Lank wag was die sous werd PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 24 October 2016 21:22
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

‘n Wyse iemand het gesê dat ‘n ou gewoonlik moet wag vir iets wat die moeite werd is om voor te wag.

Só het die mense van en die besoekers aan Cullinan ‘n amperse ewigheid gewag vir die dorpie se nuutste kuierplek, Le Pate a Choux, om oop te maak. Maar die wagkool was uiteindelik die kuiersous meer as deur-en-deur werd.

Die mooi ou huis oorkant die ou Nedbankgebou in Oaklaan was donkiejare reeds opgeknap, ingerig en gereed vir die deure van die nuwe, ‘anderste’ uitspanplek om oop te maak, maar dinge het blykbaar in die taai deeg van die burokratiese mengelbak verstrengel geraak en almal moes wag en wag.

‘Pate a choux’ is ‘n spesiale deeg van Franse oorsprong, wat vir fyngebak gebruik word. En gebak is maar een van die onderafdelings waarin die plek uitblink. Die suurlemoen-soentjie-tertjies, melktertjies, gebakte kaaskoek en pau-rolletjies wat ons ná ‘n Vrydagmiddagete aldaar huis toe geneem het, kon getuig daarvan dat ‘n bakker by uitnemendheid by Le Pate a Choux aan sy kuns gestalte gee.


Lendetjoppies met geroosterde groente

‘n Spesiale aansitkamer waar ‘high tea’ in eg Engelse tradisie gebruik kan word, is nog iets wat die plek ‘anders’ maak – vir Cullinan, bygesê. Nee, Steve, ‘high tea’ is nie die andersaardige groen soort wat jou bes moontlik ‘hoog’ sal maak nie. Dit is tradisioneel ‘n laatmiddagete wat by ‘n tafel saam met tee geniet word. Gewone, Engelse tee.

‘n Ander andersgeit is dat die plek ook ‘n sjokolateur (chocolatier) huisves. Nou mag ‘n ou dalk net dink dat die ‘choux’ in die nuwe plek se naam iets hiermee te make het, maar ‘n ou sou verkeerd wees. ‘Choux’ is inderwaarheid ‘n baie minder romantiese Franse koolkop. Die poffertjies wat van die deeg gemaak word, het blykbaar vir die een of ander vergete Franse taalhaan soos ‘n koolkop in die kleine gelyk. Maar hoe ook al, ‘n vertrek is by Le Pate a Choux ingerig wat ‘n groot verskeidenheid dekadente lekkernye met die sjokoladeboontjie as oorsprong, huisves.

Jy kan aansit by ‘n netjiese tafel op ‘n baie ruim eetkamerstoep, of onder ‘n sambreel in die voortuin. Ons kies die voortuin. Ek is bykans seker die spyskaart wat die vriendelike kelnermens aanbring, is net ‘n tydelike een. Ek raai dat daar nog geskaaf word aan die finale geregkeuses en dat ‘n spyskaart wat sou pas by die plek, uiteindelik die dun A4-rekenaardrukstukkie sal vervang. Onthou intussen die nommer een bril, of desnoods ‘n vergrootglas, as jy nie met soeperman-sig bedeeld is nie.

Ontbyt word tussen 7 vm en 11 vm bedien en die (voorlopige) spyskaart bied sewe keuses wat in prys tussen R38 en R125 wissel. Die esdoringstroopspek (maple) wat saam met ‘n paar ontbytverbouings bedien word, klink na iets wat vorentoe verdien om beproef te word.

By ligte etes kry die eenmalige kolonie van Kanada (soos met die esdoring) weer ‘n beurt met ‘n Kanadese spinasie-en-driekaasdoopsous wat saam met geroosterde (soos in Italiaanse bruschetta), tuisgemaakte suurdeegbrood bedien word. Dit belowe om ‘n belewenis te kan wees en kos R45. 


Metgesel se andersoortige, vleislose burger

Nog een van die andersoortige ligte etes wat my opval, is die fynproewer (gourmet) stadig geroosterde en gerookte, dun gekerfde borsstuk van bees (brisket) op tuisgemaakte en geroosterde paninibrood met korrelmosterd-aioli (knoffelsous), bros botterblaarslaai met ‘n plaasparmesanbedekking (ranch) en brosgeroosterde uie saam met aartappelslaai, Franse skyfies of ‘n kantslaai – as ek nou alles onthou.

‘n Hele bekvol, maar klink vir my ook na iets heel lekkerbekkigs. Dit kos R89. Tuisgemaakte quiche kos R40 vir twee billike souttertjies met slaai of skyfies daarby.  

Ses keuses van ligte etes, drie van kindergeregte en drie van slaai, waarvan twee aanloklik ‘anders’ lyk, kan jy oorweeg. Soetgoed bestaan uit gebak uit dié baasbakker se oond.

Die elf hoofgeregte wissel wyd in aard, omvang en prys en ook in die graad van ‘andersgeit’. Jy kan ‘n Koreaanse ‘taai en soet’ varkribbetjie met geroosterde sesamsade teen R160 inwerk, of geroosterde hoenderborsies gestop met ‘n roomspinasie teen R80. ‘n Lendeskyf van bees, wat hulle ‘Alberta sirloin’ noem, weeg in teen 300 g en kos R142. ‘Tradisionele’ Engelse vis en skyfies saam met ‘mushy’ ertjies kos R85 en die fynproewers biefburger ook R85.

Vier disse maak voorsiening vir die stomme siele wat nie vleis eet nie en ek is nie verbaas toe Metgesel se keuse op een hiervan val nie. Sy kies die ‘Our House’ burger. Die tradisionele burgerfrikkadel vervang hulle met ‘n gekrummelde aartappel- en gebraaide groentekoek wat in aard en smaak naby aan Hollandse krokette is.

Dit is ‘n mooi burger met die nodige by die vreemde frikkadel en Metgesel vind dit erg bevredigend. Sy is ook, soos ek, baie partydig vir die plek se skyfies en ek, soos sy, kan ook sonder skroom die koffie aanbeveel.


Jy kan op die ruim stoep of onder ‘n sambreel in die voortuin kuier

Ek besluit op die oondgeroosterde lamstjops met ‘n olyf- en lemoen tapenade. ‘Tapenade, tapenade’: Lekker woord om hardop te sê. Die geroosterde groente, skyfies en die effe-soet beetslaai daarby, geval my en die gemarineerde tjoppies (twee) smaak voortreflik. Ongelukkig het die slagter blykbaar afskeepgraad voorsien en die lendetjops is aan die taai kant. Die ‘filletkant’ (kan seker nie van ‘lamhaas’ praat nie) is heel gangbaar, maar die res bied ‘n uitdaging as jy die lekkerte in sy geheel wil verorber. Dit kos R180.

Ons het werklik lekker by Cullinan se nuutste en anderste restourantplek gekuier. Die atmosfeer is ruimhartig en vriendelik en duidelik word die geregte met sorg en vaardigheid voorberei. ‘n Ander welkome andersgeit wat die plek bied, is gekookte selfhelpetes op Donderdae. Hiervoor moet jy bespreek.

Jy kan die mense van Le Pate a Choux bel by: 082-899-5345 of  079-883-7570.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online