Andries se waterwiel in die Apies word Meintjes se meule PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 23 August 2016 20:24
Untitled Document

Angie Kleijn

Eens was daar ‘n waterwiel in die Apiesrivier en die storie van sy oorsprong begin by Pretoria se eerste landdros en maak ‘n draai by ‘n rits bekende name uit toeka se dae.

Van Arcadia Meule en Meintjes Meule tot De Loor’s Bakkery en Boerstra Bakkery by Meintjesdrift, Meuledrift, Leeudrift, Arcadiabrug en Leeubrug  . . . alles langs die Apies in Kerkstraat-oos.


Die waterwiel en meule op die oewer van die Apiesrivier, wes van die brug, geskilder deur WH Throne, gedateer 19 Augustus 1887
Bron: Universiteit van Pretoria

Andries
Die eerste man wat hier gebou het was Andries Francois du Toit, gebore op 8 Augustus 1813 op die plaas Eerste Rivier in die Stellenbosch-distrik. Sy pa, Jacobus Francois du Toit, was die vierde generasie Du Toits aan die Kaap en sy ma, Gertruda Johanna Buykes, was van Vlaamse afkoms.

Andries het aan Stellenbosch studeer om vir studies by ‘n teologiese instelling in Holland te kwalifiseer. Voor hy na Europa kon vertrek het hy siek geword. Te wyte aan chroniese borsprobleme is hy aangeraai om nie die gevare van seevaart te trotseer nie en om eerder na die droë Karoo-lug te trek.

Hy het op die plaas Grootfontein in die Beaufort-Wes distrik gaan woon en met Elizabeth Getruda Jacoba de Villiers getrou. Hulle het tien kinders gehad en om dié groot gesin te onderhou het hy koop-, verkoop- en ruiltransaksies met die trekboere in die Caledon-distrik gedoen, asook met die Voortrekkers noord van die Oranjerivier.


Andries du Toit
Foto: Melvin Residence

President Marthinus Wessel Pretorius
Foto: Wikipedia

Gerugte het gelui dat Andries dit glo nie nodig geag het om by die letter van die wet te hou nie en hy het vuurwapens en ammunisie oor die Grootrivier gesmokkel. Kort voor lank is hy in ‘n lokval gelei en in hegtenis geneem, maar hy het ontsnap en na die Vrystaat gevlug.

Terwyl hy daar nog gesoek het na maniere om ‘n lewe te maak het kommandant-generaal Andries Pretorius hom genooi om plase in Voortrekkergebiede op te meet.

Teen die einde van 1856 het Andries en sy gesin met ‘n ossewa in Pretoria aangekom. In sy gereedskapskas was daar ‘n waterpas gemonteer op ‘n driebeen staander, ‘n skip se teleskoop, ‘n ketting met 50 metaal skakels en ‘n enkelpenkruishout.

Andries het 78 erwe, wat in die oop plein-gedeelte in Pretoria ontwikkel moes word, opgemeet. Dit het hom glo ‘n jaar geneem om te doen omdat ‘n erf eers opgemeet kon word as daar ‘n koper was.


Arcadiabrug met die meule regs oorkant die brug
Bron: Poskaart C1903; JH de Bussy

Eerste
Hy is op 2 Mei 1857 as die eerste landdros van Pretoria ingesweer en moes van die huis af werk omdat daar geen regeringsgeboue was nie. Hy is ook as Pretoria se eerste posmeester verkies.

Andries was ‘n man van eerstes in ou Pretoria en hy was die een wat munisipale regulasies opgetrek het – van watervoorsiening vir die dorp en die instandhouding van die watervoor wat by die Fonteine begin het tot die beheer van beeste, veral die osse wat uitgespan is en ‘n konstante waterbesoedelingrisiko was.

Hy het ook die eerste huwelik wat in Pretoria plaasgevind het bevestig toe Jacobus Abraham Botes met Christina Sagarian Johanna Beatrix du Preez getrou het.


Meintjes se huis met wit gekalkte mure, ‘n grasdak en stoep
Bron: Rosa Swanepoel-versameling

Andries het ‘n belangrike rol in die veldtog om Pretoria die hoofstad te maak gespeel en hy was betrokke by die skuif van die regeringsetel van Potchefstroom na Pretoria.

Al dié take het op die ouderdom van 45 jaar vir hom te veel begin word en hy het ZAR president Marthinus Wessel Pretorius vir toestemming gevra om sy pos te laat vaar. Andries het op 31 Desember 1859 bedank en ‘n stuk grond van die president gekry, glo in ruil vir ‘n Basoetoeponie, as ‘n soortvan goue handdruk vir al die dienste wat hy aan die jong dorp gelewer het.


Links op die foto is die meule wat deur water aangedryf word op die westelike oewer van die Apiesrivier. Regs is Stephanus Jacobus Meintjes se woonhuis
Bron: Rosa Swanepoel-versameling

Arcadia
Die stuk grond, wat Andries Arcadia genoem het, het van Du Toitstraat tot by die presidensie op Meintjeskop gestrek. Sekere bronne sê dat hy die plaas na die Griekse streek vernoem het, terwyl ander sê hy het dit na die Du Toit-familie se plaas, Arcadia, in die Kaapkolonie vernoem.

Arcadia was ‘n gedeelte van die ou plaas Elandsfontein, wat aan die president behoort het. Die deel rondom die Uniegebou het Andries uit die boedel van Gerrit Bronkhorst gekoop. In daardie stadium was Pretoria se grense by Boomstraat, Potgieterstraat, Scheiding en Du Toitstrate. Du Toitstraat is na Andries vernoem en was die grens tussen Pretoria en sy plaas Arcadia.


‘n Latere foto op dieselfde plek geneem. Die bome het baie groter geword
Bron: Rosa Swanepoel-versameling

Andries het sy huis aan die wesoewer van die Apiesrivier, naby Leeuwdrift wat later ‘Mill Drift’ genoem is, gebou. Hy het Arcadia in 82 erwe begin uitlê en sy deel van Elandspoort op 7 April 1865 aan Stephanus Jacobus Meintjes vir £2 400 verkoop.

Andries het Pretoria in 1871 verlaat om in Nazareth, wat op die punt gestaan het om Middelburg te word, te gaan woon. Hy is op 15 Augustus 1883 daar oorlede en begrawe.


Stephanus Jacobus Meintjes se seun Eddie het die meule later herbou en dit Arcadia Meule genoem
Bron: Rosa Swanepoel-versameling

Meintjes
Die Meintjes-gesin het in Andries se vroeëre woonhuis op die wes-oewer van die Apiesrivier oorkant die meule gaan woon. In die Meintjes-gesin se tyd het die drif deur die Apiesrivier Meintjesdrift geword.

Stephanus Jacobus Meintjes, wat van Graaff-Reinet na Pretoria gekom het, is op 19 Februarie 1819 gebore as die seun van Stephanus Jacobus Meintjes en Cecilia Magdalena, ‘n nooi Vorster. Hy is met Elizabeth Catharina Johanna Magdalena Schmidtz getroud.

Stephanus het ‘n prominente rol in baie sfere van Pretoria se geskiedenis gespeel. Hy was op die botaniese tuine se komitee, ‘n wykmeester met die beleg van Pretoria in die Eerste Vryheidsoorlog, en was ‘n prokureur en advokaat van die Transvaalse Hooggeregshof.


‘n Jong Johannes Hendrikus de Loor
Foto: Geni

Stephanus het in die 1890’s 650 erwe in Arcadia uitgelê. Daar word vandag daarna verwys as ou Arcadia, tussen Du Toitstraat en Beatrixstraat, wat na sy kleindogter Beatrix vernoem is.

Stephanus is op 13 Maart 1887 oorlede en sy seun, Edward Philip Arnold (Eddie) Meintjes, het die familiefortuin geërf.


Die gebou van De Loor’s Bakkery soos dit op hulle 1935 kalender verskyn het
Bron: Anton Jansen in die Maart 2011 uitgawe van ‘The Arcadian’

Meule
Die Meintjes-familie was vir ‘n geruime tyd die eienaar van die meule. Dit is eers Meintjes Meule en later Arcadia Meule genoem. Die eerste brug by die meule, Arcadiabrug, is eers ná Stephanus se dood, in Oktober 1888, voltooi. Dié brug het weggespoel. Die nuwe brug, Leeubrug, is op 22 Desember 1893 voltooi.

In ‘n stadium is daar geadverteer dat die meule vir die publiek oopgestel is en dat ’n brons-medalje op die Paryse tentoonstelling van 1889 verower is. In Longland van 1899 word dit nog Meintjes Meule genoem maar in Lochhead van 1913 praat hulle van Arcadia Meule.


