Op 12 Desember om ongeveer 8 vm het Insp. van der
Merwe en Insp. Nolte ’n oproep ontvang oor ’n
gewapende roof te Oukraalmuur Donkerhoek. Twee
verdagtes is met die ondersoek gearresteer en is later
positief geïdentifiseer. Ander arrestasies is gou verwag.
Dit word vermoed dat die twee verdagtes deel is
van ’n bende wat die omgewing vir ’n geruime tyd
geterroriseer het.
xxx
Een van die Bronberg-gebied se bekende ‘landmerke’, die Bafana Kontantwinkel
langs Lynnwoodweg-verlenging, het ’n nuwe eienaar gekry. Henk Dreyer het dié gewilde winkel by Max Steenkamp (Van Zyl) oorgeneem.
Max het groot planne met ’n perdeplek op haar en Basie se blyplot net ’n
klipgooi van Bafana af. Deur die jare het Bafana ’n baken van die gebied
geword as jy aan ’n vreemdeling wil pad verduidelik of as jy iemand op ’n
sentrale punt wil ontmoet.
xxx
’n Groot span Bronbergers het op oujaar op Cornelis Cronjé se plot
bymekaargekom om die nuwe jaar te verwelkom. Cornelis en sy Julia het
bontgestaan om dit die grootmoeder van alle partytjies te maak. Mense is
aangemoedig om tente staan te maak en ’n paar uiltjies te knip eerder as
om die pad op die nuwe jaar se eerste dag aan te durf. Almal teenwoordig
het vasgebyt tot goed ná middernag; die optimiste om die nuwe jaar met
ope arms te verwelkom en die pessimiste om seker te maak die ou jaar gaan
verby.
xxx
Jeug is wanneer jy toegelaat word om die ou jaar uit te sien. Middeljare is
wanneer jy gedwing word om dit te doen.
xxx
Ons neem afskeid van Breytie Breytenbach wat oor die afgelope jare die
gemeenskapsveiligheidsrubriek in Die Bronberger geskryf het. Breytie se
laaste rubriek verskyn in dié Januarie-uitgawe. Danksy Breytie se rubriek het
die gemeenskap meer bewus van veiligheidskwessies in ons omgewing
geword. Dankie vir jou onbaatsugtige, harde werk, Breytie.
xxx
Vriend Walter sê hy sukkel nou al maande om sekere inligting en dokumente
uit die provinsiale administrasie van Gauteng te kry. Walter meen die naam
van die provinsie sal na ‘Teng’ verander moet word, want niks gebeur meer
gau nie.
xxx
Gert Mossie meen ’n mens kan verwag dat voorvalle by sportbyeenkomste
sal gebeur; soos toe die Aussie-toeskouer ’n laserlig in een van ons krieketspelers
se oë geskyn het, sodat hy ’n bal misgevang het. Volgens Gert is die
kanse goed dat daar iewers in ’n skare van derduisende mense ’n misbaksel
of twee sal wees. Wat vir hom egter vreemd is, sê Gert, is dat daar gereeld
onder die 11 Aussie-spelers op die veld ook ’n hele paar misbaksels is. |