Oupa Joof-joof se dieretuin-stories Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 26 September 2016 19:46
Untitled Document

Roy Steyn het vir die Bronnie ‘n rare foto van die personeel van die Pretoriase dieretuin gebring. Sy oupa Josef het daar gewerk en Roy het die staaltjies wat sy oupa aan hom vertel het, vir die Bronnie neergepen.

Roy Steyn

Ek praat nou onder korreksie, maar soos wat ek onthou van wat oupa Josef gesê het, was die mense op die foto wat ek geërf het, dan ook die enigstes wat by die dieretuin gewerk het. En ek praat nou van die totale staf en hulle moes alles doen, van hokke uitvee tot die olifante bad.

Oupa Josef, of soos my eie seun André hom genoem het, oupa Joof-joof, is dan aangestel as hoof van die hoef-diere. Hy moes rapporteer as daar een is wat siek lyk, hy moes sorg dat hulle kos daar is, hy moes sorg dat al die kampe elke dag natgelei word, en dat daar hooi vir hulle was om op te lê en slaap. Nee, daar is geen twyfel aan nie, oupa moes.

So ‘n paar jaar terug loop ek deur die museum hier in Pretoria en ek loop my vas teen die geraamte van ‘n yslike sjimpansee, en die geskriffie by hom sê hy was, toe hy nog geleef het, tuis in die Pretoriase Dieretuin en het ook die naam Josef gehad.

Sjimpansee
Nou glo dit as jy wil, maar van hierdie Josef het ek wel geweet. Trouens, hy was ‘n persoonlike vriend van my oupa en wanneer oupa besig was met sy pligte het Josef saam met hom deur die dieretuin gestap en oupa het gesê die ou kan nogal lekker gesels en hy was nie onwillig om hand by te sit nie.

Ek het aan oupa gesê ek sal hom met die eerste geleentheid na Pretoria toe vat sodat hy kan gaan kyk hoe ou Josef nou lyk, maar ek merk toe dat oupa heel bewoë raak en hy het my aanbod vriendelik van die hand gewys. Wou nie sy vriend so kaal sien nie.

Wat ek nog kan onthou is die olifante. Nie net onthou ek hulle nie, ek onthou ook dat die klomp Steyntjies bo-op hulle rug gery het. Ons het die hele dieretuin van ver bo bekyk.

Te veel kon ons natuurlik nie gery het nie, want so ‘n rit was nie gratis nie. Vir skoolgaande kinders was die prys ‘n sikspens en voorskoolse kinders moes ‘n tiekie betaal, oupa se kind of nie.

Sekapu
Ek moet darem nog een ding noem, al is dit net om te wys dat my oupa nie sommer ‘n hierjy se outjie was nie. Hy is gekies om ‘n jong seekoeitjie op die grens te gaan haal, iewers op die grens. Nee, ek weet nie watter grens nie, nooit vir oupa Josef gevra nie. Om die waarheid te sê, ek was seker maar onder die indruk dat daar net een grens was.

Nou mag ek verkeerd wees, maar as ek reg onthou dan was die seekoeitjie se naam Sekapu. Nee, moet my nie vra wat dit beteken nie.

Sy was amper hondmak, maar ‘n klein seekoeitjie kan ‘n baie groot man doodmaak. Onthou dit.

Wat eintlik gebeur het is dat Sekapu se ma deur die manne van die stat gedood is en toe hulle die klein seekoeitjie wou dood vir nagereg, het die kleingoed baklei. Die grootmense het hulle deel gehad, maar hierdie kleintjie was die kinders se eie. Soveel so dat hulle oplaas na die kaptein toe is en hy het gesê hulle mag maar die seekoeitjie vir hulle hou op voorwaarde dat daar elke dag twee van hulle sal wees wat vir Sekapu water toe sal neem en haar sal laat wei waar daar lekker gras is.


Dié foto is tussen die Eerste en Tweede Wêreldoorlog geneem. Roy se oupa, Josef Markus Fourie, staan in die derde ry, derde van links af. Aan sy regterkant, vierde van links af, staan sy goeie vriend, Jenkins. In die voorste ry sit dr Gunning, stigter van die Pretoriase Dieretuin, langs die vrou. Ongelukkig weet Roy nie wat die ander bewaarders se name is nie

Plan
Die plan was aanvaar en aanvanklik was almal tevrede. Let asseblief dat ek sê ‘aanvanklik’ want ‘n klein seekoeitjie het mos die gewoonte om, sou sy kos en water kry, te groei tot ‘n groot seekoei wat eintlik kan ontwikkel in ‘n gevaarlike situasie.

Sy het dan ‘n plan bedink wat gesorg het dat sy nooit honger sou word nie. Sekapu het gewag totdat sy met die kraal se jongelinge aansit by die pappot en dan het sy die klomp bestorm en met ‘n gesnork, geblaas en met ‘n gesperde bek het sy hulle uitmekaar gejaag.

Die gevolg was natuurlik dat Sekapu vinniger as ander seekoeie gegroei het en dat die jong klomp van die kraal al hoe meer ribbes begin wys het.

Die kaptein het besef dat dié probleem net groter en vetter gaan word en hy kontak toe vir dr Gunning. Die doktor kan vir Sekapu kry, heeltemal gratis en verniet, op voorwaarde dat die dieretuin haar moes gaan haal.

Grens
Omdat daar ‘n berg van rooi lint tussen die grens en Pretoria gelê het, is daar op ’n kortpad besluit: die kraal vat haar grens toe en dr Gunning vat haar dan tot by die dieretuin.

So gesê, so gedaan. Twee piekaniens het vir Sekapu tot by die grens gevat en my oupa is afgevaardig om die seekoeitjie tot by die stasie te vat en hy het dan ook saam met Sekapu op ‘n oop wa tot in Pretoria gery.

Sekapu het gou aangepas. Natuurlik kan ek nie vir die waarheid van die storie instaan nie, want oupa het altoos gesê jy moet nooit toelaat dat ‘n mooi storie deur ‘n klomp feite bebodder word nie.

Skouer
Nee wag! Moenie nou al omblaai nie, ek is nog nie klaar nie. Kyk mooi wat sit op die ou se skouer wat in die agterste ry op die foto staan. Ek dink dit wys dat daar nie sulke streng reëls was soos ons nou het nie.

En dit vat my weer terug na die twee Josefs. Al die bewaarders het sewe uur in die oggend begin werk en dan om 10 uur het almal saam in die personeelkamer vergader vir ‘n koppie tee en miskien ‘n toebroodjie. Josef, die sjimpansee, het dan ook by die tafel aangesit en sy beker ook op die tafel gesit.

Elke dag was dieselfde. Jenkins het Josef se beker volgemaak met tee uit sy fles en dan was die duiwel los. Hy het begin skree, die vloer geslaan, stoele omgekeer en eintlik die perfekte vloermoer gegooi.

Soet
Oupa Josef het dan vir die ander Josef geroep en het sy beker met oupa se soet tee volgemaak. Dadelik was alles weer maanskyn en rose en Josef, die aap, het styf langs oupa, die bewaarder, se sy ingeskuif.

Dit was die ritueel, elke liewe dag en die volgende oggend sal dieselfde toneel hom weer afspeel daar in die personeelkamer.

As hulle by die personeelkamer uitstap, sal Josef Jennings se hand vat en so ‘n entjie saam met hom stap, net om te wys daar is geen kwade gevoelens nie. Altans, geen kwade gevoelens tot more se teetyd nie.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger