Ramptoneel op Alicedale PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 24 October 2016 21:20
Untitled Document

Hy het destyds ‘n tante gehad wat in Arcadia gebly het en dit is waar hy vir Anna Neethling Pohl ontmoet het, het Mike Amm vertel. Vir Anna en ‘n paar van haar vriende wat vroeër betrokke was by André Huguenot se toerende toneelgeselskap.

Huguenot se groep het in daardie vermaakskaarse jare deur die land gereis en opvoerings op die uithoekigste plekke gegee. Só het dit dan ook op ‘n mooi dag gebeur dat die toneelgroep ‘n draai op Alicedale in die Oos-Kaap gemaak het.

Alicedale was in die goeie ou dae ‘n besige spoorwegaansluitingsplek en die meeste inwoners was werkers by die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens, soos dit toe genoem is. Nou was baie van dié spoorwegmanne rowwe ouens wat hard gewerk en nog harder gekuier het. Reguit, ongekunstelde manne was hulle, met min fieterjasies: Só gemaak en so gelaat staan, het Mike vertel.  

Op die aand van die groot opvoering in die dorp se skoolsaal het die manne dan ook, soos gebruiklik, eers ‘n ordentlike draai by die enigste voltydse vermaakplek, die hotel, gemaak. Die groep kuierbasse het geglo gehoordeelname is deel van toneelvermaak en het tot die argwaan van André Huguenot lustig bygedra.

Die toneelgeselskap het manmoedig verby die manne se tussenwerpsels voortgebeur met die tranetrekkerstuk, tot by die toneel waar die manlike hoofrolspeler se vrou tragies tot sterwe kom, het Mike Amm vertel.

“O, wat gaan ek tog doen? O weë, wat kan ek tog nou doen!” het die akteur dit luid deur die saaltjie laat weergalm. Die voorstel wat een van die rowwer manne in die gehoor ewe luid teruggeskree het, kan nie hier herhaal word nie en moet maar aan die verbeelding oorgelaat word. Maar dit was genoeg om die toneelstuk terstond tot ‘n einde te laat kom. Die toneelgeselskap het opgepak en vertrek, met die belofte van Huguenot dat hy sy voete nie weer op Alicedale sal sit nie.

‘n Paar jaar later, het Mike Amm vertel, is dit Alicedale se eeufeesviering en die dorpsvaders nader André Huguenot om ‘n toneelstuk ter viering na die dorp toe te bring. Huguenot wil niks weet nie, maar die dorpsvaders belowe dat hulle sal sorg dat niks dié keer skeef sal loop nie. Hulle sal die polisie inroep om die aand van die toneelstuk wet en orde te handhaaf en Huguenot stem teensinnig in.

Die aand van die eeufeesopvoering is die saal gepak en voor die verhoog staan die dorp se polisiemag, sersant Grobler, met sy valkoë op die gehoor gerig. Alles het stil verloop tot die manlike hoofrolspeler dié keer op ‘n stelstoep sit en vra: “Ai, wat is lekkerder as ‘n koppie boeretroos en ‘n stukkie beskuit?”

Die polisieman het sy mense geken en sonder om te aarsel gee hy ‘n ferm tree vorentoe en kondig met gesag aan: “Die eerste een wat nou (woord weerhou) sê, skop ek op sy . . . hier uit.”

Blykbaar was dit Huguenot en sy toneelgroep se heel laaste besoek aan Alicedale, het Mike Amm vertel.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online