‘Veertien voorblaaie uit die Bronnie se 14 jaar’ PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 26 September 2016 17:42
Untitled Document

Ons blaai terug na 14 voorblaaie uit die Bronnie se 14 jaar en onthou die mense, diere en tonele wat nooit weer presies so sal lyk nie.

September 2002

Hier het dit alles begin. Die Bronnie se heel eerste voorbladfoto in September 2002 is in Zwavelpoort geneem met die Bronberg in die agtergrond. By ‘n gebrek aan modelle moes Angie Kleijn en haar perd, Nanedi wat tot in 2010 gelewe het, noodgedwonge die voorgrond volmaak.

Desember 2003

Alindi Scheffer van Klipkop het saam met Charlotte die Friesperd gesorg vir ‘n Kersfeesfoto op ons Desember 2003 voorblad. Sy is die dogter van Arna en wyle Schef wat daardie jare Langa Voere en hardeware in die ou Zwavelpoortsentrum bedryf het.

Julie 2004

Die rotshang teen die Bronberg-rif het in Julie 2004 op ons voorblad gepryk. Ná die tyd het ons menige oproepe ontvang van mense wat sê dat hulle pragtige skilderye van dié foto gemaak het.

Julie 2005

Hannerie de Wet van Bashewa was saam met twee Pirenese bergbokkies op Julie 2005 se voorblad. Hannerie was drie jaar oud toe die foto geneem is en sy is die dogter van Hannes van die destydse Hedera Kwekery en Riana, sekretaresse, jeug en musiek, by die NG Gemeente Tygerpoort.

Februarie 2006

Son-Isha Coetzee van Mooikloof het in vloedwater baljaar op die Bronnie se Februarie 2006 voorblad. Sy was sy nege jaar oud. Son-Isha het in 2005 vir haarself ‘n wêreld-titel los gesing in Los Angeles, Amerika by die internasionale kampioenskappe vir uitvoerende kunste.

Mei 2007

In Mei 2007 was die hings, Sergey, die fokus van ons voorblad. Sergey, wat intussen die tydige met die ewige verwissel het, is in Zwavelpoort teen die suidelike hang van die Bronberg afgeneem.

Julie 2008

Die Brahmahaan op Julie 2008 se voorblad wen dalk die wedstryd vir die voorbladfoto in Die Bronberger se geskiedenis wat die meeste lesersoproepe tot gevolg gehad het. Mense wou presies net so ’n haan hê. Die haan het aan wyle Faan Smuts van die destydse Bronberg Lodge behoort.

Januarie 2009

In dié troebel waters van sy dam in die Zwavelpoortspruit het Charl van der Merwe ’n uitgevrete krokodil aangekeer. Hy het model gespeel vir ons Januarie 2009 voorblad.

Februarie 2010

In Februarie 2010 het die Bronnie se advertensieverteenwoordiger, Tania Potgieter, se twee dogtertjies, ousus Nina-Jane en kleinsus Jani-Mae, op ons voorblad piekniek gehou.

Maart 2011

‘n Opgeskote gevlekte ooruil met die naam van Carlos het hom by die destydse Bull & Bush kuierplek in Tierpoort tuisgemaak. Ons het hom in Maart 2011 op die voorblad verewig.

Junie 2012

‘n Toneel op die ou Hazeldean-melkplaas wat behoue gaan bly, ondanks die feit dat dié Bronberg-gebied in Pretoria se ooste die vinnigste van alle voorstede ontwikkel. Dié silo’s het op die voorblad van Junie 2012 verskyn.

Maart 2013

Dié donkiemerrie dra die naam Vlooi Vermaak. Besoeker aan die Cullinan-gebied, Danielle Grobler van Wapadrand, het in Maart 2013 nader met Vlooi en die plaaslewe kennis gemaak.

Januarie 2014

Die grasveldwitjies, Belenois aurota, se swerftog het hulle in Januarie 2014 deur ons kontrei geneem. Dié grasveldwitjie sit op ‘n Jakob Regop in Reegan Busby se Cullinan-tuin.

Mei 2015

In Mei 2015 was die vierjarige Jessica en haar kapokkiepop, Tamagotchi, op ons voorblad. Volgens Jessica se ouma, Cathy du Plessis van Cullinan, is die kapokkie baie tuis in haar poprol en sit tevrede in die waentjie tot sy uitgetel word.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online