In die Bronberg-gebied is daar gereeld sonde met die bure oor die opdamming van water. Aan wie behoort die water in die spruit wat deur jou eiendom loop of die ondergrondse water? Waarheen vloei die water wat deur ons gebied loop? Marli Burger en Bertus Fourie van Galago Environmental gee die antwoorde.
Water behoort aan almal in die land, maar watergebruike word in kategorieë geplaas en sekere gebruike moet gelisensieer word.
So sê waterlisensiespesialis, Marli Burger. Wanneer dit by die toekenning van water kom kry basiese menslike behoeftes en ekologiese waterbenodighede voorrang. Die Nasionale Waterwet van 1988 is gepromulgeer om te verseker dat Suid-Afrika se waterhulpbronne op ‘n gelyke, doeltreffende en volhoubare wyse beskerm, gebruik, ontwikkel, bestuur en beheer word.
Marli verduidelik dat die kategorieë vir watergebruike strek van onttrekking van water uit oppervlak- en grondwater, stoor van water binne- en buitestroom en vloeiverandering of -belemmering tot ontslag van water in ‘n vleiland of stroom.
Die Zwavelpoortspruit in vloed in Maart 2014
Lisensies
Waterlisensies word deur die Departement van Waterwese en Sanitasie (DWS) uitgereik en indiening van aansoeke sluit gewoonlik spesialisstudies soos vleilanddeliniasie-, hidropedologiese- en geohidrologiese verslae in.
Die DWS is ook die wetstoepassingsowerheid wat direktiewe uitreik vir nie-nakoming van die wet. Skedule een gebruike vereis nie registrasie of lisensiëring nie en sluit in: huishoudelike gebruike, asook water vir tuinmaak (nie-kommersieel); diere (slegs binne drakrag); en die stoor van reënwater vanaf dakke.
Bestaande gebruiksregte sluit in enige wettige watergebruik wat in die kwalifiseringstydperk plaasgevind het en moet by die DWS geregistreer word.
Bewaring
Waterspesialis, Bertus Fourie, sê dat die droogte aandag gevestig het op die behoefte aan die bewaring van waterbronne. Natuurlike bronne, insluitende water, was die boublokke van ons samelewing, maar in Suid-Afrika het die ontdekking van goud gelei na die groei van twee stede, Johannesburg en Pretoria.
Dié twee stede val in die boonste opvangsgebied van drie hoof rivierstelsels: die Vaalrivier wat suid dreineer; die Krokodilrivier wat noord dreineer; en die Olifantsrivier wat oos dreineer. Groot riviere is baie skaars en wateroordragstelsels van waterbronne wat honderde kilometer ver is, laat ons toe om in stede te funksioneer.
Die Pienaarsrivier in vloed in Maart 2014 op die Mooiplaats-grondpad
Bronberg
Die Bronberg-gebied vorm deel van die Krokodil- en Olifantsrivier se dreineringsnetwerk.
Water van die Pienaarsrivier en Moreleta- en Edendalespruit dreineer na die Krokodilrivier. Die Honde- en Osspruit dreineer na die Olifantsrivier via die Bronkhorstspruit- en Wilgerivier.
Die Bronberg is aan die boonste opvangsgebied van dié riviere en spruite. Vleilande, syferwater en fonteine dreineer vanaf die Bronberg na die spruitstelsel en voed groot riviere ver weg van ons.
Die ontwikkelende Bronberg-omgewing se impak op water is duidelik: Hervulling, rommelstorting, die stort van besoedelde water, onttrekking en die opdamming van ekosisteme. Dié faktore beïnvloed nie net die Bronberg-gebied nie, maar al die riviere waarheen ons gebied se water vloei. |