Rondloperhonde maai onder Mooiplaats se kleinwild PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 26 September 2016 17:50
Untitled Document

Carina Kotze is ’n diereliefhebber van Mooiplaats. ’n Tragedie is besig om voor haar oë af te speel en sy het die Bronnie vir hulp genader om die eienaar van twee rondloper-honde te probeer opspoor. Hier vertel sy wat besig is om te gebeur en ook dat haar ander bure se reaksie op die honde se vernietigingspoor dalk die honde se dood tot gevolg kan hê.

Carina Kotze

Ek is dringend op soek na die eienaar van twee honde, ’n Alsatian en Rottweiler, wat waarskynlik in die omgewing tussen die Mooiplaats-grondpad en die Boschkopse Polisiekantoor woon.  

Hulle is die afgelope ses weke al vyf tot ses keer opgemerk op ons plot (nommer 178), ook op plot 179, ’n leë plot op die hoek tussen plot 178 en plot 175 (Marais), en ook op plot 176, ’n leë plot skuins oorkant Cullen Stables.  

Dié honde het eers my stalkneg bestorm terwyl hy besig was om die perde gras te gee. Ons is drie gesinne wat hier woon en almal het honde. Hulle veroorsaak ‘opgewondenheid’ onder ons honde, wat toegemaak is, en mekaar dan gryp. 

Die ergste is egter dat hulle hier jag en onskuldige diertjies doodbyt. Hulle het al twee van ons mak hase wat hier vry rondwei doodgebyt. Op 24 Augustus het ek gesien hoe jaag die Rottweiler die duikertjie op plot 179 (een van die leë plotte). Ek pas al vier jaar lank die twee duikertjies op deur vir hulle kos en water uit te sit.


Dié steenbokrammetjie is op 24 Augustus deur die rondloperhonde doodgebyt

Ek het die honde verjaag en die Alsatian is deur ’n gat in die rigting van Cullen Stables en die Rottweiler is oor plot 179 in die rigting van die polisiekantoor. Daarna het ons ontdek dat hulle toe reeds ’n steenbokkie doodgebyt het op ons plot. Die een duikertjie is ook dood en die ander een is nou weg. Ek het hom vir twee weke nog nie weer gesien nie en hoop maar hy is gesond en kom weer terug. 

Hulle is twee mooi en goed versorgde honde met halsbande aan. Ek aanvaar dis iemand se troeteldiere wat lief is vir hulle, daarom skryf ek en probeer die eienaar opspoor. Ek het ook ’n kennisgewing by Savemor, die veearts en Farm Barn opgesit. Ek het rondgery en was by verskeie bure, maar niemand kon my help nie. 

Simpatie vir dié honde word nie oral gedeel nie. As jy die eienaar van ’n Rottweiler en Alsatian is, moet asseblief nie dink dat dit nie jou honde is nie, want jy glo dalk jou honde loop nie rond nie en is onskuldig by die huis. Hulle is nie! 

Hier is kinders wat met hulle klein hondjies gaan stap en speel op die plot. Ons is bevrees dat die honde ’n gevaar kan inhou vir kinders en ons ander diere. Ek wil graag ’n verdere tragedie verhoed vir ons en vir  die rondloperhonde. Ek het nie die hart om hulle iets aan te doen nie, maar nie almal voel soos ek nie. 

Maak asseblief seker die honde kom nie meer uit nie! Vir meer besonderhede of bewyse, skakel my gerus by 083-293-0106. 

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online