Kungwini in bek geruk oor duur kantore PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 26 January 2009 05:40
Untitled Document

Die Groen Skerpioene ondersoek’n klagte teen die stadsraad van Kungwini nadat bouwerk aan ’n multi-miljoen rand kantoorkompleks in Shere begin is. Omgekrapte inwoners beweer dat geen omgewingsimpakstudie vooraf gedoen is nie en dat die gemeenskap nie die geleentheid gegun is om beswaar teen die projek te maak nie.

Kungwini het glo met bouwerk begin sonder die vereiste openbare deelname-proses en sonder om die verpligte impakstudies te laat doen, soos wat dit van ander grondeienaars in die gebied verwag word. Shere is een van die enigste omgewings in die wêreld waar die bedreigde Juliana se goue mol nog voorkom.


Bouwerk aan luukse munisipale kantore in Shere duur voort ondanks besware

Kungwini se nuwe boubeheerbestuurder, me Moja Mogoje, het aan Die Bronberger gesê dat impakstudies wel gedoen is. Sy wou egter nie die naam van die konsultante aan ons gee nie. Sy het gesê alles is op ’n vergadering met inwoners op 13 Januarie verduidelik en dat ’n verdere vergadering op 20 Januarie gehou sal word.

Op die vergadering van 13 Januarie het die sekretaris van Shere se belastingbetalersvereniging, Johann van der Merwe, ontken dat daar enige konsultasie met inwoners oor die projek was. ’n Lid van Kungwini se burgemeesterskomitee, Dan Mabona, het gesê dit is ook besluit om met die projek voort te gaan toe die raadslid vir die gebied, Dawie Pretorius, geen beswaar daarteen aangeteken het nie.

Die luukse kantore sal volgens Mabona sorg vir beter dienslewering aan die Bronberg-gebied. Volgens Johann het Dawie aan die belastingbetalersvereniging gesê dat hy geen kennis van die beplande nuwe kantoorkompleks dra nie. Daar is ook geen rekord van enige dokumentasie rakende die projek wat vir openbare insae beskikbaar gestel is nie of van enige kennisgewing van openbare vergaderings oor die kantoorkompleks nie.

Inwoners meen die kompleks sal ernstig inbreek maak op die rustige, residensiële aard van Shere. Hulle het ook die wenslikheid van ’n luukse kantoorkompleks van miljoene rand se belastingbetalersgeld, in moeilike ekonomiese tye, bevraagteken. En dit terwyl die verskaffing van basiese dienste oor die afgelope jare bykans afwesig was.

Shere se belastingbetalersvereniging het in November verlede jaar reeds versoek dat alle verdere bouwerk aan die projek gestaak word, totdat behoorlik met alle belanghebbende partye gekonsulteer word. Die klagte wat by die Groen Skerpioene ingedien is, het nie van die belastingbetalersvereniging af gekom nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger