Oor die Bronnie se 14 bestaansjare het ons die verhale van ‘n hele aantal woonhuise, dorpshuise, koetshuise, herehuise, villas, bouvalle en plaasopstalle en die lief en leed van die mense wat daar gewoon het vertel. Ons gee ‘n terugblik op 14 van dié huise ter viering van ons 14e verjaardag.
Spookhuis se stories
Die Erasmuskasteel is in 1903 deur Jochemus Johannes Petrus Erasmus laat bou
Foto: Hendrik van Rooyen
Hoeveel waarheid steek daar in die spookstories en gruverhale oor die Erasmuskasteel, beter bekend as die Spookhuis? Ons het in Julie 2006 probeer uitvind waar die stories oor melaatse dogtertjies wat in die toring opgesluit is en spoke in Victoriaanse rokke wat snags ronddwaal, vandaan kom. Dit is wel waar dat van die Erasmus-kinders aan melaatsheid oorlede is, maar die feite is oor die jare heeltemal uit verband geruk.
Jochemus Johannes Petrus Erasmus en sy vrou Johanna Jacoba het die Erasmuskasteel in 1903 laat bou. Jochemus was ‘n baie toegeeflike man en het nie geweier dat reisigers op die plaas kom afsaal en selfs vir lang tydperke daar bly nie. Blykbaar het Jochemus se oudste seun, Carel Jacobus, die melaatsheid by ‘n ou man en sy seun, wat gereeld op die plaas kom afsaal het, aangesteek.
‘n Deel van die gerestoureerde sitkamer
Carel het sy twee susters, Maud en Lena, aangesteek. Carel is in 1917 oorlede en sy twee susters is aanvanklik in Westfort opgeneem, maar is daarna toegelaat om in afsondering op die plaas te bly.
Nadat die een suster oorlede is, is die ander een terug Westfort toe waar sy kort daarna oorlede is.
Die Erasmus-familie is dekades lank geteister deur nuuskieriges en fortuinsoekers het gereeld die wêreld gaan omdolwe op soek na die Kruger-miljoene of groot kiste geld, wat volgens oorlewering daar begrawe is.
Die laaste Erasmus-eienaar van die kasteel is in 1977 onteien ten behoewe van die Republiek van Suid-Afrika. Daar sou ‘n staatshospitaal op die grond gebou word, maar die planne het nie gerealiseer nie. Krygkor het in 1986 die eienaar van die grond geword en die huis begin restoureer.
Lys se huis
Heel links op die foto is JR Lys se huis en winkel
In Februarie 2011 vertel ons dat John Robert Lys, die eerste Engelssprekende Volksraadlid van die ZAR, goud aan die Witwatersrand lank voor die Struben-broers ontdek het. John se goudbelaaide ‘poeding-klip’ het jare lank as deel van sy klipversameling in sy studeerkamer in sy huis, The Eyrie, neffens Kerkplein gelê.
John, ‘n winkelier in ou Pretoria, was aangetroude familie van Harry en Fred Struben, wat volgens die geskiedenisboeke die eerste goud aan die rand ontdek het. Dit was egter 16 jaar ná John sy goue klip gekry het.
John het in 1855 as handelaar in Pretoria aankom toe hy ‘n jagtog na die binneland onderneem het. Hy het in 1857 ‘n handelshuis geopen. In 1858 het hy erf nommer 348 op die suid-oostelike hoek van Kerkplein gekoop. Hy het erf nommer 352 in 1864 gekoop en in 1874 het hy ‘n nuwe winkel op die erf gebou.
Die Lys-huis van naderby
John was ‘n amateur geoloog, hy kon Latyn lees, het graag solo areas gesing en is knap 11 jaar na sy aankoms, in 1866, tot die Volksraad verkies en het toe ook reeds sy tweede mynboumaatskappy in die lewe geroep.
John is deur die volksraad gevra om die grense tussen die Kaap, Vrystaat, Transvaal, asook Portugees Oos-Afrika en Swaziland af te baken. Hy was lid van die Vrywillige Artillerie Korps, het op verskeie komitees gedien en was op die bestuur van die Vrymesselaars, die Pretoria Klub en die krieketklub.
John was met Olivia Selina Fry getroud. Vier van haar halfsusters het hulle ook in Pretoria gevestig: Isabella Louisa Cole, getroud met Albert Brodrick, Alexa Cole, getroud met James Rous, uitgewer van De Volksstem, Mary Cole getroud met Harry Struben, en ‘n vierde suster is getroud met ‘n Fraude.
Donkerhoek se villa
‘n Vroeëre familiefoto voor die ou opstal geneem. JB Wouda en sy vrou staan op die trappe
Teen die hange van die Magaliesberg in Donkerhoek, staan ‘n trotse ou ‘villa’ uit die 19e eeu nog stewig op sy klipfondasie. In ‘n proefskrif deur CA Richards wat in 1984 geskryf is, word die Wolmarans-huis beskryf as ‘n “villa wat nie tiperend van die tydperk is nie, maar tog die invloed van rykdom en kultuur in dié era weerspieël”.
In Junie 2008 berig ons dat Donkerhoek se trotse ou villa uit die 1800’s deur ’n destydse lid van Paul Kruger se volksraad, JMA (Donkie) Wolmarans gebou is. Groot dele van die struktuur van die Wolmarans-huis, soos die houtsneewerk, vensters, balke, vloere, deure en kaggels, is uit Engeland en Europa verskeep en met ossewaens na Pretoria gebring.
‘n Baie ou wildevyeboom voor die imposante villa op Donkerhoek
In die Engelse Oorlog is die huis deur die Britte opgekommandeer om as hospitaal te dien. In 1916 is die gedeelte van die plaas met die huis op deur ’n seun van Donkie, Jacobus Wolmarans, aan ’n sakevennoot van Sammy Marks, J Levin, verkoop. Die huis en grond is in 1924 deur JB Wouda gekoop en sedertdien woon sy nageslagte daar.
JB Wouda was Dave Brink, wat sy hele lewe nog daar bly, se oupa. Dave se ma, Ella Brink, was ’n bekende in die omgewing en het die grootste deel van haar lewe, tot en met haar afsterwe ’n paar jaar gelede, in die ou opstal gewoon.
Ella het vir jare die Avondson Hotel bedryf. Die hotel is langs die ou Bronkhorstspruitpad op die plaas gebou. Ella se ma was in die vroeë 1900’s die eienaar van die bekende Wouda losieshuis in Pretoria.
Meester se koetshuis
Meester Louis se huis en skool. Die middelste gebou is sy grasdak huis op die hoek van Kerk- en Prinsloostraat. Heel regs is die skoolgebou. Meintjeskop is in die agtergrond
In November 2008 vertel ons staaltjies oor Meester Wessel Louis en sy koetshuis, waar die eerste Pretoriase ‘kosgangers’ in 1883 in stalle tuisgegaan het.
Hy het in 1883 skoolhoof geword van die Pretoriase opleidingskool, ’n instansie vir leerlinge ouer as st VI. Om ’n voldoende toevoer van leerlinge te verseker is ’n voorbereidingskool, wat onderwys tot st VI gegee het, ’n jaar later aan dié inrigting verbind. In 1887 het die twee afdelings saamgesmelt.
Die Louis-gesin het in ds SJ du Toit, ZAR superintendent van onderwys, se huis op die noord-westelike hoek van Kerk- en Kochstraat (nou Bosmanstraat) gewoon. Reeds hier het ’n aantal seuns as ‘kosgangers’ by die gesin ingewoon. Die skool was toe in die ou skoolgebou op Kerkplein.
Later het Meester Louis, met geld wat hy van sy skoonpa in Nederland ontvang het, president Burgers se ou huis op die hoek van Kerk- en Prinsloostraat gekoop. Die terrein het uit vier erwe met ’n woonhuis, koetshuis en stal bestaan. Dié ruim koetshuis het eers as skoollokaal gedien.
‘n Skets van die agterkant van Meester Louis se woonhuis deur Van Blokland
Meester Louis het egter gespaar en mettertyd ’n behoorlike skoolgebou voor die koetshuis gebou. Daar was geen badkamers nie en die leerlinge moes in die Apiesrivier gaan swem.
Op 1 Augustus 1893 is die ‘Staatsmodelschool’ en ‘Staatsgymnasium’ geopen. Meester Louis het dosent in wiskunde aan die gimnasium geword, ’n pos wat hy tot 1900 beklee het toe hy terug is na Nederland.
Sy ou skoolgebou is deur die Nederduitse Hervormde Gemeente as ’n kerkgebou gebruik. Die nuwe staatsmodelskool is in 1896 in Van der Waltstraat voltooi en op 19 Januarie 1897 geopen. Die oorlog het kort daarna uitgebreek en die skool is as tydelike verblyfplek vir Britse krygsgevangenes ingerig. Dit is hier waar Winston Churchill ontsnap het.
Koerantman se Kya
Die huis in Skinnerstraat 270 waar Tuks begin het
Waar kom die Universiteit van Pretoria se bynaam, Tuks, vandaan? In Julie 2008 vertel ons dat die universiteit gegroei het uit die Pretoria-sentrum van die Transvaalse Universiteitskollege (TUK) wat in 1908 sy deure vir studente geopen het. Die kollege het as ’n Afrikaans-medium inrigting in Kya Rosa begin, ’n vierslaapkamer huis in Skinnerstraat 270.
Dié huis is deur ’n windmaker joernalis, Leo Weinthal, redakteur van die destydse ‘The Press’, laat bou. Leo het ‘The Pretoria News’ in 1898 gestig. Hy was ook vriende met JB Robinson, die Randse mynmagnaat, en menige partytjies in dié huis is deur Robinson gefinansier. Hier het bekendes soos entrepreneur Sammy Marks, beeldhouer Anton van Wouw en finansierder AH Nellmapius, skouers geskuur met Leo en sy vrou Rosa, na wie die huis vernoem is.
Kya Rosa is ná die Engelse Oorlog in 1902 deur die koloniale administrasie oorgeneem. Op 10 Februarie 1908 het 32 studente met klasse by die TUK in Kya Rosa begin.
Die gerestoureerde Kya Rosa
Op 17 Mei 1910 het die TUK ’n onafhanklike instelling geword. Die hoeksteen van die Ou Lettere-gebou op die nuwe kampus in Hatfield is op 3 Augustus 1910 gelê.
Kya Rosa het tot in 1916 as studentekoshuis en bymekaarkomplek van die studenteraad gedien, en het daarna verskeie staatsdepartemente gehuisves.
Teen 1980 het die universiteitsraad besluit om die huis na die kampus te skuif. Argitek, Albrecht Holm, en bouer, Jan Scheffer, het dié taak uitgevoer en die nuut gerestoureerde Kya Rosa is op 25 Oktober 1985 geopen.
Die oorspronklike klipfondasies, baie van die stene en al die teëls is in die restourasie gebruik en die versierings, lyste, ligtoebehore en muurpleister is weer aangebring soos in Leo Weinthal se tyd. Vandag huisves dié Victoriaanse huis die kantoor vir alumniverhoudings.
Melrose se Heys
Melrose-huis
In Oktober 2009 vertel ons dat George Heys Melrose-huis in 1886 laat bou het. Dit is in dié huis se eetkamer waar die Vredesooreenkoms van Vereeniging in 1902 onderteken is.
George was ’n welgestelde man wat sy koetsvervoerdiens, Express Saloon Coach Service, in 1882 gestig het. Hy het saam met sy vriende, soos sakemanne Edmund en George Bourke, goeie betrekkinge met president Paul Kruger gehandhaaf en talle geskenke aan Pretoria gemaak, soos ’n verpleeginrigting vir gewonde soldate in ’n klein gebou langs die Staatsmodelskool in Van der Waltstraat in 1899, die kerksaal van die Metodiste-kerk in Sunnyside en die klokkespel in die stadhuis in Paul Krugerstraat.
Melrose-huis was in die Engelse Oorlog van 1900 tot 1902 Kitchener se hoofkwartier
George se koetse het vanaf Kerkplein op vier hoofroetes na Kimberley, Barberton, Pietersburg en Charlestown in Natal vertrek. Nà die proklamasie van die Johannesburgse goudvelde in Augustus 1886 is Express Saloon Coach Service se dienste na Johannesburg uitgebrei. Heys het ook ’n kontrak met die posmeester-generaal, Nicolaas van Alphen, gehad om pos te vervoer.
Soos wat die spoorlyn uitgebrei het, het Heys sy koetsdiens afgeskaal. Die kontrak vir die vervoer van pos tussen Pretoria en Johannesburg is beëindig met die vertrek van die laaste koets uit Pretoria op 31 Desember 1892, ’n dag voor die aankoms van die eerste trein. Die heel laaste Heys-koets het in 1905 tussen Pietersburg en Pretoria geloop.
