Kuier diep plattelands by dié Vlakvark PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 23 August 2016 20:22
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Vlak neffens die Boschkopteerpad en vlak oorkant die polisiestasie, sit die Vlakvark. Lank reeds ry ons sporadies hier verby met die voorneme om tog op ‘n dag die sitvlak by Vlakvark vir ‘n toetskuier neer te sit. Die dag doen hom op ‘n mooi Saterdag in die vroeglente voor.

Ek verkies ‘n plattelandse kuierplek om verskeie redes en dis gou duidelik dat dié Vlakvark so plattelands is as wat maar kan kom. Met die stilhouslag laat spaander ‘n span uitgevrete werfhoenders om vir ons in die koeltetjie van ‘n soetdoringboom plek te maak.


Die tema word oral kunstig uitgebeeld

‘n Vriendelike vrou heet ons met die intrapslag welkom en knoop soos ‘n ou kennis ‘n geselsie aan. Die slegte nuus is, sê vriendelik vrou, dat die krag af is – net toe die rugby moes begin, nogal, en toe sit amper al die kuiergaste af na elders om die rugby te kyk, maar party het toe darem later teruggekom. Die goeie nuus is dat hulle die meeste geregte op die gasbraaier kan maak, sê sy.

Die ruim kroegsaaltjie is op die laer vlak onder een van Baobab se rektente ingerig. Op die hoër vlak is nog ‘n uitspanplekkie ook onder ‘n rektent, maar net oper na die buitekant toe. Die gaste ‘wat teruggekom het’ in die kroegsaaltjie groet ons soos dit plattelanders betaam en ons loop sit by een van die langtafels aan.  

Metgesel is in haar noppies met die bakke ‘tjips’ wat op elke tafel staan en ek dink onwillekeurig aan iets wat oorlede ou Joël Kotze altyd gesê het: “Enigiets om dors te bly.” Sy bestel haar eerste koffie en sê later dat dit beter smaak en meer waardeer word by die wete dat die water langsaam oor ‘n gasvlam gekook moes word. Die bruisdrankie wat die ywerige kroegman/kelner vir my aanbring is yskoud, ondanks die kragloosheid.


‘n Mandjie met gekrummelde kos

Dis knus (amper warm) onder die tentdak. Deur die opening voor ons kyk ons uit op plotbome en die vaal winterveld. Vinkvoëls en mossies wedywer om ‘n voëlvoerder wat aan ‘n doringtak hang. Die geselsgeluide en lag van kuiermense, rustige duifroepe, ’n gans wat af en toe blaas en die tevrede geluide wat skrophoenders mos maak, is al wat ons hoor en wil hoor. Ek wonder of dit dalk bederf word met raasmusiek as die krag aan is?

Die spyskaart is eentalig Engels en ek verstaan nie hoekom nie. Dis tog immers Die Vlakvark en nie The Shallow Pig nie. Twee van die ontbytkeuses is wel nie volledig na Engels oorvertaal nie: ‘Vlakvark met tande breakfast’ en ‘Barkvallas breakfast’. Drie verbuigings van Engelse ontbyte is beskikbaar met Franse roosterbrood en omelette vir afwisseling. Ontbyt kos tussen R42 en R60.

‘n Hamburger met uie, blare, tamatie en Vlakvark se ‘spesiale sous’ word saam met skyfies voorgesit en kos R42. Een met kaas kos R48 en een met twee burgerfrikkadelle weeg in teen R55.

Jy kan ‘n mandjie bestel met ‘n keuse van vier happies en dis wat Metgesel doen. Sy kies hoendervlerkies, hoenderrepies, gekrummelde sampioene en jalapeno ‘poppers’. Die drie ander keuses is ribbes, ‘Russian’ en kaasworsies. Alles in Metgesel se mandjie is gekrummel en dit geval haar.

Soms dink ek jy kan ‘n stukkie hout met krummels bedek en Metgesel sal daarvan hou. Die mandjie kom saam met skyfies en kos R89.


Gesellige kuier in die kroegsaaltjie

Van die ander items op die Vlakvark se ‘menu’ is boereworsbroodjie met skyfies of pap en sous
– R35, twee varktjops met  dieselfde – R73, Pregobroodjie – R45, pap en vleis – R30, pap en hoenderlewers – R30 en die meer eksotiese keuse van ‘bunny chow’ teen R42.

Ek bestel die T-been van 500 g met pap en sous en ek vra die ywerige kroegman/kelner vir ‘medium to rare’, want sy naam is Wells en hy is die enigste ou wat Engels praat in die plek vandag. Die dis is vandag op ‘special’ en teen R90 kry jy ook ‘n gratis bier op die koop toe.

Die stomme T-been wat later saam met die pap en baie lekker, pikante sheba-sous aankom, is nader aan geoffer as aan gebraai. Dit is allermins amper-rou, soos wat ek gevra het, maar eerder oorgaar en tot net duskant kurk gemartel. Die beeshaaskant kon ek darem baasraak.

Net voor jy die Vlakvark dalk wil vlakvat, moet ek meld dat vriendelike vrou dadelik ‘n nuwe, verbeterde T-been aangebied het toe ek haar op die toedrag van sake wys. Ek het dit van die hand gewys oor ek genoegsaam aan die pap en sous meegedoen het en kon om dieselfde rede ook nie die geld-terug-aanbod aanvaar nie.

Loop draai gerus by die Vlakvark vir ‘n genoegsame plattelandse kuierervaring. Jy kan hulle bel by 012-941-1545.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online