Dot Els Chalmers skryf na aanleiding van ‘Is die dalk jou voorsate se grafte?’, wat in Desember 2015 se Bronberger verskyn het. Hier vertel Dot hoe die storie in die Bronnie hulle hele familie geraak het.
Dot Els Chalmers
Dit het by my opgekom hoe ‘n ongelooflike stukkie geskiedenis deur julle tydskrif aan ons familie ontbloot is.
Sonette du Toit het inligting verskaf, tesame met foto’s van grafte wat hulle op hulle plaas ontdek het. Die grafte was ‘n hele paar kilometer van waar ons familieplaas is en ek het yskoud geword toe ek die name op een van die grafte herken as die van my pa en sy broer.
My pa en sy broers is almal op ons familieplaas te Kleinfontein begrawe. So, hoe hierdie grafte op Sonette-hulle se plaas beland het, wou ek dadelik weet en ek het my pa se enigste oorlewende suster gekontak.
Dot Els Chalmers
Nadat ek die foto ook vir haar aangestuur het, het die groot trane gekom. Die storie wat volg was vol hartseer:
My ouma het blykbaar by haar ouers / familie op die plaas, waar Sonette-hulle nou bly, gekuier. Daar is gebak en bottels ingelê (sekerlik vir Kersfees). My ouma was swanger met ‘n tweeling en het ‘n miskraam gehad.
Daar is besluit om die tweeling (twee seuns) daar te begrawe, aangesien dit nog te lank sou wees voordat sy sou terugkeer na hulle eie plaas op Kleinfontein. Dus het die een seun my pa en die ander seun my oom se name gekry.
Tesame met hierdie inligting van my tannie het ek soveel nog uitgevind van my ouma, wat ongelukkig oorlede is toe ek in standerd twee was, maar ek kan haar as ‘n baie unieke klein mensie onthou.
“Hier rus Andries Petrus Els en Christiaan Phulluppes Els, gebore en overleden
22 November 1907. Ouers CP en EW Els” |
Die huishulp se graf
.
. |
In hierdie proses sê my tannie ook dat daar ‘n graf moet wees van ‘n huishulp wat vir my ouma gewerk het. Sy is ook in die tyd wat my ouma daar gekuier het aan een of ander koors oorlede en hulle het haar daar by die tweeling begrawe.
Ek kontak toe weer vir Sonette wat die oorspronklike foto’s geplaas het en vra of daar dalk nog ‘n graf is? Groot was my verbasing toe sy terugkom met ‘n foto van die huishulp se graf.
Hierdie was vir ons kinders, kleinkinders en agterkleinkinders ‘n storie waaroor daar seker nog lank gepraat sal word en ek kan net dink watter hartseer my ouma moes deurmaak om haar kinders te moes verloor en sonder hulle te moes terugkeer na haar huis.
Ek bedank Sonette vir die foto’s en ook vir Die Bronberger, ‘n wonderlike tydskrif. |