Kindersorgplek vier vyfde verjaardag PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 22 November 2016 15:11
Untitled Document

Kungwini Welsynsorganisasie se Kinder- en Jeugsorgsentrum in Zwavelpoort het sy vyfde verjaardag op 18 Oktober gevier. Dié huis was ‘n loodsprojek van die Departement van Sosiale Ontwikkeling.

Die sentrum het in 2011 as ‘n nie-winsgewende organisasie tot stand gekom. In daardie stadium was daar geen plek waar kinders met spesiale behoeftes geplaas kon word nie. Hulle is aan bestaande plekke, wat nie gespesialiseerde sorg kon bied nie, oorgelaat.

Die departement het Kungwini Welsynsorganisasie in 2005 reeds genader om ‘n program vir sulke kinders te ontwikkel. Die organisasie het besluit om deel van ‘n bestaande gebou op hulle perseel in so ‘n plek te omskep. Die projek is in 2009 voltooi en die eerste kinders is in Oktober 2011 opgeneem.


Agter die kinders, van links na regs: Merriette Phiri, wat hulle vaardighede aanleer; Tumi Manthoadi, huisbestuurder en maatskaplike werker; Amelia Botha, werkswinkelonderrig; Sesie Malaza, toesighouer; en Veronica du Plessis, wat die raad verteenwoordig. Regs voor by die kinders is versorger, Lettie Myakeni

Vandag is daar 19 kinders met wisselende behoeftes tussen die ouderdomme van 14 en 18 jaar.

Kinders wat sorg en beskerming benodig en nie voordeel uit die gewone onderwysstelsel kan put nie, word deur die hof daar geplaas.

Dienste wat gebied word strek van ‘n intensiewe lewensvaardighede-program, 24-uur toesig, maatskaplike dienste, ‘n beskermende werkswinkel, individuele opleidingsklasse en gesondheidsdienste.

Kungwini Welsynsorganisasie bied ook ‘n tuiste aan 140 volwassenes met gestremdhede. Die organisasie maak staat op verskeie vorms van befondsing en borge vanaf maatskappye en individue.

Vir meer inligting besoek www.kwo.org.za.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger