Hoekom is Tweedracht geteiken? PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Tuesday, 23 August 2016 20:17
Untitled Document

Die Tweedracht-gemeenskap is geruk na die onlangse aanvalle in die omgewing. Weereens is die oud en weerloos geteiken. Na ondersoek is gevind dat sekere faktore moontlik bygedra het tot die voorvalle. Ek hoop opreg dat die gemeenskap die volgende ter harte sal neem en poog om hieruit te leer.

Voor die aanvalle was Tweedracht nie as ’n probleemgebied beskou nie. Die inligting is verkry uit die SAPD databasis wat gevoer word deur die aanmelding van alle misdade. Uit die databasis kan die Boschkopse polisiestasie analises doen om te sien waar probleemgebiede is en dan stappe daar neem. Ekstra patrollies kan gereël word, ekstra polisie-hulp uit naburige stasies kan verkry word en die hulp van sekuriteitsmaatskappye kan ook ingespan word.

Ná die aanvalle het dit aan die lig gekom dat Tweedracht talle diefstalle gehad het, dat heinings geknip is en dat daar ander kleiner misdade was. Die probleem hier is dat die gemeenskap nie die voorvalle by die polisie gerapporteer het nie en dat dit dus nie in die databasis gevoer kon word nie.

Dit blyk dat party van die inwoners glo dat as die voorval by MZT of Conserv aangemeld word, dit voldoende is. Dit is nie die geval nie. Voorvalle wat net aan die gemeenskapsveiligheidsinstansies oorgedra word, word nie in die polisie se databasis opgeneem nie.

Die publiek moet self met die SAPD skakel, die voorval aanmeld en ’n saaknommer as verwysing kry. Weens prosedure kan inligting van MZT of Conserv nie in die amptelike SAPD databasis opgeneem word nie.


Adjudant-offisier Wynand van der Merwe, SAPD Boschkop

Hierdie geld vir al die gebiede, nie net Tweedracht nie. As die publiek voorvalle aanmeld by die polisie kan die data ook gebruik word om ekstra mannekrag en voertuie te verkry. Sonder die statistieke is daar geen motivering vir die aanvra van ekstra hulpbronne nie.

Die volgende is ook gevind op altwee Tweedracht-tonele: Geen of swak omheining, hekke wat oopstaan, geen honde en swak buite-beligting. Dit is nie te sê jy moet jou volle plot met veiligheidsomheinings toespan nie. Dit is te verstane dat dit ’n astronomiese bedrag is om dit te doen, maar die gebied om die woonhuis moet verkieslik veiligheidsomheinings hê en hekke moet toe wees en gesluit gehou word om ingang vir oortreders te bemoeilik. Die aanhou van waghonde en of klein honde binne-in die woning is ook ’n afskrikmiddel en vroeë waarskuwingstelsel.

Al was altwee aanvalle in die dag, bly goeie buite-beligting ook ’n groot moet. Ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie: Sou daar geraas of oortreders buite jou woning wees, moet asseblief nie uitgaan en dit self probeer behartig nie.

Die meeste noodlottige voorvalle gebeur juis as die inwoner sy huis verlaat en uitgaan. Bel die polisie of die sekuriteitsmaatskappye vir hulp.

Onthou, jou prioriteit is om jou en jou gesin se lewe te beskerm. Aardse items kan weer verkry word maar ’n lewe is kosbaar en onvervangbaar.

Meld asseblief alle voorvalle van misdaad aan al dink jy self dit is tydmors of nie belangrik nie.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online