Mundt se herberg
Die gerestoureerde Pioniershuis
Die Pioniershuis in Silverton het ‘n lang geskiedenis wat terug strek na 1848 toe die Voortrekkerboer, David Botha, die 1 800 morg grootte plaas Hartebeespoort daar gaan uitmeet het.
In Mei 2006 vertel ons dat David se huis uit ‘n kombuis, sitkamer en twee slaapkamers, wat in ‘n T-vorm gebou is, bestaan het. Nog ‘n slaapkamer is later aan die westekant van die huis bygevoeg. Die Botha-gesin het vyf jaar op dié plaas gewoon en het dit toe vir £105 aan ‘n bejaarde Vermeulen-boer verkoop.
Die Vermeulens het vir die volgende 20 jaar op Hartebeespoort geboer. In 1873 is deel van die plaas vir £150 aan Jan Albert en sy twee skoonseuns verkoop.
‘n Duitse immigrant, Hans Mundt, het die plaas in 1874 vir £1 400 by hulle gekoop. Dit is om en by dié tyd wat goud by Lydenburg en Pelgrimsrus ontdek is en Hans het besef dat sy plaas die ideale oorstaanplek op die hoof transport-roete van Natal af goudvelde toe sou wees.
Die hartbeeshuisie voor restourasie
Hy het ‘n tender ingesit om vars perde vir George Heys se poskoetsdiens te verskaf. Hans het ekstra stalle, ‘n koetshuis, buitegeboue vir ossewaens en ‘n herberg vir moeë reisigers gebou.
In 1890 is silwer op die plaas ontdek en die Silver Mining Company het ‘n deel van die plaas vir £9 000 by Hans gekoop.
Hans is in 1900 oorlede en sy seun het die deel van die plaas geërf waar die Pioniershuis staan. Kort ná sy pa se dood, het hy ‘n Victoriaanse huis langs die oorspronklike huisie gebou en het die ou huis slegs as stoorkamer gebruik.
In 1961 het Hans Mundt se skoondogter die grond aan die Silverton-munisipaliteit geskenk as monument.
Boomstraat se begin
Die ou De Kock-woning, wat die Sjinese skool geword het
In Mei 2012 vertel ons Stephanie Rood se verhaal van Boomstraat se mense. Haar nooiensvan was De Kock en sy is op 25 Januarie 1906 in Boomstraat 191 gebore, waar sy tot haar 15de jaar gewoon het.
Stephanie het gesê dat daar agt huise in ‘n ry tussen Mark- en Kochstraat, vandag bekend as Paul Kruger- en Bosmanstraat, was. In 1980 het daar nog net twee van dié huise gestaan, onder andere die groot huis op die hoek, skuins oorkant die dieretuin, waarin Stephanie gebore is.
Stephanie se Victoriaanse geboorte-huis is in 1897 op erf nommer 840, Boomstraat 191, gebou. Dié huis het aan drie kante ‘n stoep gehad en ‘n hoektoring waarop ‘n weerhaan gepryk het.
In 1931 is die huis deur die Jong Sjinese kulturele vereniging en die Sjinese gemeenskap van Pretoria aangekoop om ‘n skool daar te stig.
Dié Frans Oerder skildery is in 1902 gedoen en wys die tuine van Sanssouci in die voorgrond en Boomstraat se huise in die agtergrond
Stephanie se ouma De Kock, wat eers in dié huis gebly het, was ‘n ouer suster van Tielman Niewoudt de Villiers, voorsitter van die tydelike stadsbestuur in 1897. In 1889 was Tielman se grond tussen Schubart- en Kockstraat. Tien jaar later, word daar op ‘n 1899 kaart aangedui dat sy grond vanaf Schubart tot by Markstraat gestrek het. Hy het die twee dele Belle Ombre en Sanssouci genoem.
Waar die dieretuin vandag is, was eens Stephanie se oupa, Johannes Francois (Jan) Celliers, se Rus in Urbe landgoed. Jan het ‘De Volkstem’ in Pretoria uitgegee. Hy het Rus in Urbe in die 1880’s aangekoop. Die plaas was eers bekend as Klein Schoemansdal, geboorteplek van Gustav Schoeman Preller.
McHardy se mynhuis
Die McHardy-huis in toeka se dae
Die eerste huis wat in Cullinan gebou is, staan vandag nog in sy oorspronklike baadjie in Oaklaan 101. Dié huis, bekend as die McHardy Huismuseum, is in 1903 vir die eerste algemene bestuurder van die Premier Diamantmyn, William McHardy, sy vrou en sewe kinders gebou. In Julie 2012 het ons hulle verhaal vertel.
William is op 30 Mei 1846 in Ballater, Skotland gebore. As ‘n jong man het die diamantkoors hom gepak en hy het Kimberley toe vertrek. Daar het hy sy toekomstige vrou, Evelina McCormick van King Williamstown in die Oos-Kaap ontmoet.
William het in die 1890’s bestuurder van Kimberley se diamantmyn geword. Toe die Premier Diamantmyn van Transvaal in 1903 begin het, het Thomas Cullinan hom as bestuurder aangestel.
Die McHardy-huismuseum vandag
Die McHardy-gesin het hierheen getrek en het aanvanklik in ‘n tent gebly tot hulle huis klaar gebou is. Die jongste seun, James, is op 7 Desember 1912 in ‘n motorongeluk dood en William het nooit van dié skok herstel nie. Hy is op 28 Augustus 1913 in die ouderdom van 67 jaar oorlede.
Die Premiermyn het aangebied dat sy vrou en kinders lewenslank in die huis kan aanbly. William se twee dogters, Evelina en May, het tot hulle dood ‘n paar dae na mekaar in 1984, hier gewoon.
Altesaam het die McHardy’s die huis 81 jaar lank bewoon en die museum spog vandag met die gesin se oorspronklike meubels, ornamente, kombuisware en foto’s. Die Europese eikehouttafel in die ontbytkamer is van handgekerfde hout met ‘n besondere fyn grein. Die meubels is destyds per trein van Durban-hawe na Kimberley geneem en is toe per ossewa na Cullinan gebring.
Die hoofslaapkamer is die enigste toevoeging tot die oorspronklike huis en is in 1908 aangebou.
Karakter se kothuis
Die kothuis waar Rider Haggard gebly het
In April 2012 verklap ons wat die digter Eugène Marais, ‘n buite-egtelike liefdesverhouding, die skrywer Rider Haggard, ‘n verlate kindergraffie en Pretoria se eerste vroulike burgemeester met mekaar te doen het. Die antwoord lê verskuil in ‘n geskiedkundige kothuis genaamd Jess’ Cottage, wat lank ‘n landmerk in ou Pretoria was.
Dié huis was in Railwaystraat 94, Berea in die omgewing waar die suidelike tennisbane van Bereapark was. Die bure reg oorkant die rivier was Harmonie, die tuiste van spioen, siener, sieketrooster en skrywer Johanna Brandt en haar ma en medepligtige, die weduwee van Warmelo.
In die laat 1870’s het skrywer Henry Rider Haggard twee akkers aan die “bokant van Pretoria” gekoop en voorspel dat die grond binnekort baie werd sou wees. Met die tyd van die Britse okkupasie in die Engelse Oorlog het Henry en sy vriend, Arthur Cochrane, daar vir hulle ’n sinkdakhuisie, bestaande uit twee kamers en ’n kombuis, gebou wat hulle spottenderwys ‘The Palatial’ gedoop het.
‘n Poskaart van ‘The Palatial’
Dié huis het as Jess’s Cottage bekend geword omdat Henry se boek, ‘Jess – A tale of the Boer War’, daar geskryf is. Mense was baie nuuskierig om uit te vind op wie die karakter Jess gebaseer was en of skrywer Henry met haar ‘n verhouding gehad het. Die inspirasie vir die boek was glo Eugène Marais se suster, Gezina Constantia Marais, bekend as Jess. Haar dogter, Mabel Malherbe, is in 1931 gekies as Pretoria se eerste vroue-burgemeester en het die tweede vrou en die eerste Afrikaanssprekende vrou wat tot die Parlement verkies is, geword.
Dit het later uitgekom dat Henry ’n buite-egtelike babadogtertjie in Kerkstraat se begraafplaas agtergelaat het toe hy uit Pretoria weg is. Sy minnares was ‘n getroude vrou, Johanna Catharina Ford, ’n nooi Lehmkuhl.
