Gebied verander oor jare PDF Print E-mail
News - Briewe
Monday, 26 September 2016 17:16
Untitled Document

Ria Pieterse van die plaas, Kleinfontein skryf:
Die afgelope 32 jaar het die ooste van Pretoria geweldig uitgebrei. Onlangs was ek al twee keer in die stadsuitbreiding en het sowaar elke keer verdwaal. As ek so rondom my kyk is die uitbreiding van Pretoria in die Bronberg-omgewing ongelooflik groot. Wie sou kon dink dat Pretoria-stad so sou uitbrei?

My pa het in die jare vroeg 1950's by Cullinan in die poskantoor gewerk en naweke per trapfiets na Pretoria gery om by die jeugbond se samekomste teenwoordig te wees.

Natuurlik het hy al die pad ook gery om by my ma te kuier. Albei my ouers is nou oorlede. Ek ken die omgewing van Donkerhoek, Rayton en Cullinan al sedert 1967. Die Donkerhoek-grondpad vanaf die ou Bronkhorstspruitpad was een van die mooiste kronkelpaadjies jare gelede; dit het so kronkel-kronkel tussen groot bome langs geloop. Die N4-snelweg was nog nie daar nie. By die poort het dit gespook, is vertel. ’n Jong vrou wat saam met jou ry en weer uitklim was die verhaal.

Fondsinsamelings is gehou deur die boerevereniging suid van die tolhekoprit in die wattelbos langs die R515. Die fondsinsamelings het gegaan aan barmhartigheid. Daar is met perde resies gejaag en kosstalletjies was volop op Nuwejaarsdag. Op Oujaarsaand het die mense op dieselfde plek gedans en vrolik gewees.

Vooruitgang is nodig, maar soos my ou pa later jare gevra het, kan ek hier ook herhaal. Kan iemand vir my sê: “Waar kom al die mense vandaan?”

Geluk met die Bronnie se 14 jaar van vooruitgang.

 

© 2019 Die/The Bronberger