Cullinan-diamant se vloek reik selfs tot by die galg PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 24 October 2016 21:26
Untitled Document

Legendes rondom ’n ‘verlore’ deel van die reuse Cullinan-diamant, wat in 1905 gevind is, loop nog. Die spoor van dié diamant se tweelingsussie het meer as ‘n honderd jaar gelede ‘n diaken in die NG Kerk en boer in die Cullinan-distrik na die galg gelei. Voor sy dood het hy gesê hy weet waar die ander helfte is, maar het die geheim saam graf toe geneem.

In Februarie het ons vertel wat Frederick Wells, destydse bogrondse bestuurder van die Premiermyn en die man wat dié reuse diamant gevind het, se kleindogter te sê het oor die vloek wat glo op dié diamant rus. Emma van Heerden het vertel dat ’n swart mynwerker op 26 Januarie 1905 na haar oupa toe gegaan het en hom vertel het van ’n blink klip wat hy teen die kant van die myn se oop put raakgesien het.

Hy het gewaarsku dat Fred baie jammer gaan wees as hy daardie klip optel, omdat hy net teëspoed gaan bring. Fred het die waarskuwing geïgnoreer. Daardie aand het die Wells-gesin se huis tot op die grond afgebrand.


Fred Wells wys na die plek waar die diamant gevind is
Foto: The Heritage Portal

Koos Papenfus van Rayton het dié storie in Februarie se Bronnie gelees en laat weet dat hy toevallig op nog ‘n vloek-verhaal afgekom het. “Ek was onlangs by die Boekeboer naby Cullinan en het ’n ou boekie uitgeneem: ‘Aan jou nek sal jy hang’, in 1952 deur Afrikaanse Pers Boekhandel uitgegee,” sê Koos.

“As liefhebber van ware misdaadverhale van die vroeë jare het ek op ’n baie interessante saak afgekom rakende die Cullinan-diamant en Willem Prinsloo. Dit lyk my die vloek het bietjie verder gereis . . .”

Die verhaal waarvan Koos vertel is ‘Diamante was sy dood’ deur TC Robertson. Met verdere navorsing het ons gevind dat die ‘South African Magazine’ van 29 April 1911, gepubliseer in London, ook oor dié saak berig het.

Daar is berig dat Jan Fourie en Jacob Mathibe in Pretoria tereggestel is vir die moord van hoofman Thomas Mathibe by Hammanskraal. Dié moord het glo te doen gehad met die ‘ander helfte’ van die Cullinan-diamant.


‘Aan jou nek sal jy hang’ deur Afrikaanse Pers Boekhandel

Gesny
Die Cullinan-diamant van 3 106.75 karaat het later deel van die Britse kroonjuwele geword. Hy is in verskeie stene gesny, waarvan die grootste die Cullinan I of Groot Ster van Afrika genoem is.

Die diamant was aanvanklik omtrent so groot soos ‘n halwe baksteen en dit het gelyk asof hy afgebreek het van ‘n baie groter steen. Toe Sir William Crookes, president van die Royal Society en een van die bekendste fisici en chemici van sy tyd, die ongeslypte diamant ondersoek het, het hy gesê dat die steen waarvan dié deel afgebreek het waarskynlik deel was van ‘n reuse twaalfvlakkige diamant.
Wat het met die res van die diamant gebeur?

Myngeskiedkundiges, Hedley Chilvers en Eric Rosenthal, beweer dat die ander deel van die diamant deur ‘n mynwerker gesteel is. Die legende lui dat in 1907, twee jaar ná die Cullinan-diamant gevind is, ‘n sekere Johannes Paulus wat by die Premiermyn, vandag die Cullinan-myn, gewerk het, vir diamantsmokkelaars laat weet het dat hy ‘n enorme diamant in sy besit het.

Volgens dié twee geskiedkundiges het Johannes (Jan) Fourie van die storie te hore gekom en het besluit om die mynwerker op te spoor. Hulle kan egter nie saamstem hoekom Jan dit gedoen het nie. Hedley Chilvers sê dat Jan ‘n legendariese misdadiger was.

Eric Rosenthal sê weer dat Jan ‘n boer was wat betrokke was by die Transvaalse polisiediens en aan die stuur van ‘n geheime operasie gestaan het om die ander helfte van die diamant namens die Premier Mynmaatskappy op te spoor.


‘n Glas-replika van die oorspronklike Cullinan-diamant
Foto: Dirk Wiersma

Brandarm
In die boekie wat Koos Papenfus in die hande gekry het, skryf TC Robertson dat Jan Fourie ‘n brandarm en eenvoudige man was, een van die boere in die omtrek van Premiermyn, wat by Willem Prinsloo wou gaan uitvind of dit waar is dat so ‘n groot diamant gevind is.

Willem het vertel dat Fred Wells vroeg die vorige dag met sy kar en perde op Willem se plaas aangekom het, half uitasem van opgewondenheid, om die storie te vertel. Elandsfontein, waar die myn begin is, was Willem se oorlede suster Maria se plaas.

Willem en sy seun Hans is toe saam met Fred na die myn toe. In die mynbestuurder se kantoor het William McHardy die diamant uit die brandkas gehaal en vir Willem gewys. Willem het die volgende dag vir Jan vertel dat die diamant so groot soos ‘n halwe baksteen was.