Hazeldean se herehuis
Die noordekant van die gewelhuis wat vanaf die N4 snelweg gesien kan word
Motoriste op die N4-Witbank-snelweg wonder nog altyd wie die historiese geweldak-woning oos van Silver Lakes gebou het. In Junie 2012 vertel ons dat die huis gebou is op die Mallesons se Hazeldean-melkplaas, en dat dié familie verwant is aan The Willows se Strubens.
Harry Struben is in 1868 met Mary Cole, dogter van die Reverend William G Cole van Trinity College in Dublin, getroud. Ses van Harry en Mary Struben se sewe kinders is op The Willows gebore. Harry het later die buurplaas, Hazeldean, ook aangekoop.
Hazeldean was die suidelike helfte van die oorspronklike plaas Zwartkoppies 364 JR. Sammy Marks het die gedeelte van die plaas noord van die Pienaarsrivier besit. Toe Harry in 1915 oorlede is, het sy seun, Arthur, Hazeldean geërf, maar dele van die plaas, soos die deel waar Silver Lakes en Silver Oaks vandag is, was reeds verkoop.
Die oorspronklike ‘rooi-dak’ opstal
Charles Malleson het Hazeldean in 1944 van sy oom, Arthur Struben, gekoop. Charles se ma, gebore as Beatrice Struben, was Arthur se suster.
Charles was met Rhoda, ‘n nooi Kotzé, getroud en hulle het twee seuns gehad, Harry en Ivan. Toe die gesin op Hazeldean aankom, het hulle in die oorspronklike ‘rooi-dak’ opstal gewoon en Charles het begin om die groot opstal met die Kaaps-Hollandse gewels te bou.
Charles het tot in 1972 op Hazeldean geboer. Daarna het sy twee seuns, Harry, getroud met Anna, ‘n nooi Benecke, en Ivan, getroud met Suzanne, ‘n nooi van Der Byl, die bestuur van die plaas oorgeneem.
Hulle het op die melk van hulle pa se Ayrshire-stoet begin fokus en het Milkyway Dairy in November 1978 begin. Harry se seun Frederick is die derde generasie Mallesons wat op die plaas woon en werk.
Boschkop se bouval
Die verlate Barnard-opstal op Waterlake Farm
In Desember 2010 het ons vertel dat die oorspronklike opstal van die plaas Boschkop steeds in vervalle glorie teen die hang van Boschkop se rantjies staan.
Die huis spog met sy oorspronklike sinkplate en ‘Oregon pine’ vloere, plafonne en prentlysies. Die vloere is nog in ’n goeie toestand, maar weens lekkasies het die plafonne plek-plek begin meegee. Die oorspronklike vuurherd het verdwyn.
Die lief en leed van die Barnards wat dié Victoriaanse herehuis gebou het, is uitgegriffel in die plaasbegraafplasie se grafstene. As dié herehuis kon praat, sou hy vertel van die Barnard-seuns wat in die Engelse Oorlog gesneuwel het, een van hulle in die slag van Donkerhoek, en van dié wat in die 1914 rebellie dood is. Hy sou vertel van die Groot Griep wat die familie so genadeloos getref het, van die Terblanche en Van der Merwes waarmee hulle getrou het, en van die Besters wat die plaas later vir dekades besit het.
Die eens spoggerige gang
Die huis staan op Waterlake Farm, ‘n ontwikkeling van 300 ha groot met reekse dammetjies en ’n dam van 20 ha wat Theuns Bester van 1983 tot 1985 gebou het. Theuns het die plaas in die middel sestigerjare by ’n Dr Wynn gekoop. Teen daardie tyd het die Victoriaanse plaasopstal reeds leeg gestaan en is dit die spookhuis genoem.
Toe die Bester-broers in 1993 bankrot gespeel het, is die plaas op ’n veiling aan Sinovich Investments verkoop. Dié groep het die plaas verskeie kere verkoop, maar die koop het telkens deur die mat geval tot ’n Amerikaner, Eugene Delaney Jackson, wat sy Afrika-wortels kom opdiep het, die plaas in 1997 gekoop het. Hy het die plaas tot 2005 besit toe die ontwikkelaars van Waterlake Farm die plaas bekom het.
