die Royal College of Art in London studeer en het daarna in haar pa se ateljee gewerk. Haar seun, Sybrand, is die derde geslag beeldhouers in dié familie en deel haar ateljee.
Isa was by Kleinfontein met die onthulling en het ‘n kort toespraak gelewer. Daar was meer as honderd mense op die warm somermiddag teenwoordig en blomme en kranse het die basis van die borsbeeld omring.

Stewige klippe van Kleinfontein is as basis vir die borsbeeld sowel as die Gelofte-monument gebruik. Kleinfontein Boubestuur het die vervoerwerk gedoen en Freemad Grafsteenmakers het gesorg vir die oprigting.

Die drie geloftes op die Gelofte-monument is: die gelofte van Jan van Riebeeck op 6 April 1654; die Bloedrivier-gelofte van 16 Desember 1838; en die Paardekraal-gelofte van 13 Desember 1880.

 

© 2019 Die/The Bronberger