Wat om te verwag van die belasting-seisoen PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Monday, 26 September 2016 17:45
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton

Hier dink almal dis net lente . . . Nee, hierdie seisoen is daardie aaklige gedrog wat op 1 Julie elke jaar sy oë oopmaak en veroorsaak dat niemand anders snags hulle s’n kan toemaak nie.

Hulle rol in die nagte rond en kry nagmerries oor: “Moet ek ‘n opgawe indien?” “Wat kan ek terug eis?” “Hoe en waar dien ek my opgawe in?”

Die gedrog se naam is Belasting en eintlik is hy heel mak en skaflik sodra ’n mens aan hom gewoond is. Terwyl almal nou in die middel van dié monstertyd is, wil ek graag ‘n bydrae lewer om persoonlike inkomstebelasting te tem. Kleiner happies kou makliker, so kom ons breek hom af en begin heel voor.

Tot wanneer het ek tyd om my opgawe in te dien? In Afrikaans – wanneer kan ek weer ordentlik slaap? Vir diegene wat nie op die voorlopige belastingregister is nie, salaristrekkers wat ‘n IRP5 ontvang, is dit net 21 weke van spanning tot 25 November. Die res het tot 31 Januarie.


Lianie O’Neill

So, moet ek ‘n opgawe indien of nie? Die antwoord is ja indien jou jaarlikse inkomste soos volg daarna uitsien: Jy is jonger as 65 jaar en verdien meer as R350 000; jy is 65–74 jaar oud en verdien meer as R114 800; jy is 75 jaar of ouer en verdien meer as R128 500.

As jou jaarlikse inkomste minder as bogenoemde was, is daar egter nog ‘n paar voorwaardes waaraan voldoen moet word. Jy moet steeds jou opgawe indien as jy ja kan antwoord op enige van die volgende:
Het jy meer as een IRP5 ontvang? Het jy ‘n sake-onderneming bedryf? Het jy ‘n reistoelaag, bestaanstoelaag of openbare ampsbekleërstoelaag ontvang (kyk op IRP5 na kodes 3701, 3702, 3704 en 3708)?

Besit jy buitelandse bates of beleggings met ‘n waarde van R225 000? Het jy ‘n plaaslike kapitaalwins/verlies van R30 000 gegenereer? Het jy ‘n buitelandse inkomste verdien of buitelandse kapitaalwins/verlies gegenereer?

Besit jy regte/aandele in ‘n Beheerde Buitelandse Entiteit (BBE). Is jy deur die SAID versoek (per e-pos of telefonies) om ‘n opgawe in te dien?

Indien jy nee geantwoord het op al dié vrae is dit steeds jou keuse om ‘n opgawe in te dien as jy lid was van ‘n mediese fonds of bydraes gemaak het tot ‘n uittredingsannuïteitsfonds.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online