Dankie aan kiesers Print E-mail
News - Briewe
Monday, 26 September 2016 19:14
Untitled Document

Danie Erasmus van Cullinan skryf:
Menige van u sou seker wonder waarom die DA kandidaat nie net ‘n woord van dank kon spreek vir die lang ry met geduldige gewag om u kruisies te trek nie. Ons tradisionele steunbasis het in groot getalle opgedaag en gestem.

Daarenteen was daar verskeie faktore wat die ANC se stem beïnvloed, soos die verdeling van gemelde party se stemme tussen die EFF, die wegblystem en die onafhanklike kandidaat, wat veral in Lethabong en Pienaarspoort groot steun gehad het.

Die uitslag: ANC – 3 644; DA – 3 570; EFF – 1 086; VF+ – 438; en Onafhanklik – 294. Dit was ‘n belangrike kwessie gedurende die veldtog oor ‘n stem vir kleiner partye, maar in Wyk 100 is die ANC terug in die saal vir nog vyf jaar met ‘n meerderheid van 74 stemme.

Oordeel dus maar self watter rol kleiner partye gespeel het.

Ander faktore wat die uitslag uitsonderlik maak is die 94 bedorwe briewe, wat baie hoog is in die afgelope verkiesing. Verder was die foutiewe aflewering van stembriewe tussen Cullinan Landbou en Cullinan Gekombineerde Skool, die tekort aan stembriewe by sommige stemlokale, die kragonderbreking om 6.30 nm in Refilwe en die bevoordeling van die ANC met 30 stemme aan die proporsionele kant, ‘n groot bron van kommer.

Op 6 Augustus het ek met die OVK gesit om laasgenoemde reg te stel. Hoewel dit in my teenwoordigheid verander is, is daar tot nou toe geen verandering op die OVK se webwerf nie.

Die party het Maandag 8 Augustus beswaar aangeteken en versoek gebring vir die oortel van stemme.

Die versoek is geweier. Derhalwe is die party se prokureurs besig met die voorbereiding van ‘n hofaansoek vir die oortel van die stemme. Gevolglik het ek gewag op ‘n positiewe uitslag vir my, maar noudat soveel tyd verbygegaan het, moet ek dankie sê en as ek na oortel die wenner is, kan ek maar weer dankie sê.

Ek wil graag aan elke kieser van Zonkolol tot Zonderwater, van Kaalfontein tot Kopanong, van Rietfontein tot Refilwe en Phumzile Park tot Pienaarsheuwel baie dankie sê vir die gebede, ondersteuning, bereidwilligheid en hulp.

‘n Uitsonderlike woord van dank aan Theo Rossouw, Erich Kohn, Hennie Groenewald en Saartjie Human wat nie net die hele dag nie, maar ook die telproses waargeneem het.

Ek bedank ook vir diegene wat nie vir my gestem het nie. Daar is altyd ‘n wenner en ‘n verloorder, want sonder dit kan ‘n demokrasie nie die wil van die kiesers weerspieël nie.

Brief verkort. – Red

 

© 2020 Die/The Bronberger