Veertien jaar later . . . PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 26 September 2016 17:20
Untitled Document

In September, ‘n volle veertien jaar gelede, is die heel eerste uitgawe van die Bronnie op die gemeenskap van ons gebied losgelaat. En ons het asem opgehou . . .

Ja, ons het geweet dit is ‘n enorme waagstuk om ‘n onafhanklike publikasie sonder enige rugsteuning van die grond af te kry en aan die gang te hou. Maar ons het ook geglo dat Die Bronberger ‘n leemte sou vul. Ons was gevul met geesdrif, geloof en vertroue. Met die nodige ondersteuning van ons lesers en adverteerders, sou ons die pyp kon rook . . .

Daardie eerste uitgawe het net ses advertensies gedra, maar skaars was dit in die hande van die mense van die Bronberg-gebied of die oorweldigende reaksie het begin instroom. Die positiewe reaksie van ons lesers het metterwoon begin deurwerk na adverteerders en die Bronniewiele het begin rol.

In hierdie spesiale uitgawe om ons 14e verjaardag te herdenk, spog ons met 110 gewaardeerde advertensies. Ons versprei meer eksemplare as gewoonlik om meer mense te bereik as deel van ons dankiesê-geskenk. Samestellings uit van die gewildste, gereelde artikels en rubrieke uit die afgelope 14 jaar se Bronnies word as terugblik in hierdie lywige gedenkuitgawe geplaas.

Vriende (ook dié uit die mediawêreld) vra soms wat die Bronnie se geheim is. Hoe het ons in die uiters kompeterende publikasiewêreld as onafhanklike gemeenskapstydskrif so lank bly staan en selfs gegroei? Die kern van die antwoord op hierdie vraag, lê moontlik by die meelewing van ons lesers. 

Die Bronnie word telkens in ons lesers se Bronberghuise verwelkom. Elke uitgawe word deeglik en met oorgawe gelees – ook die advertensies. Ons lesers maak gebruik van adverteerders se produkte en dienste. Hulle ondersteun ons adverteerders (die Bronnie se lewensbloed) en dit lok meer en gereelde advertensies.

Dit is moontlik een antwoord op die vraag oor wat ons geheim sou wees. Die ander een is – ‘net genade’.

Dankie aan elke leser en adverteerder wat die veertienjaarpad saam met ons geloop het. Met julle ondersteuning en meelewing – en die genade, kan ons uitsien na nog baie gelukkige Bronnieverjaardae.  

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online