Plaasskool vier 20 jaar met boomdag PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 24 October 2016 20:57
Untitled Document

‘n Plaasskool naby Bapsfontein het op 30 September hulle 20-jarige bestaan onder ‘n nuwe dak gevier. Ematsheni Primary School is een van die weinige plattelandse skole wat steeds floreer en oud-skoolhoof, Bernie Nel, het gesorg dat daar fees gevier word met ‘n boomplantdag.

Danie van Eeden van die Zwavelpoort-gebaseerde Wild Route het 50 vaderlandswilgers en 50 wildevye om die skool asook buite om die sokkerveld aangeplant.

Die skool is 6 km buite Bapsfontein op die Delmaspad en Bernie vertel dat die skool aanvanklik in die mielielande op ‘n mnr Mayo se plaas begin is. Dit was in ‘n gebou sonder geriewe, soos water en toilette, en is gereeld deur plakkers geplunder. Selfs die dak is met tye afgesteel en Laerskool Lynnwood het ingespring om ‘n nuwe dak aan te koop en te help vervang.


Oudskoolhoof, Bernie Nel, kyk na die bome wat langs die heining geplant word

Die onderwysdepartement het ‘n perseel een kilometer verder gevind toe drie hektaar grond vir ‘n nuwe gebou geskenk is. Dié skoolgebou is in 1996 ingewy en Bernie, wie se van toe Liebenberg was, was die skoolhoof.

Laerskool Lynnwood het met ’n sleepwa vol saad by die ingebruiknemingsfunksie opgedaag. Laerskool Constantiapark het ook ’n groot bydrae gelewer deur ’n satelliet te wees by die musieksentrum en het alle dupliseerwerk gedoen.

Bernie Liebenberg is met Gideon Nel getroud en het na Bonnievale verhuis. Mnr Y Bhana, voorheen van Knoppiesfontein, is as die nuwe hoof aangestel, ‘n pos wat hy tot 2008 beklee het. Daar was vier onderwysers en 110 leerlinge.


Skoolkinders saam met skoolhoof, KF Mpai, heel links, en Bernie Nel en Danie van Eeden regs agter

Die skool het so uitgebrei dat dit by tye meer as 400 kinders gehad het. Intussen is Knoppiesfontein en Ysterfontein laerskole gesluit, maar Ematsheni floreer steeds onder die hand van mev KF Mpai.

Ná haar man se afsterwe het Bernie teruggekeer na Pretoria en was bly om te sien hoe Ematsheni vooruit gaan. Sy het besluit om dié fees te reël en het ‘n toespraak gelewer om almal, veral die boere in die omgewing, te bedank vir hulle deurlopende hulp aan die skool.

Willem de Frey van EkoInfo het die boomplantdag gereël en benewens Wild Route was die volgende skenkers ook betrokke: Nature Kids, Ecofocus, Ethembeni, EkoInfo, World Travel Medical Consultants, Iliso en Inviro-Insight.

 

© 2019 Die/The Bronberger