Vreethans onthou die kuiermense PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 26 September 2016 17:51
Untitled Document

Veertien jaar gelede, in September 2002, het ek en Metgesel die heel eerste ‘vreetsame’ kuiertjie by ‘n Bronbergse afsaalplek ingewerk en daaroor vir die Bronnie verslag gedoen. Kuierplekke in die gebied het oor die jare heen gekom en gegaan en betreklik min het bly staan. In hierdie spesiale verjaaruitgawe onthou ons ‘n paar kuierbesoeke uit die Bronnie se kinderskoenjare. Die fokus val op landelike restaurante en op die mense wat die plattelandse plekke bedryf het. Ons kies die kuiers, nie oor dit noodwendig die ‘beste’ was nie, maar juis oor dit ‘n vastrapplek in die geheue gekry het. Ons onthou . . .

Nikos: Zwavelpoort

Nico en Lynette Breytenbach by die destydse Nikos

Nico en Lynette Breytenbach het in die Bronnie se beginjare ‘n kuierplek by die ou Zwavelpoort-sentrum gevestig en dit Nikos genoem. Nikos was ‘n volbloed plattelandse afsaalplek waar die mense van die omgewing mekaar leer ken het en vriende geword het.

Die gemoedelike egpaar Breytenbach (Nico ‘n Bosvelder van oorsprong en Lynette ‘n Bolander) het eerlike boerekos en egte boeregasvryheid voorgesit. In die heel eerste Bronnie het Vreethans vertel dat ‘n kuier by Nikos voel soos om ‘n naweek plaas toe te gaan. Hy het ‘n kerrieafval teen ‘n hele R37 verorber en Metgesel ’n hoender-schnitzel teen R28.

Die Breytenbachs is later gedwing om Nikos se deure te sluit omdat die sentrum se eienaars ander planne vir die plek gehad het. Hulle woon nog in die gebied.

Die Werf: Olympus

Die Werf se Taphuis

Chris Thirion het ‘n geskiedkundige opstal in Olympus omskep in ‘n legendariese kuierplek wat hy Die Werf genoem het. Vreethans noem Die Werf in April 2003 se Bronnie “’n rustige oase wat midde in die koorsagtige ontwikkeling van dié eertydse plotgebied bly staan het”.

Die ou opstal was die perfekte tuiste vir ‘n kuierplek wat met dekor en geregte op die tradisionele gefokus het. Chris self was met ons besoek aldaar die ‘pratende spyskaart’. Vreethans het beesstert geniet en Metgesel se keuse was volstruisnek.

Die oud-generaal het die restaurant ongelukkig verkoop en vandag word dit bedryf as Blos Café.

Rafters: Mooikloof

Joan en Joe Duarte

Joan en Joe Duarte het die eerste weergawe van Rafters by die ‘nuwe’ B-House-sentrum in Garstfonteinweg-verlenging oorkant Mooikloof op die been gebring en ons berig in Mei 2003 dat dit ‘n ‘welkome nuwe afsaalplek’ vir die gebied is.

Joan en Joe het hulle gaste met natuurlike gemoedelikheid en opregte vriendelikheid dadelik laat tuis voel en ‘n kuier by die plekkie is gekenmerk deur gemaklike geselskap, spontane humor en baie lag. Die kroegie wat op die boonste vlak was, was knus en verwelkomend.

Metgesel het op dié mooi dag in Mei hoendervlerkies en skyfies teen ‘n allemintige R20 bestel en ek het beeskerrie met rys en ‘n mengelslaai teen R22.95 geniet.

Ons was jammer toe die Duartes besluit om PE toe te verhuis. Joan se broer, Eddie Williamson, en sy vrou, Arline, het Rafters oorgeneem en uitgebou tot die baie groot en gewilde plek wat dit vandag is.

Bronberg Lodge: Zwavelpoort

Faan Smuts

In Oktober 2004 berig Vreethans dat Faan en Issie Smuts ‘n kuierplek in hulle oorgeboude opstal op Zwavelpoort gevestig het wat die leemte wat ‘n toegemaakte Nikos gelaat het “met waardigheid sal vul en op die koop toe ‘n paar verfrissende eiegede met hom sal saambring.”

Faan en Issie se Bronberg Lodge met sy Golden Mole kroeg sou inderdaad in die opvolgende jare dié plattelandse kuiertuiste by uitstek vir die omgewing se mense word en sy eienaars sou diep spore in hulle harte trap.

Hier kon jy tradisionele kos uit die boonste rakke kry wat met Faan se spesiale stempel telkens vir ‘n onvergeetlike eetervaring gesorg het en hier kon jy welkom tussen vriende uitspan.

Faan was ‘n Weskuster van oorsprong, ‘n innemende storieverteller en humoris met ‘n wye vriendekring en ‘n ruim hart. Hy is op 26 Augustus 2011 oorlede.

Faan en Issie se plek staan nog op die hoekhoewe oorkant die Zwavelpoort-koopsentrum. Dit is nou Die Bronberg Wynlandgoed en Faan se tradisionele geregte word nog voorgesit. Die plek is aansienlik uitgebrei en spog ook met die Faan Smuts kapel.

Formosa: Bashewa

Jurita en Ella Lösch

Een van die jammerste verliese vir die Bronberg-gebied was die dag toe die susters, Ella en Jurita Lösch, besluit het om Formosa se deure weens veiligheidsoorwegings finaal te sluit. Hulle bedryf nog ‘n gastehuis op die mooi hoewe op Bashewa, maar die susters en hulle mans (twee broers) se gemoedelike teenwoordigheid en aansienlike kookvernuf word sekerlik deur menige Bronberger gemis.

Sondagmiddagetes by die gesusters Lösch het herinner aan ‘n kuier by familie waarvan jy hou. In 2006 het ‘n bord boerekos R35 gekos en jy het presies dieselfde ete geniet as wat die gesin die betrokke Sondagaand by hulle hoewehuis om die hoek by sou aansit.

Pheasants Nest ens, ens . . .

Die ou Zonked Guinea Fowl het vandag se LJ’s geword

In 1994 het wyle Eddie Saffy en sy vrou Karin ‘n kuierplek op Tierpoort maak staan wat oor die jare heen ‘n landmerk in die gebied geword het. Soos die jare verloop het, het die plek veelvuldige eienaars, karakters en ‘n verskeidenheid name opgelewer, maar dit het bykans deurlopend afsaalplek en dorslesplek vir die mense van die gebied en uitvlugplek vir menige stedeling gebly.

Vandag is dit LJ’s, maar dit is deur die Saffy’s begin en bedryf as Pheasants Nest tot weerlig dit in 1999 laat afbrand het en ‘n nuwe, kleiner weergawe neffens opgerig en deur hulle The Zonked Guinea Fowl gedoop is.

Ons onthou die kuiers in die ou Pheasants Nest saam met die innemende Eddie en sprankelende Karin. Saam met rugbylegende, John Knox, het Vreethans en Metgesel ‘n ordentlike gesels en kuier aldaar ingewerk toe dit Bull ‘n Bush geheet het. John is intussen ook oorlede. Dit was ook weer Bull en Bush toe Karen en Dirk van der Walt as ‘locals’ jou weer by die plek laat tuis voel het.

Die plek het ook langs die pad gedra aan name soos Road Runners Pub, Cool Cats, The Playground en Ed’s Place – toe Karin dit weer vir ‘n wyle bedryf het.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online