PDF Print E-mail
News - Briewe
Monday, 24 October 2016 20:22
Untitled Document

Prof Koos de la Rey van die Rayton-distrik skryf:
Selfs ‘n waterwinkel kan soms voorvalle oplewer wat ‘n mens se dag interessant maak. 

Op ‘n dag stap ‘n jong dame en haar man die winkel in en sê dat ons net nie die winkel moet toemaak nie, want sy moet ons water vir gesondheidsredes koop.

Ons vraag is uiteraard wat die water met haar gesondheidstoestand te doen het. Dit blyk toe dat die dame vir vyf jaar aan depressie gely het en dat die laaste spesialis wat sy besoek het haar beveel het om vir ses weke net dié water te gebruik voor sy hom weer besoek. 

By navraag het die spesialis vir haar gesê dat een uit elke 50 000 (as ek die getal reg onthou) mense ‘n breinversteuring kry weens chloor in die water. ‘n Mediese vriend van my verseker my egter dat chloor gewoonlik die kleinste van twee euwels is.

‘n Mooi jong dame stap die winkel in om water te kom koop om te kyk of sy nie sal swanger raak as sy die water drink in plaas van kraanwater nie. Volgens haar vriendinne het kraanwater so baie hormone in dat dit soms verhinder dat vroue swanger word.

‘n Klant is woedend oor die swak kwaliteit water wat ons verkoop. Hy word versoek om die water winkel toe te bring sodat ons agter die kap van die byl kan kom. Ons toets die water in die kan, en die water se TDS (“total dissolved solids”) is dieselfde as die van die stadsraad. Ons vra waar hy die water gekry het en hy bevestig dat hy dit so ‘n paar dae terug by ons gekoop het.

Ons toets ons water voor hom en die TDS van ons water was een. Ons laat hom die water wat hy gebring het proe en daarna ons s’n. Hy erken dat daar ‘n groot verskil in smaak is. Uit verdere navraag, bevestig hy dat dit net hy en sy vrou is wat in die huis bly. Hulle het egter ‘n werker wat huis skoonmaak as hulle albei by die werk is. Uit ‘n verdere ondersoek is vasgestel dat die werker elke dag een of twee vyf-liter bottels saambring om ‘kraanwater’ huis toe te vat.  

Brief verkort. – Red       

 

© 2019 Die/The Bronberger