De Loor’s se advertensie in die ‘Pretoriana’ van Julie 1953 (volume 2, no 4)
.
.

Die kennisgewing van Johannes Hendrikus de Loor se begrafnis in die Bouwmeester-huisversameling
Bron: Anton Jansen in die Maart 2011 uitgawe van ‘The Arcadian’

Die meule was aanvanklik op die wes-oewer en is later op die oos-oewer van die Apiesrivier herbou. Die tweede meule-gebou het later De Loor’s Bakkery geword en nog later Boerstra Bakkery.

Wat Pretorianers as G Boerstra en Seuns Bakkery leer ken het, is eers vanuit ‘n woonhuis op die hoek van Schoeman- en Schubartstraat bedryf. Die bakkery is in 1887 deur G Boerstra in ‘n kamer ingerig om as ‘n winkel te dien. Die bakoond was glo agter die huis en hy het brood en ander gebak te voet met ‘n stootkarretjie by klante afgelewer. Die Boerstras het omstreeks 1886 vanaf Sneek en Aalsmeer na Pretoria geïmmigreer.


Die bestuur van die Nederlandse Kamer van Koophandel in 1910 in Pretoria. Voor van links na regs: J Postmus, vise-voorsitter, F Knobel, konsul-generaal en voorsitter, en C de Roy. Agter: JW Gehle, penningmeester, J Lievaart, W van Wijk de Vries, sekretaris, B Haak en JH de Loor  
Foto: TAB 33481

De Loor’s
In die 1890’s het die De Loor-gesin die Wilhelmina Bakkerij in Bloedstraat gekoop. Johannes Hendrikus de Loor is op 23 September 1869 in Buren, Gelderland in Holland gebore. Hy was die seun van Anna en Hendrikus Adrianus de Loor en het met Barendina getrou.

Johannes en Barendina het hulle bakkery na Potgieterstraat geskuif en later na Eddie Meintjes se Arcadia-meule, waar Johannes die naam na De Loor’s Bakkery verander het. Hy het die voorsitter van die Meestersbakkersvereniging van Pretoria geword en sy seun, Barend, was later ‘n dosent in statistieke wetenskappe by die Transvaalse Universiteitskollege en professor by die Universiteit van Pretoria.

Johannes is op 14 Oktober 1929 oorlede en is in die Rebeccastraatse begraafplaas begrawe.


‘n Latere foto van die meule
Bron: Rosa Swanepoel-versameling

Ander
Die Meintjes se meule was nie die enigste een in ou Pretoria nie. Volgens Rosa Swanepoel se navorsing was daar ‘n meule by Daspoort, op die plek waar ‘n dam in ‘n sytakkie van die Steenovenspruit gebou is. Dié meule het aan HC Marais behoort en in 1876 het hy dit die ‘Afrikander Molens van Daspoort’ genoem.

In 1880 het die gedeelte wes van die Apiesrivier en noord van die Daspoortrand aan MJ Hermann behoort, wat sy opstal en meule gebou het waar die sementfabriek en koringmeule vandag in Hercules staan.

Waar die suidelike tennisbane van Bereapark later was, het daar voor 1890 ‘n meule gestaan. Die gebied was bekend as Du Preezhoek, tussen die Fonteinepad, Delagoabaai-spoorlyn en Willowweg, en is vernoem na Jan (Diknek) du Preez, ‘n vroeë intrekker van Pretoria.

Hy het sy opstal ook hier gebou en landerye, vrugtebome en ‘n beeskraal aangelê. Die watervoor van Du Preezhoek het die dryfkrag vir die meul verskaf.

Diknek se meule-gebou het later as limonadefabriek diens gedoen en rondom 1887 het die fabriek vermoedelik aan ‘n Jones behoort en E Budke was die bestuurder.

Pretoria se eerste stoommeule is in Januarie 1878 deur T Bond op sy erf in Pretoriusstraat oopgemaak. Bond het ook ‘n bakkery in Markstraat gehad, wat later deur die bakker Johannes van Rijn oorgeneem is.

Generaal Piet Joubert het ‘n meule op sy plasie in Sunnyside gehad. Sy huis was teen Mainstraat en sy tuin het tot aan die Apiesrivier gestrek. Daar was ‘n windmeule en oorkant die rivier was ‘n ou waterwiel van ‘n watermeule.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online