Politiek in Die Bronberger PDF Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 22 November 2016 15:01
Untitled Document

‘Leser’ van Rayton skryf:
Ek het nie met u saamgestem toe u toegelaat het dat politieke partye advertensies in u gesinstydskrif plaas nie. U het nou die deur heeltemal oopgestoot deur ‘n brief van ‘n politieke aard toe te laat. Ek is nou teensinnig gedwing om op die skrywe van Danie Erasmus in u September-uitgawe te reageer.

Erasmus is krities teenoor die rol van die sogenaamde kleiner partye in die munisipale verkiesing. Ek lei af dat hy veral die VF+ onder skoot het. In ‘n multi-kulturele en -etniese gemeenskap soos SA, het partye wat omsien na die belange van minderhede ‘n wesenlike bestaansreg.

In die verband bevorder die VF+ die belange van die Afrikaner en ondersteun ook ander instansies wat minderhede verteenwoordig – ook op internasionale vlak (Verenigde Nasies). Die algemene groei wat die VF+ in die afgelope verkiesing (en die algemene verkiesing) getoon het, bevestig die positiewe rol wat hy speel. 

Die DA, wat in wese ‘n konglomeraat is, kan nie (en wil nie) die belange van minderhede bevorder nie.

Die party vermy dan ook die erkenning van die regte van minderhede wat in die Grondwet vervat is en deur die Verenigde Nasies aanvaar is.

Ek doen weer ‘n beroep op u om alle politieke materiaal uit u tydskrif te hou en om dit nie verder met politiekery te ‘besoedel’ nie. Behou dit suiwer as ‘n gesinstydskrif wat ons nog altyd geniet het.

Ons probeer om partypolitiek so ver moontlik uit die Bronnie se redaksionele kolomme te hou. Dit is beleid. Dit is ook beleid om alle advertensies, wat nie pornografies, aanstootlik of openlik misleidend is nie, te aanvaar vir publikasie. Ons hoop dat hierdie ook die laaste lesersbrief met ‘n partypolitieke inslag is, wat ons sal publiseer. – Red

 

© 2019 Die/The Bronberger