Oordadige blomboom is byeboer se droom Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 24 October 2016 23:12
Untitled Document

Min bome blom so oordadig dat selfs hulle Latynse name daarna verwys. Die bosvlier,
Nuxia floribunda, se spesie-naam, floribunda, beteken ‘baie blommetjies’. Dié boom produseer groot hoeveelhede nektar, wat hom ‘n gewilde heuning-boom onder byeboere maak. Voëlkykers plant ook graag dié boom omdat hy insekvretende voëls na tuine lok.

Die bosvlier se genus-naam, Nuxia, is vernoem na M de la Nux, ‘n Franse amateur botanikus op Reunion-eiland. Die genus Nuxia kom van Suid-Afrika tot Arabië voor, insluitende Madagaskar en die Comoro-eilande. Dit is ‘n klein genus met ongeveer 20 spesies, waarvan vyf in Suid-Afrika voorkom.

Die familie waaraan die genus behoort is die Loganiaceae, ‘n redelike groot familie bome, struike en rankplante wat ongeveer 600 spesies in 29 genera insluit. Die Suid-Afrikaanse bome lyk egter glad nie soos hulle familielede wat in die res van die wêreld voorkom nie.

Baie spesies in dié familie bevat giftige alkaloïede – die bekendste is Strychnos nux-vomica waar strignien vandaan kom.


Die bosvlier het ‘n digte en geronde kroon wat in wit gehul is as hy blom

Medisyne
Dié boom se bas word tradisioneel deur die Zoeloes gebruik om ‘n medisyne mee te maak wat mense ‘versterk’ nadat iemand in die kraal oorlede is. Sy blare word in groot dele van Afrika in verskeie rituele gebruik en ook om stuiptrekkings in suigelinge, hoes, verkoue, griep, koors en slegte spysvertering te behandel.

Die bosvlier se hout is hard en swaar en is vroeër gebruik om waens mee te maak. Vandag word meubels en heinings van sy hout gemaak. Die bas is ook ryk aan tannien.

Medium
Die boom het ‘n pragtige digte en geronde kroon. As hy blom is die hele kroon in wit gehul. Die room-wit blommetjies het ‘n soet reuk. Hulle is 3 mm lank en word in trosse gedra. Die vrug is ‘n eiervormige kapsule wat oopsplit in vier lobbe met baie klein saadjies.

Die blomme word deur bye, verskeie ander insekte en insek-vretende voëls bestuif. Die boom is gewoonlik net elke tweede jaar in volle blom en hy is een van die min inheemse bome wat in die winter blom.

Die bosvlier is ‘n klein tot medium-grootte boom wat tussen drie en 10 meter hoog word. Tog is daar gevalle wat die boom al 25 meter hoog geword het. Die hoofstam is gewoonlik verwronge en is tot 600 mm in omtrek. Die gesplete grys tot bruin bas is growwerig en dop af.

Die sytakke lyk perserig as hulle jonk is, maar word bleker met ouderdom. Hulle kan glad wees of kan fyn haartjie dra. Die blare is langwerpig tot ovaalvormig en vorm ‘n punt. Daar is ‘n kenmerkende rooi tot perskleurige hoofnerf op die blaar. Die rante van die blare kan meer of minder duidelike getand wees.


Die klein room-wit blommetjies het ‘n soet reuk en is ‘n groot aantrekkingskrag vir insekte, wat insekvretende voëls na jou tuin lok
Foto: Wikipedia

Groei
Die bosvlier kan van saad gegroei word. Die saadjies is baie klein en moet eweredig oor die oppervlakte van die groeimedium versprei word. Druk die saad in ‘n kombinasie van riviersand en komposmengsel en bedek die saad dan liggies met fyn riviersand.

Plaas in ‘n warm plek met baie lig en hou die saad klam. Die saad vat tussen ses en 12 weke om te ontkiem.

Plant in diep grond met baie kompos en beskerm die jong boom teen ryp. Dié boom se wortelstelsel is nie indringend nie en hy kan naby paaie, geboue en plaveisel geplant word.

 

© 2024 Die/The Bronberger