Kinders en perde vind troos ná trauma PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 24 October 2016 21:23
Untitled Document

Erg getraumatiseerde kinderhuis-kinders word in Tierpoort gehelp met perdry-terapie. Angels with Hooves, die instansie wat kinders en perde bymekaarbring, is op soek na iemand om elke Donderdag ses kinders vanaf ‘n kinderhuis in Queenswood na Tierpoort en terug te neem.

Angels with Hooves, ’n geregistreerde nie-winsgewende organisasie met geen voltydse werkers, is deur sewe vrywilligers met ‘n passie en liefde vir perde en kinders gestig. Die organisasie red mishandelde perde en gebruik hulle en ander perde vir perdryterapie en perd-geassisteerde sielkunde behandeling.

Hulle werk nou saam met organisasies en maatskaplike werkers om kinders te identifiseer wat daaruit sal baat.


Perde-uitstappies

Terugslae
Dié organisasie het die afgelope jare ‘n hele paar terugslae oorleef. In Mei 2011 het ons berig dat plot 31, Pienaarspoort, wat eens aan Angels-stigterslid Annemarie Towsen en haar gesin behoort het, deur plakkers bedreig word. Plakkers is direk langs die perseel hervestig. Die grensdrade is aanhoudend geknip sodat die perde weggeloop het en hulle moes in klein kampies toegesluit word om te verhoed dat hulle deur honger huislose mense geslag word.

Ná 11 jaar in Pienaarspoort moes die perde 15 kilometer verder na ’n veilige perseel verskuif word. ‘n Koper vir die plot kon nie gevind word nie en Annemarie het die eiendom verloor.

In Desember 2008 het ons berig dat Annemarie haar in 2005 begin toewy het aan perdrylesse vir kinders van die Louis Botha-tehuis. “Die perde kon baie meer met dié kinders bereik as wat jare se individuele psigologiese terapie kon,” het sy gesê.

Selfs die sosiale werkers van die Louis Botha-tehuis het saamgestem. Hulle verslae dui op ’n drastiese positiewe verbetering in die emosionele toestand van die kinders as ’n direkte gevolg van die perdrylesse.

Die feit dat dié kinders werk met perde wat reddingsgevalle was, gee ’n spesiale dimensie aan die lesse. Die verhaal van die reddingsgevalle is ’n storie van Annemarie se liefde vir perde.


Annemarie Towsen destyds op Pienaarspoort

Skool
Annemarie het haar perdryskool in 2001 met een reddingsgeval, genaamd Vossie, begin. Sy kon net op Saterdae lesse gee omdat sy nog voltyds gewerk het om geld te kry om meer perde te probeer red.

Met elke Kersbonus van haar werkgewer het sy ’n nuwe perd gekoop – meestal reddingsgevalle of perde wat deur hulle vorige eienaars verwaarloos is en by perdehandelaars gelaat is waar Annemarie hulle in ’n baie slegte kondisie gekry het.  

Sy sê dat niemand die perde liefgehad het nie, die meeste was depressief en verhonger en baie het aan ernstige trauma gely omdat hulle mishandel is. Met baie liefde en aandag, die regte voerprogram en opleiding het dié perde van die heel gelukkigste perde in die ryskool geword.

So het die getal perde gegroei terwyl Annemarie en haar man elke naweek self die fisiese arbeid op hulle plot gedoen het om die stalle te bou en kampe vir die perde voor te berei. Na ses jaar se harde werk was daar 20 houtstalle, ’n groot arena met afdelings vir spring en dresseerwerk, ’n klubhuis met vermaaklikheidsarea, dubbele lanseerring, paadjies vir ritte in Pienaarspoort se bosse en ’n
3,5 km baan vir die opleiding van uithourit-perde.


Kampe en wegbreeknaweke word gehou

Vandag
Vandag het Angels with Hooves drie diensverskaffers van perdryterapie in Pretoria en die Kaap. Hulle werk saam met organisasies soos skole vir kinders met leerprobleme, huise van veiligheid, private geïdentifiseerde individue en kinderhuise in Pretoria soos Louis Botha-, Jakaranda- en Bramley-kinderhuis.

Die kinders wie se lewens aangeraak word is mishandelde en getraumatiseerde kinders wat verhonger, ondervoed, onderontwikkeld, blootgestel aan drank en dwelm misbruik, gemolesteer en misbruik is, verwerpte kinders, kinders sonder ouers of voogrolmodelle en die wat geen standvastigheid het nie.

Die perde wat gered word is mishandelde en verhongerde perde, perde by slagpale, dié wat op resiesbane beseer is en afgetrede perde. ‘n Onskeidbare band word tussen kind en perd gevorm en kinders vorm ‘n sin vir waarde en deelname in die rol wat hulle in die perde se rehabilitasie speel.

Behalwe vir psigologiese voordele van dié interaksie is daar verskeie fisiese voordele in die aanleer van ruiterkuns, soos die neurologiese stimulasie van die breinstam en verbetering van balans.


Die perde moes 15 kilometer vanaf Pienaarspoort na ’n veilige perseel verskuif word

Skenkings
Dertien kinders kry vier keer per maand terapie en rylesse in Tierpoort. Daar word ook kampe en wegbreeknaweke gehou. Angels with Hooves ontvang geen staatsbydraes nie en is afhanklik van skenkings en borge om die perde te onderhou en vir die kinders terapie te gee.

Die sewe vrywilligers wat dié instansie se bestuurspan opmaak, is: Neels Botha, voorsitter en bemarking; Martie Botha, vervoer;  Sylvia Lavenson, diensverskaffers; Elfrieda Miller, kindertehuise en dienswerkers; Marcelle van Heerden, perde; Mariki Nel, finansies; en Jacques Tippet, fondsinsameling.

Vir meer inligting bel Neels Botha by 082-253-5712 of stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online