Joseph Asscher maak die aanvanklike snit op die Cullinan-diamant, links. Regs hou hy ‘n hammer in die lug, gereed om die snybeitel te slaan
Foto: ARD

Toe Jan dié dag by Willem se plaas wegry was dit asof hy bedwelm was met die vertelling van dié reuse diamant. In die Premier-hotel se kroeg het Jan daardie aand na die stories gaan sit en luister. Hy het gehoor dat dit lyk asof die diamant ‘n klein brokkie was van ‘n baie groot steen.

Almal het bespiegel oor wat met die ander deel van die diamant kon gebeur het. Die skoot dinamiet wat daardie diamant oopgeskiet het, is weke gelede afgevuur en daar is al ver verby die skietplek gemyn.

Dié wat weet het gesê dat dit bykans onmoontlik is om ‘n klein diamantjie uit die myn te steel, maar dat ‘n werker ‘n reuse diamant maklik oor die draad kon gooi en weer sou vind. Speurders was glo reeds drie dae besig met ondervraging in die kampong.


Willem Prinsloo
.

‘n Mynwerker met die Cullinan-diamant
Foto: Awesome Stories

Obsessie
Ná die aand in die Premierhotel se kroeg het Jan ‘n obsessie met die verlore deel van die diamant ontwikkel. Volgens geskiedkundiges, Hedley Chilvers en Eric Rosenthal, het Jan verskeie diamantsmokkelaars laat weet dat hy na dié steen op soek is.

‘n Tussenganger het Jan genader met die storie dat sy broer ‘n groot wit steen het en £1 000 in goud daarvoor wou hê. Jan het reëlings getref om die man, wat glo Johannes Paulus was, op ‘n donker nag in die veld tussen Pretoria en die Premiermyn te ontmoet. Die ontmoetingsplek was skynbaar waar die Ou Pretoria/Bronkhorstspruitpad teen ‘n kliprantjie verbykronkel.

In die lamplig kon Jan glo iets sien wat soos ‘n diamant lyk, die een kant plat en glad, en die ander kant wat lyk of dit van ‘n baie groot steen afgebreek het. Jan het ‘n swaar sak as betaling aangebied, maar daar was net 100 goue ponde aan die bokant van die sak en die res het uit lood-moerplaatjies bestaan.

Johannes Paulus het glo sy hand tot onder in die sak gedruk, besef dat Jan hom wou indoen en het dadelik op vlug geslaan.


Thomas Cullinan, links, kry die diamant van mynbestuurder, William McHardy, middel,
en Frederick Wells, regs
Foto: Order of Splendor

Bahwadebe
Nie die geskiedkundiges of TC Robertson is baie duidelik oor hoe dié voorval na die moeilikheid by die Bahwadebe-stam gelei het en hoekom Jan daarby betrokke geraak het nie.

TC Robertson skryf dat Jan teen die einde van Junie 1905 na Willem Prinsloo se Kaalfontein-plaas gegaan het. Op 27 Oktober 1910, vyf jaar en vier maande ná Jan na die verlore deel van die diamant begin soek het, het hy kaptein Thomas Mathibe vermoor.

Daar is ‘n volledige verslag van die Fourie-moordsaak waar die prokureur-generaal, Charles de Villiers, self as aanklaer opgetree het. In die hofsaak is getuies gebring dat daar moeilikheid in die opperhoofskap van die Bahwadebe-stam, wat naby Pretoria gewoon het, was.


Sir William Crookes het gesê dat die Cullinan-diamant waarskynlik deel was van ‘n reuse
twaalfvlakkige diamant
Foto: Wikipedia

Die kaptein, Amos Mathibe, is na Baberton verban en sy jonger broer, Thomas Mathibe, is in sy plek aangestel. Amos en sy halfbroer, Jacob, was ontevrede hiermee en Jacob het met Jan in aanraking gekom en voorgestel dat hy Thomas Mathibe moet vermoor.

Jan het na Thomas Mathibe se kraal gegaan en vertel dat hy lede van die stam vir die myne wil werf. Daar is ‘n voorlopige ooreenkoms getref en Jan het die volgende oggend met ‘n bottel brandewyn opgedaag om die saak te beklink.

Daar was gif in dié brandewyn en die hoofman het beswyk.

Jan was glo dom genoeg om sy naam op ‘n stukkie papier te skryf en by die indoenas te los toe hy daar weg is. Jan is saam met Jacob en Amos aangekla. Amos is nie skuldig bevind nie en is vrygelaat. 


In die Premier-hotel se kroeg het Jan Fourie na die stories gaan sit en luister en gehoor dat dit lyk asof die diamant ‘n klein brokkie van ‘n baie groot steen was
Foto: Premier Hotel

Dodesel
In die dodesel waar Jan vir die laksman gewag het, het hy glo vertel dat hy in die moeilikheid met Mathibe se stam betrokke geraak het omdat ‘n man in dié stam die ander deel van die groot diamant besit.

Voor Jan galg toe is het hy gesê dat hy die enigste mens is wat weet waar dié diamant is. Hy het die geheim saam graf toe geneem.

TC Robertson het sy verhaal afgesluit deur te sê: “Een ding is seker. Die man wat die droom van die ‘verlore helfte’ nie glo nie, sal baie gelukkiger wees as die man wat dit glo en na die wonderlike steen gaan soek . . .”


Myngeskiedkundige Hedley A Chilvers beweer dat die ander deel van die Cullinan-diamant deur ‘n mynwerker gesteel is. In ‘The seven wonders of Southern Africa’ beskou hy die Premiermyn en die Cullinan-diamant as een van die sewe wonders
.

Die Britse koningin as kind saam met haar ma: die Tweede Ster van Afrika, Cullinan II, is in die Britse koninklike staatskroon gemonteer
Foto: Daily Mail
.
 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online