Lazarus-perd hou aan verstom PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 26 September 2016 17:42
Untitled Document

Juanita Jamneck

In Die Bronberger se agtste verjaardag-uitgawe in September 2010 is berig oor Liberty’s Anywhere Anytime, wat die dood gefnuik het deur die West Nile-virus te oorleef. Hy het toe pas op die Pretoriase Skou van 2010 gewen.

In daardie stadium was almal reeds verbaas oor die perd se prestasie aangesien hy in 2008 maar slegs ‘n 20% kans op oorlewing gegee is en waarskynlik nooit weer gery sou kon word nie. Intussen het Anytime bewys dat hy ‘n fenomenale perd is.

Om maar net ‘n paar van sy prestasies te noem: In 2011 was hy die Gauteng-Noord Spogperd Kampioen en Reserwe Ryperd Kampioen en in 2012 was dit net omgekeerd: Reserwe Spogperd en Kampioen Ryperd.

Hy was ook in 2012 die Kampioen Werkperd by die Gauteng-Winterfees en het in 2011 en 2012 aan die Gauteng-Streekskompetisie deelgeneem as deel van die Gauteng-Noordspan. In 2013 was hy weer Reserwe Volwasse Skouperd op die Pretoriase Skou en in 2014 was hy die Kampioen Junior Skouperd.


Anytime en Ashley Berndt

Anytime het voortgegaan om aan dresseerskoue deel te neem en het telkens baie goed gedoen. Hy het deur die grade gevorder maar in 2015 moes hy noodgedwonge van ruiter verander en kon hy nie so baie soos in die verlede deelneem nie.

Aan die begin van 2016 het hy weer van ruiter verander en het Ashley Berndt, wat self ‘n kampioenruiter is en in 2014 die SA Boerperd Kampioenskap met haar Lang Carel Trompie gewen het, hom begin ry.

Dié twee het bykans elke skou in 2016 waaraan hulle deelgeneem het, gewen en het ook gekwalifiseer om aan die Gauteng-Dresseerkampioenskappe deel te neem – ‘n besondere prestasie omdat slegs die top 15 perde uit 32 wat deelgeneem het, kon kwalifiseer.

Anytime en Ashley het ook vanjaar aan die Misty Meadows Silver Star dresseerreeks deelgeneem en het die eerste naweek in September as die wenners van die Elementêre Medium-afdeling met die trofee weggestap.

Anytime is nou ook opgradeer na die Medium-groep – ‘n prestasie wat baie min perde behaal en wat nog meer uitsonderlik is omdat hy ‘n relatief klein volbloed (Thoroughbred) is en die ras nie gewoonlik tot so ‘n hoë vlak in die sport vorder nie.

Liberty Stalle is baie trots op die ongelooflike Anywhere Anytime wat in 2008 deur sy veearts op sy ontslagvorm by Onderstepoort as “truly a miracle horse” beskryf is.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online