Smuts se sinkhuis
Die hout-en-sink woning op Doornkloof kort na die aankoop daarvan in 1909
Die staaltjies oor ongekunstelde ouma Isie, vrou van staatsman Jan Smuts, is legio. In Junie 2013 berig ons dat die verhale wat uitstaan baie met haar huis, wat vandag ‘n museum is, te doene het.
Die Smuts-gesin het in 1908 ‘n deel van die oorspronklike Doornkloof-plaas langs Irene, gekoop. Dié plaas is deur die Voortrekker Daniël Elardus Erasmus uitgelê. Die Hongaar Alois Hugo Nellmapius het in 1889 twee derdes van die plaas gekoop en dit na sy dogter, Irene, vernoem.
Irene is in 1896 deur Albertus van der Bijl op ‘n veiling gekoop. In 1908 word die Smuts-gesin hulle bure. Jan het ‘n voorafvervaardigde hout-en-sinkhuis, wat die offisiere se menasie by Kitchener se hoofkwartier in Middelburg, Transvaal was, vir £300 gekoop en na Doornkloof laat aanry.
Die heroprigting daarvan het ‘n jaar geneem en nog £1 000 gekos. Later is ‘n aantal kamers aangebou en die stoepe is toegemaak.
Die Smutshuis-museum vandag
Toe Jan eerste minister geword het, het die gesin Libertas, die amptelike staatswoning, nooit bewoon het nie. Hulle het verkies om op Doornkloof te bly, iets waaroor die Smutse baie gekritiseer is.
Mense het toentertyd gesê dat die huis soos ‘n versameling sink koeistalle lyk. Die huis is ‘n sinkplaat pondok genoem wat met skreeuende kinders en opgegaarde dinge gevul was. Dit is ook as heeltemal ongemoderniseer en hopeloos slordig beskryf.
Tog het die ongekunstelde Isie besoekers altyd daar laat welkom voel. Met koning George VI en sy familie se 1947 besoek aan die sinkhuis het Isie met die koning en koningin gepraat asof sy hulle al jare lank geken het. Selfs Koningin Mary het aan Isie geskryf as ‘My dear Ouma Smuts’.
Marks se museum
Sammy Marks en sy gesin in 1903. Van links na regs: Girlie, Joe, Dolly, Sammy, Louis, Bertha en Phil. Ted is afwesig
In November 2005 het ons die verhaal van Sammy Marks se plaas, Zwartkoppies, en sy huis, Zwartkoppies Hall, vertel. Die huis het na verskeie aanbouings 45 kamers gehad vol ornamente en handgemaakte meubels van oorsee, en is vandag as die Sammy Marks-museum bekend.
Sammy is in 1920 oorlede en min sou hy raai dat sy plaas, wat destyds so ver uit die stad uit was, vandag al amper in ‘n voorstad geleë is. Hy het die plaas Zwartkoppies in Desember 1883 vir £1 400 gekoop. Dié plaas was langs Hatherley, wat toe aan Alois Hugo Nellmapius behoort het.
Rondom Oktober 1881 het Nellmapius saam met die maatskappy Lewis and Marks, bestaande uit Sammy Marks en neefs Isaac en Barnett Lewis, beter bekend as Barney Barnato, ’n onderneming met die naam ‘De Eerste Fabrieken’ gevorm.
Die gerestoureerde huis is vandag die Sammy Marks-museum
Sammy is in sy veertigs met Bertha Guttmann getroud en hulle het nege kinders gehad. Hy was ‘n sakeman wat tussen 1880 en 1920 ‘n groot rol in mynwese, nywerheid- en landbou-ontwikkeling gespeel het.
Sammy was ‘n goeie vriend van Paul Kruger en toe Kruger fondse nodig gehad het om die treinspoor na Delagoabaai te voltooi, het Sammy dit vir hom gereël. Sammy was ook vriende met verskeie Boere en Britse generaals in die Engelse Oorlog.
Lord Roberts, opperbevelvoerder van die Britse magte, het by Sammy aangegaan net voor die Slag van Donkerhoek wat naby Zwartkoppies afgespeel het. Die Vredesooreenkoms van Vereeniging is op Sammy se maatskappy se gronde in Vereeniging opgestel. Hy is in 1910 as senator aangestel.
|