Tergende voël kan vir jou blaf PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 24 October 2016 21:11
Untitled Document

Die dassievoël maak graag geluide in sy omgewing na en in ons kontrei is dit nie ‘n vreemde verskynsel om dassievoëls te hoor ‘blaf’ nie. Geen wonder hulle Engelse naam verwys na die voël as ‘n spotter of terggees nie.

Die dassievoël,Thamnolaea cinnamomeiventris, se gewone sang is ‘n harde, melodieuse mengsel van nagebootste voëlsang en hulle val in die groep wat ‘n aantal spesies sangvoëls, bekend vir hulle harde kletserige (‘chattering’) geluide, insluit. Dit is dieselfde groep as die bergklipwagter, swartpiek, bontrokkies en Hererospekvreter, ‘n groep wat in Engels as die ‘chats’ bekend staan.


Die wyfie het ‘n gryser bors, kop en rugvere en sy het nie die mannetjie se kenmerkende
wit skouervlek nie
Foto: Wikipedia

Die dassievoël, ‘mocking cliff-chat’, leef in klowe, kranse en rotsbelaaide heuwelhange. Hulle is 20–23 cm lank en weeg 46–53 gram. Die mannetjie het ‘n blinkswart verekleed op sy rug, kop en bors en het ‘n helder kastaiingbruin onderkant. Hy word van die wyfie onderskei deur sy wit skouervlek en die feit dat haar kop, rug en bors donkergrys is. Onvolwasse voëls lyk soos die wyfie, net ‘n bietjie valer.

Dié voëltjies word gewoonlik in klein groepies gevind wat vinnig oor die grond, rotse of dik takke hardloop, soms met hulle sterte in die lug. Hulle jag-patroon is om skielik grond toe te spring van ‘n tak af, maar hulle kan ook prooi van blare en takke af optel. Dassievoëls vreet insekte, vrugte en soms die nektar van aalwyne.


Die mannetjie het ‘n swart kop, rugvere en bors met ‘n wit skouervlek
Foto: Wikipedia

Die dassievoël broei van Augustus tot Desember en die mannetjie en wyfie werk saam aan die koppievormige nessie wat op ‘n fondasie van growwe plantmateriaal, uitgevoer met die hare van bokke en dassies, gebou word.

So ‘n nessie word tipies in streepswaels, wat soms uitgeskop word terwyl hulle broei, se nes geplaas. Die nes is gewoonlik onder ‘n rotsoorhang, brug of in ‘n grot, maar kan ook in ‘n holte in ‘n muur of in landboutoerusting gebou word.

Twee tot vier eiers word vir 14 tot 16 dae deur die wyfie uitgebroei. Die kuikens word deur altwee ouers gevoer en verlaat die nes ná 19 tot 21 dae.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online