Ons onthou 14 stories oor mense en hulle diere PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 26 September 2016 17:49
Untitled Document

Oor die afgelope 14 jaar het ons menige stories oor die spesiale band tussen mens en dier geskryf. Of dit nou perde, beeste, donkies, hoenders, honde, katte en konyne is of selfs ‘n uil, springbok, sebra, jagluiperd en ‘n luislang . . . of die mense nou met hulle boer, skou, spog of net vertroetel, hier onthou ons weer die verhale oor lesers se diere.

Alexander se jagluiperd

Die 13-jaar oue Alexander Michaletos en sy jagluiperd, Anthony, het die hoofakteurs in ‘n Hollywood-film geword, berig ons in Januarie 2004. Alexander is die seun van Pedro en Rose Michaletos van Farm Inn. Die een oomblik het hy nog sy jagluiperd vir ‘n wandeling deur die Sondagmiddagete-gaste by Farm Inn geneem en toe hy sy oë uitvee is hy deel van ‘n R35-miljoen film. Alex het met Farm Inn se wilde diere grootgeword. Die ses Michaletos-kinders het gereeld met ‘n baba-leeutjie of -jagluiperd opgekrul in die bed geslaap.

Marguerite se skapies

In Julie 2003 berig ons oor organiese boerin, Marguerite Alant, en haar Ille de France skaapboerdery in Zwavelpoort. Ons het vertel hoe sy haar skape se voer self aangeplant het en die grond deeglik vir dié aanplanting voorberei het. Daar is geen kunsmis op Marguerite se plot gebruik nie en ook geen voer-wat-uit-‘n-sak-uitkom nie. Die foto wys Marguerite soos sy daagliks onder haar sambreel by haar organiese skaapboerdery rondgeloop het, Noenoe, die skaapmekêniek, by die drieling skaaplammetjies wat 12 dae uitmekaar gebore is en hulle ma, Helen. Marguerite is op 21 Januarie 2009 in die ouderdom van 70 jaar oorlede.

Piet se Dexters

Ons het in Desember 2002 geskryf oor Oom Piet van der Merwe, wat toe al bykans 40 jaar lank besig was met die teling van Dexters op Zwavelpoort. Hy het hom in 1962 op Zwavelpoort gevestig toe baie van die huidige inwoners “nog in liquid vorm was”. Hy is op 2 Januarie 2007 oorlede.

Michelle se Tiny

Tiny is ’n Rietfonteinse konyn wat slegs 4 cm lank was toe hy gebore is, berig ons in Junie 2011. Sy ma het hom verwerp en die 13-jarige Michelle Koekemoer het hom met katmelk grootgemaak. Ma-konyn het haar kleintjies in Michelle-hulle se perdestalle op plot 46, Rietfontein gekry. Michelle het gesien dat dié klein konyntjie aan die spreekwoordelike agterspeen suip en het besluit om maniere om dié konyntjie se lewe te red op die Internet te gaan opsoek.

Marien se Penelope

In Oktober 2007 het ons vir lesers ’n toneeltjie gewys wat jy nie aldag in die Bronberg (of enige ander plek in die wêreld) sal sien nie: Marien Dreckmeyr neem haar springboklammetjie vir ’n oefen-uitstappie aan ’n leiband. Die Dreckmeyrs het die bokkie by ’n groep mans gekoop wat daarmee langs die pad geloop het – heel moontlik om as aandete op te dis. Hulle het die nodige toestemming gekry om die bokkie, wat Penelope gedoop is, groot te maak met die doel om haar later by ’n gevestigde trop vry te laat.

Miné se welsynsperd

‘n Tweefontein-ruitertjie met ‘n 16-jarige afrigter van Bashewa het na die SANESA Nasionale Kampioenskappe deurgedring op ‘n geskenk-perd wat haar ma ‘n welsyngeval noem. Só berig ons in Oktober 2012. Die 13-jarige Miné de Witt en haar perd Lakera het op nasionale vlak meegeding teen ruiters met perde wat derduisende rande kos. Intussen het Miné te groot geword vir Lakera en hy bly by El Shadai Perdesentrum, Rayton, berig ons in Mei 2014. Miné hou aan presteer op haar Arabierperd, Shaprisure Intriqued.

Gesin se ark

In Maart 2004 het ons by ‘n andersoortige gesin gaan kuier. Hulle bly almal op een plot saam met ongeveer sestig troetelslange, ‘n paar likkewane en salamanders, sebras, blesbokke, perde, ‘n lot honde en ‘n saal vol opgestopte diere. Hier staan Kirsten Suckay met Blondy, die albino Burmese luislang wat 16 kg weeg en 3,4 meter lank is.

Kobus se hoenders

In April 2003 vertel Kobus Jacobs dat die hoendergogga hom in 1992 gepik het toe hy toevallig by ‘n Potchefstromer se kuikenbedryf beland het, terwyl hy ‘n hofsaak daar behartig het. Dit het vir hom na ‘n maklike soort boerdery gelyk en hy is aanvanklik wreed ontnugter. Oor die jare het daar ‘n groot aanvraag vir Kobus se hoenders ontstaan. Op die foto staan Kobus by ‘n groep braaikuikens van 40 dae oud.

Kroeg se Carlos

As jy ’n koue enetjie in Tierpoort se gewilde kuiergat geniet en jy sien skielik ’n reuse roofvoël met gestrekte vlerke by die deur inswiep, moenie bekommerd wees nie. Jy het nie te veel agter die blad nie. In Maart 2011 vertel ons hoe Karin en Dirk van der Walt van Bull & Bush ‘n uilskuiken grootgemaak het, wat in ‘n uitgevrete kroeguil ontaard het. Dirk het vertel dat Carlos elke aand gaan jag en kom en gaan soos hy wil.

Lila se sebra

In Mei 2003 het ons vertel hoe Lila Oechler dit reggekry het om Nyamazan, ‘n vier-jaar oue Burchell sebra, mak te maak. Sy sê dat ‘n sebra omtrent vyftig keer slimmer is as ‘n perd. Nyamazan word gelanseer – iets wat hy binne omtrent tien minute aangeleer het, sê Lila. Sy het ook vertel dat Nyamazan ongelooflik vinnig leer spring het en ook sonder probleme in ‘n perdewaentjie klim.

Carol se katte

Sedert 2012 het ons vertel van die werk wat Whiskers & Tails in ons gebied doen. In April vanjaar berig ons dat mede-stigter van dié veldkat-projek, Carol de Beer van Tweedragt, oorlede is. Whiskers & Tails het bewys dat rondloperkatte goed is vir ‘n hoewegebied. As hulle gesteriliseer en ingeënt word, hou hulle ander katte wat sal aanteel weg en beheer peste soos rotte en muise.

Gert se Black Magic

Gert Vorster was ‘n man wat daarvan gehou het om eerste met iets te wees. Hy was die eerste persoon in Suid-Afrika om miniatuur donkies in te voer, eerste om met die teling van nuwe miniatuur beesrasse in SA te begin, en in Januarie 2007 het Die Bronberger die eerste publikasie in die land geword wat hieroor berig het. Op die foto is Gert by Black Magic wat op ses jaar oud slegs 78 cm hoog is. Gert is ook intussen oorlede.

Marlise se Friesperde

Oor die jare het ons gereeld oor Marlise en Danie Botes van Zwavelpoort se Doorndraai-stoet berig. In Januarie 2015 vertel ons dat Doorndraai as die beste Friesperd-stoet in die wêreld bekroon is. Hulle het geskiedenis gemaak deur die eerste stoetery buite Nederland te word wat as teler van die jaar aangewys is. Doorndraai Friesperd Stoet is ‘n lid van die Friesperd Stamboek van Suider-Afrika (FPSSA) en spog met meer as 100 perde. Op die foto staan stalbestuurder, Altie Clark, links, en Marlise Botes by die ingevoerde hings, Tjalf 443 Sport.
 
Elzabé se Buffel


In Mei 2013 het ons vertel dat Buffel, die verlore Jack Russeltjie wat langs die Boschkop-pad gevind is, herenig is met sy eienaar, Elzabé Kok. Sy het vreeslik oor haar verlore hondjie getreur. Ná ‘n wye soektog na Buffel niks opgelewer het nie, was Elzabé oortuig dat haar hondjie dood is. Dit was tot haar suster, Ina Snyman, een nag in Die Bronberger gelees het dat Juanita Jamneck die hondjie gevind het en op soek was na sy mense. Juanita is elf uur daardie nag gebel en Elzabé het uitgevind dat Buffel al die tyd net drie plotte van haar af by ‘n barmhartige Samaritaan gewag het.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online