Diere word geskiet, vergiftig en in strikke gevang PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 23 August 2016 20:12
Untitled Document

Die aantal diere wat geskiet, vergiftig en in strikke gevang word in die Rayton/Cullinan-omgewing neem toe. Volgens Dewaal Venter van die Cullinan Bewarea is dit net ‘n kwessie van tyd voor daar nie meer wilde diere op vrye voet in dié gebied is nie.

Dewaal Venter is ’n natuurliefhebber wat vrywilliglik wilde diere in die gebied rehabiliteer en terugplaas in die natuur as hulle beseer is.

“Net op ons eiendom het ons 14 strikke gevind en vernietig. Let wel dat ons ook geen werkers op die eiendom het nie. Ek wens dat elke persoon wat strikke stel en net links en regs skiet vir die pret, die pyn en ook die dankbaarheid in elke dier wat ons behandel het se oë kon sien. Ek glo baie mense voel dieselfde en dink dis nou tyd dat ons iets hieraan begin doen,” sê Dewaal.


Dewaal Venter

Hy sê dat strikke ‘n wrede en pynlike doodmaakproses is wat ‘n dier vir dae lank kan laat ly. Dié diere gaan dood aan ‘n kombinasie van spanning, honger, erge beserings, pyn en infeksie. Diere wat ontsnap is gewoonlik erg beseer en gaan in elk geval aan infeksie dood.

Met die toename in werkers op plase en onwettige immigrante is dit moeilik om die stel van strikke stop te sit. Kyk gereeld na jou grensdrade vir strikke en maak seker dat werkers geen strikke op jou eiendom stel nie.

Diere wat Dewaal onlangs met skietwonde gevind het strek van blouape tot ‘n jakkals, duiker en gevlekte ooruil. Dié diere het gely aan erge inwendige beserings en loodvergiftiging en het ledemate verloor.


Die tarentaal se been is deur ’n wip beseer

Die kwessie van jag en die uitwis van ‘probleemdiere’ is ‘n baie sensitiewe onderwerp in ‘n plaasgemeenskap. Dewaal sê dat daar geen wet is om die skiet van sogenaamde ‘pesdiere’ soos jakkalse, ystervarke, blouape en bosvarke stop te sit nie. Tog speel elkeen van dié diere ‘n enorme rol in die ekologie van die gebied. “Die verlies aan vee is ‘n gegewe, maar verantwoordelike bestuur is die sleutel,” sê hy.

In vergelyking met 15 jaar gelede is daar ‘n groot afname in vrylopende wild in die Rayton/Cullinan-gebied en Dewaal sê dit kan direk gekoppel word aan die vervolging van ‘probleemdiere’ en diere wat doodgery word.


Die vlakvark is dood danksy ‘n wip

Dit lyk vir hom asof die boerdery versus probleemdier situasie die afgelope ruk net ‘n verskoning is vir die persoonlike plesier van jag.

Hy sê dat mense op die plaas kom kuier vir die rus en vrede. Hulle geniet dit om rondom ‘n kampvuur te sit met die geluide van jakkalse en ander nagdiere in die agtergrond of om ‘n duikertjie te sien as hulle gaan ry.


Een van die strikke wat Dewaal gevind het

“Ons moet trots wees hierop en elke moontlike poging aanwend om dié voorreg te bewaar. Voor ons weet sal dit weg wees as ons niks doen nie.”

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online