Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 26 September 2016 19:47
Untitled Document

Die radioreeks wat op verhale uit die Bronnie se koffietafelboek, ‘Toeka se Dae – Die Karakters’, gebaseer is, kan nou op Pretoria FM se webwerf afgelaai word. Die episodes verskyn as audio webgrepe nadat hulle uitgesaai is by: http://www.pretoriafm.co.za/stories-van-toeka/.

Omroeper Martin Jansen het die Bronnie se Angie Kleijn gevra om stories oor karakters uit die boek te vertel. Die reeks, ‘Stories van Toeka’, kan elke Dinsdagmiddag kwart oor twee gehoor word.

Met die Bronnie se verjaardag-uitgawe se verskyning, is daar reeds agt episodes beskikbaar om af te laai. Dit begin met die inleidingsprogram, waar Martin en Angie oor die nuwe reeks, ‘Stories van Toeka’, gesels.  In dié program raak hulle net aan die onderwerpe en noem ‘n paar karakters waaroor Angie later gaan gesels.

In die eerste aflewering uit die reeks oor interessanthede van toeka vertel Angie van die “beroemde” boemelaar, bekend as Ou Moes. Die tweede episode gaan oor Johanna Brandt, siener, skrywer en baas-spioen, en in die derde episode vertel Angie hoe dit destyds in Pretoria met sirkusse gegaan het.

In die vierde episode is Myra en haar Italianer, wat die Boere na Argentinië gelei het, aan die beurt en in die vyfde een is die storie van die wêreldbekende skrywer, Rider Haggard, wat in Pretoria gewoon het, vertel.

Die sjarmante spioen wat Kitchener gesink is die fokus van die sesde aflewering en in die sewende aflewering vertel Angie meer oor die kleurvolle karakters wat destyds saam in ‘Gaiety Bar’ op Kerkplein gekuier het.

‘Toeka se Dae – Die Karakters’ kos R295, koerier- en poskostes uitgesluit. Die boek is beskikbaar by die Bronnie se Cullinan-kantoor: skakel 012-734-0522.  Tania Potgieter lewer boeke aan mense in die oostelike hoewegebied. Bel haar by 072-089-0227.

Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

 

© 2024 Die/The Bronberger