Basbepeinsing die heel gewildste PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 26 September 2016 17:49
Untitled Document

Anders as met vorige verjaaruitgawes van die Bronnie, gaan ou Poon dié keer nie uittreksels uit vorige aflewerings opdiep om die verjaardag te herdenk nie. Nee, ek het besluit om die gewildste Poon-rubriek, sedert die Bronnie ‘n webblad het, weer met julle te deel. Dit is nou die een wat die meeste trefslae op die blad se trefteller geregistreer het. En dit is dié een . . .

Dis juis toe ek anderdag so lekker op my bas onder die boom sit en peins dat dit by my opkom; ons mense wat hierdie mooi taal praat is behep met ons agterwêrelde. Ons is so oorhoops met daardie donker deel van die anatomie dat jy joune nie behoorlik kan draai nie, of dit peul in die een of ander vorm in ons gesprekke uit.  

Langs die pad het ons ’n legio versagtende name vir die agterent uitgedink en dit vind ek vreemd, want op sy amperse ergste beskryf dié onskuldige woordjie tog net ’n holte – in die grond of iewers.

Ons gebruik dit rojaal as ons skinder: “Hy het met sy . . . in die botter geval, maar moenie dink hy sal sy . . . lig om iemand te help nie. Nee, hy sit mos liewer heeldag daarop en niksdoen nie. En as hy syne wel die slag in rat kry en dit dan beweeg, moet sy stomme vrou hare roer om al agter syne te loop en optel en dit begin nou krap aan myne.”

Moet nou ook nie vir ‘n oomblik dink dat daai krap bloot gebeur omdat dit daar jeuk nie. Nee, ons diep veel ruimer die beeldspraak binne as ons met ons agterstewes omgaan. As iets aan iemand s’n krap, is dit oor genoemde iets hom irriteer. En as dié irritasie te kwaai raak kan dit maklik ’n verskriklike volheid daar onder veroorsaak. As die ding eers vol is, dan is die duiwel natuurlik los.

Sou dit jeuk beteken dit ook nie dat dit gekrap wil word nie, maar wel dat die eienaar daarvan s’n brand om iets onbesonne aan te vang wat hom waarskynlik syne gaan laat sien. En dit kan veroorsaak dat ’n leedvermaker dalk syne aflag. ’n Volksvreemde sou waarskynlik hiervan nie kop of . . ., wel, hy sou nie verstaan nie, maar vir ons praters van die wêreld se jongste taal, maak dit perfekte sin. Om een skoon te maak, het byvoorbeeld niks te doen met goeie badkamermaniere nie, maar dui eerder op ’n baie haastige vertrek. Probeer ’n bietjie om die skoonmaak-een te vertaal en jy gaan joune straks afsukkel.

Hoe arm sou ons taal tog nie aan selfstandige naamwoorde wees, sonder die teenwoordigheid van dié kort, dog kragtige beskrywing vir ons blakers nie.

Gelukkig kan ons nou met dié wonderlike woordjie as agtervoegsel ons medemens etiketteer sodat almal presies weet met watter soort ons te doen het. Hy of sy kan – en ter wille van ons meer sensitiewe lesers, vra ons dat jy hier weer self die agtervoegsel bydink – ’n arm een of ’n ryk een wees.

Ons ken almal ’n slap- en ’n slim-,’n los-, ’n dom-, ’n maer- en ’n vet-,’n wind-, ’n kla-, ’n kerm-, ’n bang-,’n flenter- en ’n ou grap-. Dit sou werklik ’n -slag wees as ons die dag nie meer dié beskrywings kon gebruik nie.

Om oorle vriend Louw aan te haal, is dit elkeen se onvervreembare, demokratiese reg om langs die pad een van hom- of haarself te maak. Party ouens is sommer net ’n regte een, of dalk ’n opperste een opsigself – en hier gebruik ons gewoonlik die langer, beskrywende weergawe van die woord.

Iemand wat dink die son skyn uit syne uit, kan ’n baie groot een wees. Of iemand wat, om met my oorle oupa Boy se kalf te ploeg, só onnosel is dat hy met sy vinger moet voel waar syne is, sal hierdie bepeinsing straks glad nie verstaan nie en hy sal maklik sommer sy . . . daaraan afvee.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online