Ook plek vir die dom seun . . . PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 23 August 2016 20:14
Untitled Document

Buks Barnard sê hy het dié staaltjie vir die waarheid en uit die perd se bek gehoor, maar hy kan om te dood net nie onthou wie die perd was nie.

Die storie lui dat daar in die goeie ou dae iewers op ‘n dorpie in die Noord-Kaap ‘n onderwyser was wat baie daarvan gehou het om gereeld snags skelmpies ‘n springbok of wat te gaan skiet.

As ‘n mens so eenkant van die wet werk, is dit wys (het die onderwyser gedink) om bevriend met die polisie te bly, want jy kan net dalk iewers ‘n bietjie geregtelike meegevoel nodig kry. Daarom het hy maar by elke moontlike geleentheid by elke moontlike polisieman gekruip – vandag noem hulle dit ‘ge-netwerk’, sê oom Buks.

Toe dit rugbaar word dat die destydse eerste minister, Jan Smuts, ‘n toespraak op die dorpie sou kom hou, het die onderwyser dadelik die geleentheid gesien vir verdere netwerk (kruipwerk) onder die dorpie se paar polisiemanne. So belowe hy die geregsdienaars plegtig dat hy Smuts oor die polisie se swak salarisse sal pak en aandring daarop dat hulle voortaan beter betaal moet word.

Ná Jan Smuts se toespraak in die skoolsaal vra hy, soos gebruiklik, of enigiemand ‘n vraag aan hom wil stel en die onderwyser spring summier op: “Hoekom kry die arme polisiemanne so min geld?”

Smuts dink ‘n bietjie na en antwoord: “Dit is ‘n baie goeie vgaag.” (Hy het gebgy, maar ter wille van vloeiendheid, help ons oom Jannie hierna reg met die uitspraak.) “Ek is bly jy vra daardie vraag.”

“Kyk, ons boere het almal groot gesinne. Die plase is te klein dat elke seun grond kan erf, daarom moet party van die seuns uitspring om ‘n ander heenkome te kry. Die oudste seun boer saam met sy pa en erf gewoonlik die plaas. Die slimste een word gestuur om te gaan leer vir ‘n prokureur of ‘n predikant of ‘n dokter of ‘n ding en die ander gaan leer ‘n ambag of gaan werk by die koöperasie of iewers.

“Maar in elke gesin is daar gewoonlik ‘n dommerige seun wat eintlik nêrens deug nie – ‘n goeie, eerlike kind, maar nie eintlik te ryklik met verstand bedeel nie.

“Nou vat ons hierdie goeie, hardwerkende, eerbare seun en ons gee hom ‘n plekkie in die polisiemag.

Ons lei hom op en ons gee hom ‘n uniform en ‘n huisie en ‘n heenkome sodat hy ook ‘n rol in die samelewing kan speel en ook ‘n gesinnetjie kan begin.

“Nee wat, ek dink ons doen heeltemal genoeg vir die polisiemanne en hulle kry heeltemal genoeg geld”.

Dit haal toe die wind effens uit die onderwyser se seile en hy vra: “En die onderwysers? Hoekom kry die onderwysers so min geld?”

Rustig antwoord Smuts: “Dit is ‘n baie goeie vraag. Ek is bly jy vra daardie vraag. Kyk, ek het nou net gepraat oor hoe ons in die polisie ‘n geleentheid gee vir die dommerige seun in die gesin. Maar veronderstel nou daardie seun is té dom om ‘n polisieman te word . . .”

Die uitlatings in dié rubriek weerspieël nie noodwendig die mening van ou Poon nie.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online